Gaan na inhoud

Gereformeerde kerk Rustenburg

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur Morne (besprekings | bydraes) op 17:53, 14 April 2015 (Nuwe bladsy geskep met 'regs|160px|thumb|Ds. [[Dirk Postma, leraar van 1859 tot 1866.]] duimnael|regs|160px|Ds. [[Jan Lion Cachet, ler...')
(verskil) ← Ouer weergawe | bekyk huidige weergawe (verskil) | Nuwer weergawe → (verskil)
Ds. Dirk Postma, leraar van 1859 tot 1866.
Ds. Jan Lion Cachet, leraar van 1868 tot 1869.
Ds. Dirk Postma jr., leraar van 1897 tot 1905.
Ds. Louis Petrus Vorster, leraar van 1905 tot 1920.
Ds. David Nicolaas Gerhardus Kotze, leraar van 1921 tot 1946.
Ds. L.J. du Plessis, leraar van 1872 tot 1880.

Die Gereformeerde kerk Rustenburg is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) omdat dit Februarie 1859 die eerste gemeente van dié kerkverband was dat ds. Dirk Postma, die grondlegger van die GKSA, in Suid-Afrika gestig het.

Die gemeente is gestig omdat ’n groot gedeelte van die Rustenburgse Voortrekkers ontevrede was met die kerklike toestand wat destyds hier bestaan het. Die Nederduitsch Hervormde Kerk was die enigste Hollandse kerk in die omgewing. Ds. [[Dirk van der Hoff] was hul predikant. Die ontevredenes het toe pogings aangewend om van die Christelike Afgeskeidene Gereformeerde Kerk in Nederland ’n predikant te kry wat suiwer in sy leer was. Dit het daartoe aanleiding gegee dat ds. Dirk Postma deur sy Kerk hierheen gestuur is. Hy het, nadat hy aan die Kaap vertoef het, einde 1858 hier aangekom. Eers was die Hervormde Kerk bereid om hom as leraar van die gemeente Rustenburg te erken en hom sy diens vry te laat uitoefen. Op 10 Januarie 1859, toevallig ook ds. Postma se 41ste verjaardag, is egter op ’n algemene kerkvergadering op Pretoria besluit "dat de Kerk alhier bestaande is de Ned. Hervormde Kerk, die benevens het boek der Psalmen ook het Evangelische Gezangboek bij die Kerk in gebruik als een erkend kerkelijk boek heeft aangenomen, en daarvan bij den openbaren Godsdienst gebruik maakt. Die kerkelijke inrichting, maar ook niets meer, wenscht de vergadering bovengenoemd dat hier zal in stand blijven."

Met hierdie besluit kon ds. Postma en baie wat van dieselfde sienswyse was, hulle nie vereenselwig nie. Daarop rig toe 15 manslidmate ’n skrywe, gedateer 11 Januarie 1859, aan die bogenoemde kerkvergadering dat hulle uit die kerkgemeenskap van die Hervormde Kerk tree en as ’n Gereformeerde Kerk wens te bestaan, "overeenkomstig de leer, tucht en dienst der vaderen, zooals die zich te Dordrecht in de jaren 1618 en 1619 hebben geopenbaard in hunne Nationale Synode".

Daar is toe besluit om op 10 Februarie 1859 ’n algemene vergadering te hou van diegene wat hulle beswaard teen die Ned. Herv. Kerk gevoel het. Omdat die kerkgebou van die Ned. Herv. Kerk op Rustenburg, hoewel eers deur ds. Van der Hoff vir die vergadering afgestaan, later geweier word, en hier geen ander geskikte gebou was nie, het die mense op die ooreengekome datum onder ’n groot seringboom vergader, wat ongelukkig later jare afgekap is. Meer as 300 mense het hul name opgegee as lidmate van die nuwe gemeente. Toe hulle op die 11de weer bymekaarkom, het ds. Postma plegtig verklaar "de bediening van Herder en Leeraar op te nemen in den Naam en Kracht des Heeren". Ouderlinge en diakens is toe gekies en bevestig. Op die stigting van die gemeente Rustenburg, het spoedig dié van die gemeentes Pretoria en Rustenburg gevolg.

Nie lank daarna nie het ds. Postma uitnodiging van die Oranje-Vrystaat en Kaapkolonie ontvang van mense wat ook begerig was om by die Gereformeerde Kerk aan te sluit. Sy besoeke aan die Vrystaat en Kaapkolonie het tot gevolg gehad dat ook op Reddersburg, Burgersdorp, Colesberg, Middelburg en later ook op ander plekke Gereformeerde kerke gestig is.


Leraars

  • Postma, Dirk, 1859 - 1866.
  • Lion-Cachet, Jan, 1868 - 1869.
  • Du Plessis, Lodewicus Johannes, 1872 - 1880.
  • De Ridder, Johannes, 1880 - 1896.
  • Postma, Dirk (D-Sn), 1897 - 1905.
  • Vorster, Louis Petrus, 1905 - 1920.
  • Kotze, David Nicolaas Gerhardus, 1921 - 1946.
  • Van der Walt, Dirk Jacobus, 1947 - 1951.
  • De Wet, Johannes Marthinus, 1952 - 1957.
  • Venter, Petrus Johannes, 1957 - 1979.
  • Smit, Cornelis Johannes, 1979 - 1986.
  • Van Wyk, Gert Jacobus, 1987 - hede.
  • De Beer, Pieter Gert Wessel, 1989 - 2004.
  • Venter, Jacobus Johannes, 1997 - hede.
  • Smit, Johannes, 2007 - 2010.
  • Robinson, Cobus-Brahm, 2011 - 2014.

Bronne

  • (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
  • (af) Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad, Johannesburg: Suid-Afrikaanse Boeksentrum.