Romeinse Ryk
| |||||
| |||||
Leuse: senatvs popvlvsqve romanvs (Latyns vir: "Die Senaat en Volk van Rome") | |||||
Die Romeinse Ryk in sy grootste uitbreiding in 117 onder keiser Trajanus. | |||||
Hoofstad | Rome (286 v.C.-330) Konstantinopel (330-476) | ||||
Taal/Tale | Latyn en Grieks | ||||
Godsdiens | Romeinse mitologie (tot 380) Christendom (ná 380) | ||||
Regering | Monargie | ||||
Wetgewer | Senaat | ||||
Historiese tydperk | Antieke | ||||
- Augustus Octavianus word keiser | 27 v.C. | ||||
- Troonafstand van Romulus Augustulus | 476 | ||||
Oppervlakte | |||||
- 117 | 5 000 000 km2 1 930 511 sq mi | ||||
Bevolking | |||||
- 117 skatting | 88 000 000 | ||||
Digtheid | 17,6 /km² 45,6 /sq mi | ||||
Geldeenheid | denarii = 100 bronze sesterces = 400 copper asses |
Stigting van Rome |
Die term Romeinse Ryk (Latyns: IMPERIVM ROMANVM) verwys na die gebied wat tussen die 6de eeu v.C. en die 5de en 6de eeu n.C. deur die stad Rome oorheers is. Sy politieke bedeling het met verloop van tyd van 'n monargie in 'n republikeinse bedeling en uiteindelik in 'n keiserryk verander. Die Romeinse Ryk het ongeag die verskeidenheid van sy volke, tale en godsdienste tot 'n gemeenskaplike staat, lewensvorm en universele staatsidee ontwikkel, wat as 'n imperium sine fine ("'n ryk sonder grense") gedefinieer is.
Die Romeinse Ryk het sy grootste uitbreiding onder die heerskappy van keiser Trajanus bereik en destyds oor drie vastelande gestrek: die Mediterreense gebiede rondom die Middellandse See, Gallië, groot gedeeltes van Brittanje en die gebiede rondom die Swartsee. Rome het sodoende die meeste van die gebiede oorheers wat destyds in die Mediterreense wêreld bekend was.
Handel, kuns en kultuur het in die tydperk van die Romeinse Ryk in baie van sy gebiede 'n eerste bloeitydperk beleef en die lewensgehalte, die vlakke van geletterdheid en die bevolkingsyfers het eeue lank ongeëwenaar in Europa gebly.
Die Romeinse Ryk het 'n groot kulturele en taalkundige invloed op die gebiede binne en oorkant sy grense uitgeoefen. Terwyl die weste van die ryk gelatiniseer is, het die Romeinse invloed in die oostelike gebiede met Grieks-Hellenistiese en Oosterse elemente vermeng.
Latyn, die inheemse taal van die stad Rome en sy omgewing (die gewes Latium, wat ook sy naam aan die taal gegee het), het die amptelike taal van die ryk geword, maar gedeeltelik ook elemente van ander tale bewaar. Die taal van die Romeine is in Europa nog baie eeue ná die ondergang van die Romeinse Ryk tot in die barok-tydperk as 'n wetenskaptaal gebruik. In die Rooms-Katolieke Kerk het Latyn tot met die Tweede Vatikaanse Konsilie die taal van die mis gebly. Baie wetenskappe, soos geneeskunde en biologie, gebruik en skep nog steeds (Grieks-)Latynse vakterme.
Uit die Latynse taal het uiteindelik die moderne Romaanse tale van Europa ontwikkel, waarvan Italiaans, Frans, Spaans, Portugees, Katalaans en Roemeens die belangrikstes is. Baie Latynse leenwoorde is deur Germaanse en Slawiese tale oorgeneem.
Die Romeinse reg het 'n groot invloed op die moderne reg, veral die privaatreg, uitgeoefen.
Sien ook
Eksterne skakels
- Die Romeine in Libië
- Narrative timeline of Roman history at Roman-Empire.info
- Historical Atlas showing the expansion of the Roman empire
- Roman-Empire.net, learning resources and reenactments
- Die Romeinse Ryk in die eerste eeu PBS
- Die Romeinse Ryk United Nations of Roma Victrix
- The Romans