Gaan na inhoud

Lif en Lifthrasir

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die drukbare weergawe word nie meer ondersteun nie en kan leweringsfoute hê. Dateer asseblief jou blaaierboekmerke op en gebruik asseblief eerder die verstekblaaierdrukfunksie.
Lífþrasir en Líf (1895), deur Lorenz Frølich.

In die Noorse mitologie is Líf en Lífþrasir (in ander tale ook Lif en Lifthrasir gespel) twee mense wat in 'n voorspelling die gebeurtenisse van Ragnarök oorleef deur in 'n woud met die naam Hoddmímis holt weg te kruip en, nadat die wêreld ophou brand het, die nuwe en vrugbare wêreld herbevolk. "Líf" is die Oudnoorse term vir "lewe"[1] en "Lífþrasir" beteken "Líf se minnaar" of "lewenslus".[2] Hulle word genoem in die Poëtiese Edda, wat in die 13de eeu saamgestel is uit vroeëre tradisionele bronne, en die Prosaïese Edda, wat in die 13de eeu geskryf is.

Verhaal

Die wêreldboom Yggdrasil.

In die gedig Vafþrúðnismál in die Poëtiese Edda vra Odin vir Vafþrúðnir watter mense die Fimbulvetr ("Slepende winter") sal oorleef, en Vafþrúðnir antwoord Líf en Lífþrasir, wat in die Hoddmímis holt sal wegkruip. Hulle sal die oggenddou as voedsel inneem en "uit hulle sal generasies voortkom".[3]

Ook in hoofstuk 53 van die boek Gylfaginning in die Prosaïese Edda word gesê Líf en Lífþrasir sal in Hoddmímis holt wegkruip tydens die vuurreus Surtr se brand en dat "uit hierdie mense so 'n groot nageslag sal voortkom dat die wêreld weer bewoon sal word".[4]

Volgens Rudolf Simek moet Hoddmímis holt nie verstaan word as 'n letterlike woud waarin die twee mense wegkruip nie, maar eerder as 'n ander naam vir die wêreldboom Yggdrasil. Hy sê die idee dat die mens uit bome ontstaan het, "is antiek in Germaanse streke en dit word ná Ragnarök herhaal".[5]

Verwysings

  1. Cleasby & Vigfusson s.v. líf.
  2. Egilsson s.v. Lífþrasir.
  3. Larrington (1999:47).
  4. Faulkes (1995:57).
  5. Simek (2007:189).

Bronne