Gaan na inhoud

Batoe Khan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur Artanisen (besprekings | bydraes) op 19:24, 29 Mei 2023 (Batu Khan on the Throne by Rashid al-Din.jpg)
(verskil) ← Ouer weergawe | bekyk huidige weergawe (verskil) | Nuwer weergawe → (verskil)
Batoe
Khan, tsaar
Batoe Khan op die troon van die Goue Horde.
Dinastie Bordjigin, Goue Horde
Bewind 1227–1255
Kroning 1224/1225 of 1227
Gebore 1207
Mongolië
Gesterf 1255 (op 47–48 jaar)
Sarai Batoe
Voorganger Djotsji
Opvolger Sartaq
Gade Boraktsjin Khatoen
Vader Djotsji

Batoe Khan (Mongools: Бат хаан, Russies: хан Баты́й, Chinees: 拔都, Tataars: Бату хан; omstreeks 1207–1255), ook bekend as Sain Khan (Mongools: Сайн хаан, Goeie Khan) en tsaar Batoe,[1] was ’n Mongoolse heerser en die stigter van die Oeloes van Djotsji (of Goue Horde), die sub-khanaat van die Mongoolse Ryk. Batoe was die seun van Djotsji en kleinseun van Djengis Khan. Sy oeloes was die hoofstaat van die Goue Horde, wat sowat 250 jaar lank oor die huidige Rusland, Oekraïne, Moldowa, Kasakstan en die Kaukasus geheers het nadat hy ook die leërs van Pole en Hongarye verslaan het. Ná die dood van Djengis Khan se seuns het Batoe die mees gerespekteerde prins geword, wat agha ("ouer broer") genoem is in die Mongoolse Ryk.

Vroeë jare

[wysig | wysig bron]

Ná die dood van sy seun Djotsji het Djengis Khan Djotsji se erfenis aan sy seuns gegee. Die Groot Khan het Batoe egter die khan van die Oeloes van Djotsji gemaak. Djotsji se oudste seun, Orda Khan, het ook saamgestem dat Batoe hul pa moet opvolg. Djengis se jongste broer, Temüge, het die kroningsplegtigheid bygewoon as Djengis se amptelike verteenwoordiger.[2] Toe Djengis in 1227 sterf, het hy 4 000 Mongoolse mans aan Djotsji se familie nagelaat. Djotsji se grond is tussen Batoe en sy ouer broer, Orda, verdeel. Orda se Wit Horde het geheers oor rofweg die gebied tussen die Wolga en die Balchasj-meer, terwyl Batoe se Blou Horde oor die grondgebied wes van die Wolga regeer het.

In 1229 het Ögedei drie leëreenhede onder Kuchdei en Soendei gestuur om die stamme aan die Laer-Oeralrivier te verower. Batoe het by Ögedei se militêre veldtog aangesluit teen die Jin-dinastie in Noord-China terwyl sy jonger broer in die weste teen die Basjkirs, Koemane, Protobulgare en Alane geveg het. Ondanks groot weerstand van hul vyande het die Mongole groot stede van die Jurge verower en die Basjkirs hul bondgenote gemaak. In die 1230's het Ögedei grond in Shanxi, China, gegee aan Batoe en die familie van Djotsji.

Verowering van Kiëf-Roes

[wysig | wysig bron]
Soldate van die Goue Horde brand Soezdal af.

Ná die oorlog teen die Jin-dinastie het Batoe se oom die Groot Khan Ögedei hom gelas om westerse gebiede te verower. In 1235 het Batoe, wat vroeër in bevel was van die verowering van die Krim-skiereiland, ’n leër van moontlik 130 000 man gekry vir die inval in Europa. Sy neefs Güyük, Büri, Möngke, Khulgen, Khadan en Baidar en die Mongoolse generaals Soeboetai, Boroldai en Menggoeser is deur Ögedei gelas om hom te help. Die leër, wat eintlik deur Soeboetai aangevoer is, het die Wolga in 1326 oorgesteek en Wolga-Bulgarye ingeval. Dit het hulle ’n jaar geneem om die weerstand van die Wolga-Bulgare, Kiptsjake en Alane af te breek.

In November 1237 het Batoe Khan afgevaardigdes na die hof van Joeri II van Wladimir gestuur en geëis dat die prins trou aan hom sweer. Toe Joeri weier, het die Mongole Rjazan beset. Ná ’n bloedige geveg van ses dae is die stad geheel en al verwoes, en dit is nooit weer tot sy destydse glorie herstel nie. Joeri het sy seuns gestuur om die horde te keer, maar hulle is verslaan. Nadat die horde Kolomna en Moskou afgebrand het, het hulle Wladimir op 4 Februarie 1238 beleër. Drie dae later het hulle die hoofstad van Wladimir-Soezdal verower en tot die grond afgebrand. Die grootprins se gesin het in die brand omgekom, terwyl hy noordwaarts gevlug het. Nadat hy die Wolga oorgesteek het, het hy ’n nuwe leër op die been gebring wat op 4 Maart heeltemal deur die Mongole uitgewis is.

Batoe Khan het hierna sy leër in kleiner eenhede verdeel wat 14 stede van Kiëf-Roes geplunder het: Rostof, Oeglitsj, Jaroslawl, Kostroma, Kasjin, Ksnjatin, Gorodets, Halitsj, Pereslawl-Zalesski, Joeriëf-Polski, Dmitrof, Wolokolamsk, Twer en Torzjok. Die moeilikste stad om te verower was Kozelsk, waarvan die seun-prins Titus en die inwoners die Mongole sewe weke lank afgeweer het.

Die enigste groot stede wat nie verwoes is nie, is Smolensk, wat oorgegee het en onderneem het om belasting te betaal, asook Nowgorod en Pskof, wat die Mongole nie kon bereik nie weens die afstand en groot vleilande.

In die somer van 1238 het Batoe die Krim verwoes. In die winter van 1239 het hy Tsjernigof en Perejaslaf verower. Ná ’n beleg van ’n paar dae in Desember 1240 het die Mongole Kiëf bestorm en dit ook verwoes.

Inval van Sentraal-Europa

[wysig | wysig bron]
’n Middeleeuse Sjinese tekening van ’n jong Batoe Khan (14de eeu).

Die Koemaanse vlugteling het skuilplek gesoek in die Koninkryk van Hongarye. Batoe het minstens vyf boodskappers na koning Béla IV gestuur om hom te vra om die Koemane uit te lewer, maar hulle is almal vermoor.[3] Batoe Khan besluit toe "om die finale see te bereik" waar hulle nie verder kon gaan nie. Sommige historici meen Batoe wou hoofsaaklik sy toekomstige veiligheid verseker teen die Europeërs, met die moontlikheid van nog latere invalle. Die meeste glo hy wou die hele Europa binneval sodra sy magte gereed was.

Nadat die Mongole die prinsdomme van Kiëf-Roes vernietig het, het Batoe spioene na Pole, Hongarye en so ver as Oostenryk gestuur as voorbereiding vir ’n inval in Sentraal-Europa. Hulle het toe ’n aanval beplan. Batoe was die leier, maar Soeboetai was die eintlike bevelvoerder in die veld. Die Mongole het Sentraal-Europa in drie groepe aangeval. Een groep het Pole ingeval, ’n tweede groep die Karpate en ’n derde groep het die Donau gevolg. Hongarye is in die winter van 1241 ingeval en Oostenryk en Dalmasië daarna. In Morawië het hulle vir die eerste keer teenstand gekry en hulle het teruggtrek na Hongarye.

Daarna het Batoe se leër koning Béla IV en sy bondgenote ’n groot neerslag toegedien by die Slag van Mohi op 11 April. Khadan, Baidar en Orda is na Hongarye en het Morawië op pad soontoe verwoes. Batoe het Khadan gestuur om koning Béla agterna te sit, maar dié het na Kroasië gevlug.

Die Mongole het nou ondersoek ingestel na die magte van die Heilige Romeinse Ryk en Babenberg-Oostenryk.[4] Tydens sy veldtog in Sentraal-Europa het Batoe geëis dat keiser Frederick II abdikeer en gedreig om sy troon oor te neem. Die keiser en pous Gregorius IX het gevra dat ’n kruistog teen die Mongoolse Ryk opruk, maar Europa was in dié tyd lamgelê deur interne struwelinge.

In Desember 1241 het Batoe en Soeboetai hul planne gefinaliseer om Oostenryk, Italië en Duitsland binne te val toe hulle die nuus kry dat Ögedei Khan gesterf het. Batoe moes noodgedwonge terugkeer na Mongolië vir die raad van prinse waar ’n nuwe Groot Khan verkies sou word. In die lente van 1242 het die Mongole teruggetrek. Batoe was ’n potensiële kandidaat vir Groot Khan, maar hy is nie verkies nie.

Onderkoning en botsing met Güyük

[wysig | wysig bron]

Nadat Batoe aan Hongarye onttrek het, het hy kamp opgeslaan aan die oewers van die Wolga. Toe hy genooi word om die volgende keiser van die Mongoolse Ryk te help kies, het Batoe verklaar hy sou nie binnekort enige prinslike rade kon bywoon nie, en so het hy die verkiesing met ’n paar jaar vertraag. Eindelik is Güyük in 1246 tot Groot Khan verkies, terwyl Batoe se broers die Djotsji-lyn verteenwoordig het. Batoe het die onderkoning van die hele westelike deel van die ryk geword; hy het roetinesake tussen die Russiese prinse hanteer, die goewerneurs van Iran aangestel en afgevaardigdes van die Kaukasus ontvang.

In Batoe se afwesigheid het die Mongole wat agtergebly het Mstislaf, die prins van Rilsk in Kiëf-Roes, vermoor. Toe Batoe terugkeer, het hy grootprins Jaroslaf II van Wladimir ontbied en hom aangestel as opperheerser oor die ander Russiese prinse. Hy het hom na Mongolië gestuur om te help met die kroning van Güyük Khan in 1246, maar Jaroslaf is daar vergiftig.

Nadat die Mongole die Sultanaat van Rûm in Anatolië verower het, het Baijoe, die Mongoolse bevelvoerder in Persië, Dawid VII Oeloe uit die gevangenskap gered van sy tante, koningin Roesoedan van die Koninkryk van Georgië, en hom na Batoe en Güyük gestuur. Omdat Roesoedan bang was vir Baijoe se aggressiewe beleid, het sy haar seun Dawid VI Narin na Batoe se hof gestuur om amptelike erkenning te kry as haar opvolger. Batoe het Dawid VI ondersteun en hom die reg as opvolger gegee. Güyük het Dawid Oeloe egter die senior koning van Georgië gemaak en gelas dat Dawid Narin ondergeskik aan hom moes wees.

Die wantroue tussen Batoe en Güyük het toegeneem, en Güyük het die amptenare in Iran en die Kaukasus met sy eie manne vervang. Güyük het Aleksander Nefski en Andrei II van Kiëf-Roes intussen goed ontvang. Andrei is die troon van Wladimir-Soezdal gegee en Aleksander Suid-Rusland. Toe Güyük weswaarts trek, is Batoe gewaarsku dat hy eintlik die Groot Khan se teiken is. Toe Güyük hom ontbied, het Batoe tyd probeer wen. Voordat hy Güyük kon ontmoet, is die Groot Khan skielik dood.

Möngke en Batoe

[wysig | wysig bron]
Die Slag van Mohi, waaraan Möngke Khan dalk deelgeneem het.

’n Geleentheid het ontstaan om die heerskappy van die Huis van Ögedei te beëindig en Batoe was vas van plan om dit reg te kry. Hy het egter Güyük se hoofvrou, Oghul Qaimish, toegelaat om ná sy dood as regent te heers. Toe Batoe siek was, het sy neef Möngke op sy ma se aanbeveling na die Oeloes van Djotsji gereis om hom te besoek.

In 1250 het Batoe eindelik ’n prinslike raad in sy eie gebied byeengeroep. Baie koninklikes het geweier om ’n byeenkoms buite Mongolië self by te woon. Die raad wou hom kies as Groot Khan, maar Batoe het nie belanggestel nie. Hy het Möngke benoem wat ’n Mongoolse leër in Kiëf-Roes, Hongarye en die Kaukasus gelei het. Weens die beperkte bywoning van die raad is die wettigheid daarvan betwis. Batoe het Möngke toe onder beskerming van sy broers Berke en Toechtemoer en sy seun Sartaq gestuur om ’n prinslike raad in die hartland van Mongolië by te woon. Möngke se ondersteuners het Oghul Qaimish en ander koninklikes genooi om die vergadering by te woon, maar hulle het geweier omdat hulle van mening was dat die volgende Groot Khan uit die afstammelinge van Ögedei gekies moes word. Eindelik is Möngke in 1251 aangewys as Groot Khan van Mongolië en hy het die ander koninklikes gestraf vir hul teenkanting.

Intussen het grootprins Andrei II met ander prinse van die westelike Kiëf-Roes saamgesweer en die Mongole so aanstoot gegee. Batoe het ’n strafekspedisie gestuur, waarna Andrei na Pskof en van daar na Swede gevlug het. Die inwoners van Wladimir is kwaai gestraf. Danksy Aleksander Nefski se vriendskap met Batoe se seun Sartaq het Batoe hom in 1252 aangestel as grootprins van Wladimir, en dus Russiese opperheerser.

Tydens Möngke se heerskappy het Batoe se aansien as koningmaker en onderkoning van die weste van die ryk ’n hoogtepunt bereik.

Batoe, Möngke en ander Mongoolse prinse het geheers oor die gebied van Afganistan tot Turkye. Voordat hy in 1256 dood is, het Batoe staatsake gelaat in die hande van sy seun Sartaq, wat hom opgevolg het.

Stamboom

[wysig | wysig bron]
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Jesoegei Baghatoer
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Djengis Khan
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Hoeloen
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Djotsji Khan
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Börte Oejin
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Batoe Khan
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Oechaa Oejin
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Jack Weatherford Genghis Khan, bl. 150
  2. H. H. Howorth The history of the Mongols, bl. II, d.II, bl. 37
  3. Michael Prawdin, Gerard (INT) Chaliand The Mongol empire, bl. 262
  4. H. H. Howorth The history of the Mongols, bl. II, d.II, bl. 48-50

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Morgan, David. The Mongols. ISBN 0-631-17563-6.
  • Nicolle, David (1998). The Mongol Warlords. Brockhampton Press.
  • Ronay, Gabriel (1978). The Tartar Khan's Englishman. Cassell.
  • Saunders, J.J. (1971). The History of the Mongol Conquests. Routledge & Kegan Paul. ISBN 0-8122-1766-7.
  • Sicker, Martin (2000). The Islamic World in Ascendancy: From the Arab Conquests to the Siege of Vienna. Praeger Publishers.
  • Soucek, Svatopluk (2000). A History of Inner Asia. Cambridge.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]