Aliwal-Noord
Aliwal-Noord | |
---|---|
Die ou Poskantoor van sandsteen gebou. | |
Koördinate: 30°42′S 26°42′O / 30.700°S 26.700°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Oos-Kaap |
Distrik | Joe Gqabi |
Munisipaliteit | Maletswai |
Stigting | 1849 |
Oppervlak | |
• Totaal | 39,5 km2 (15,3 vk. myl) |
Hoogte | 1 328 m (4 357 ft) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 35 153 |
• Digtheid | 890/km2 (2 300/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 5.7% |
• Indiërs/Asiërs | 0.2% |
• Bruin mense | 8.5% |
• Swart mense | 85.2% |
• Ander | 0.3% |
Taal (2011) | |
• Xhosa | 58.1% |
• Sotho | 23.0% |
• Afrikaans | 14.8% |
• Engels | 2.3% |
• Ander | 1.8% |
Poskode (strate) | 9750 |
Poskode (posbusse) | 9750 |
Skakelkode | 051 (-633- / -634-) |
Aliwal-Noord is 'n dorp in die Oos-Kaap, Suid-Afrika en die setel van die Maletswai Plaaslike Munisipaliteit. Die bevolking van die dorp insluitend Dukathole township tel 35 153 in 2011. Die dorp is bekend vir sy twee warmwaterbronne, wat daagliks meer as twee miljoen liter water teen 'n temperatuur van sowat 35° C oplewer.[2] 'n Dorpsmuseum behandel die plaaslike geskiedenis. In 1869 is die grensooreenkoms tussen die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat en Basoetoland (die huidige Lesotho) hier onderteken.
Geografiese besonderhede
Die dorp is geleë op die suidelike oewer van die Oranjerivier en is 206 km suid van Bloemfontein op die N6 nasionale hoofpad. Die Kraairivier sluit by die Oranjerivier aan net noordoos van die dorp. Suidwes van die dorp lê Kramberg wat tot ongeveer 2000 m bo seespieël ryk.
Die sakekern en middedorp word omring deur die volgende woonbuurte: Dukathole, Hilton, Joe Gqabi, die Bronne (waar die bekende Aliwal Spa geleë is) en Arborsig. Vele inwoners en personeel van die Goedemoed Korrektiewe Dienste-fasiliteit (geleë aan die Vrystaatse kant van die Oranjerivier) gebruik ook gereeld die dorp se ondernemings, hospitaal, kerke en skole.
Die dorp word met naburige dorpe verbind deur 'n goeie padstelsel, en dien as deurgang vir toeriste op pad na oorde in die Oos-Kaapse Drakensberge. Die spoorwegstasie het gesluit, hoewel daar nog by geleentheid goederetreine aankom wat vrag vervoer na die groot rollermeul in die nywerheidsgebied. 'n Goeie vliegveld met drie grasbedekte aanloopbane bedien die dorp.
Geskiedenis en Kerke
Ontstaansgeskiedenis
Die dorp is aangelê op die plaas Buffelsvallei, wat behoort het aan Pieter Jacobus de Wet, die eerste persoon wat hom permanent hier kom vestig het. De Wet en sy familie is begrawe op die rantjie naby die oorspronklike woonhuis en 'n monument is later deur die familie opgerig ter nagedagtenis aan die "stigter" van die dorp.
Aliwal-Noord is so genoem na aanleiding van die oorwinning wat sir Harry Smith, die destydse goewerneur, oor die Sikhs in die slag van Aliwal in Indië behaal het voor hy na die Kaap gekom het. Daar was nog 'n dorp in Suid-Afrika wat die naam "Aliwal" gedra het, maar dit het nie lank Aliwal-Suid geheet nie en vandag staan dié dorp weer onder sy ou naam bekend, naamlik Mosselbaai.
Die Tweede Vryheidsoorlog
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is 'n konsentrasiekamp net oos van die dorp in die bog van die Kraairivier aangelê. Daar kan ook drie sandsteen blokhuise uit die oorlogtyd in die dorp gevind word. 'n Aantal blokhuise van sandsakke en sink is ook hier opgerig, maar hulle het verwaarloos en is later vernietig. Die oorgang by die rivier tussen die Kaapkolonie en die Vrystaat was van groot belang vir die Engelse in hulle stryd teen die Boeremagte en daarom was die dorp swaar bewaak tydens die oorlogstyd.
Vandag kan verskeie monumente om die oorlog te gedenk in en om die dorp gevind word. By die suidelike uitgang van die dorp is 'n gedenktuin om die Boeremagte en hulle rol in die oorlog te gedenk. By een van die genoemde blokhuise is 'n gedenkteken en die grafte van 'n hele aantal Engelse soldate wat in die oorlog gesterf het. Naby die Kraairivier is 'n gedenksteen opgerig wat die plek aandui waar die konsentrasiekamp was. Die stoflike oorskot van die inwoners van die konsentrasiekamp is by die Gedenktuin herbegrawe.
Aliwal-Noord vandag
Klimaat
Aliwal-Noord ontvang gemiddeld 533 mm reën per jaar, meestal gedurende die somermaande.
Gemiddelde dagtemperature wissel van 15,6 °C in Junie tot 29,7 °C in Januarie. Die omgewing is die koudste in Julie wanneer die kwik gemiddeld val tot -2 °C gedurende 'n wintersnag.[3] Die rekordlaag van -9 °C is op 'n nag in Julie 2009 aangeteken.
Weergegewens vir Aliwal-Noord | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Gemiddelde maksimum (°C) | 30 | 29 | 26 | 22 | 18 | 16 | 16 | 18 | 22 | 24 | 27 | 29 | 23 |
Gemiddelde temperatuur (°C) | 21 | 21 | 18 | 15 | 10 | 7 | 7 | 10 | 13 | 16 | 18 | 20 | 14 |
Gemiddelde minimum (°C) | 14 | 14 | 11 | 7 | 3 | −1 | −2 | 1 | 5 | 7 | 10 | 12 | 7 |
Laagste minimum (°C) | 2 | 3 | 0 | −6 | −8 | −8 | −9 | −8 | −7 | −1 | 0 | 2 | −9 |
Neerslag (mm) | 76 | 84 | 83 | 48 | 27 | 13 | 10 | 16 | 23 | 40 | 54 | 61 | 533 |
Bron: weatherbase |
Opleidingsinstansies
Benewens 'n groot aantal hoër- en laerskole in die dorp, is daar ook 'n tak van die Ikhala FET-kollege wat naskoolse opleiding in verskillende rigtings verskaf.
Sportklubs en -fasiliteite
Aliwal-Noord beskik vandag oor 'n hele aantal aktiewe sportklubs met baie goeie fasiliteite.
- Atletiekstadion, wat ook vir rugbywedstryde gebuik word
- Gholfklub
- Rolbalklub
- Twee rugbyklubs
- Snoekerklub
- Tennisklub
- Twee hengelklubs
- Vegkunsklub
- Vliegduifklub
Toerisme
Aliwal-Noord is bekend om sy twee warm minerale bronne en albei lewer water van 34 °C met buitengewoon hoë konsentrasies minerale en gasse.
Die warmbron en ontspanningsoord, Aliwal Spa, is geleë in die munisipale gebied. Sedert 2010-2014 ondergaan die eens pragtige oord se swembaddens en terrein opknappings deur die Maletswai Plaaslike Munisipaliteit.
Bekende boorlinge
- Bennie Osler (* 23 November 1901), 'n Springbokrugbyspeler in 1924-1933.
- Leon Vogel (* 22 Oktober 1949), Springbokrugbyspeler in 1974.
- François Steyn (* 14 Mei 1987), Springbokrugbyspeler sedert 2006.
- Dr. Ferdinand Postma, teoloog.
- Ds. Dirk Postma, 'n leier in die Gereformeerde Kerk.
- Hannes van Wyk, akteur.
- Nicolaas de Wet, kabinetsminister.
Fotogalery
-
Aliwal-Noord se ingang vanaf die R58 gesien.
-
Genl Hertzogbrug (1937) vanaf die Oranjerivier gesien.
-
Die Frerebrug is op 21 Julie 1880 geopen.
Sien ook
Vrystaat: Bethulie 88 km | Smithfield 67 km Vrystaat: Rouxville 38 km |
Vrystaat: Zastron 67 km Sterkspruit 80 km, Telebrug op Lesothogrens |
||
Oos-Kaap: Venterstad 100 km | Lady Grey 54 km | |||
Aliwal-Noord | ||||
Burgersdorp 58 km | Jamestown 56 km Queenstown 162 km |
Barkly-Oos 107 km |
Verwysings
- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 Som van die hoofplekke Aliwal-Noord en Dukathole tydens die 2011-sensus.
- ↑ Nuusbrief van die Oos-Vrystaat Kaap Koöperasie (OVK) 20 Maart 2011
- ↑ http://www.saexplorer.co.za/south-africa/climate/aliwal_north_climate.asp