T.B. Joshua
T.B. Joshua | |
---|---|
Gebore | Temitope Balogun 12 Junie 1963 Arigidi, Nigerië |
Sterf | 5 Junie 2021 (op 57) |
Nasionaliteit | Nigerië |
Beroep | Pastoor, TV-evangelis |
Bekend vir | Gebedsgenesings |
Eggenoot | Evelyn Joshua |
Temitope Balogun (T.B.) Joshua (12 Junie 1963 – 5 Junie 2021), ook bekend as "Die Profeet", was 'n Christelike gebedsgeneser in Nigerië. Hy verwerf in die 1990's internasionale bekendheid vir die (soms spekulatiewe) genesings tydens dienste by sy tuiskerk, die Synagogue Church of All Nations (SCOAN) in Lagos. Sy kerk bedryf ook 'n TV-kanaal, genaamd Emmanuel.TV. Hy is in 2012 deur die tydskrif Africa Report as een van die 50 invloedrykste mense in Afrika aangewys. Volgens die Forbes-tydskrif was hy sowat R170 miljoen in 2014 werd.[1]
Biografie
[wysig | wysig bron]Temitope Balogun is op 12 Junie 1963 in Arigidi, Nigerië gebore. Volgens sy kerk se webtuiste was hy 15 maande lank in sy moeder se baarmoeder voordat hy in armoede gebore is. Hy het sy kerk in die laat 1980's met slegs agt lede gestig. Dit het sedertdien verstommend gegroei en takke is wêreldwyd opgerig (daar is selfs een in Suid-Afrika).
Siekes van heinde en verre besoek sy kerk in die hoop om genesing te ontvang. SCOAN het verskeie video's gepubliseer wat die beweerde genesings, en selfs die genesing van ongeneeslike siektes (soos VIGS) en gestremdhede dokumenteer. Mediese verslae is 'n voorvereiste vir gebed in 'n poging om die wonderwerke wat plaasvind te kontroleer.
Ineenstorting van gastehuis
[wysig | wysig bron]'n Gastehuis by sy kerk het op 12 September 2014 ineengestort. Na bewering was daar ten tye van die voorval 349 Suid-Afrikaners by die kerk, waarvan 84 dood is.[2] Die gebou het inmekaar gestort terwyl werk aan die gang was om twee ekstra verdiepings by die gebou te voeg.[3] Volgens Joshua het 'n klein vliegtuig vier keer oor die gebou gesirkel, waarna dit ingestort het, en dat dit vermoedelik 'n poging was om hom om die lewe te bring. Volgens reddingswerkers is die waarskynlike oorsaak dat die gebou se fondamente nie voldoende versterk is nie.[4]
Persoonlike lewe en sterwe
[wysig | wysig bron]Joshua was getroud met Evelyn Joshua en daar is drie kinders uit die huwelik gebore.[5] Hy is op 5 Junie 2021 oorlede na een van sy aanddienste in Lagos, Nigerië.[6][7][8][9] Geen oorsaak vir sy dood is bekend nie.[10] Hy was 57 jaar oud.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ TB Joshua is ’n bosluis wat teer op sterwendes Geargiveer 22 September 2014 op Wayback Machine, Netwerk 24, 21 September 2014
- ↑ Invloedryke Nigeriese prediker TB Joshua sterf, Maroela Media, 6 Junie 2021
- ↑ TB Joshua wil Suid-Afrika besoek, Maroela Media, 21 September 2014
- ↑ TB Joshua Lagos church collapse: Many South Africans dead, BBC, 17 September 2014
- ↑ [1] Geargiveer 30 Desember 2014 op Wayback Machine
- ↑ "T.B Joshua's Church, The Synagogue Releases Official Statement". The African Media (in Engels (VSA)). 6 Junie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2021. Besoek op 6 Junie 2021.
- ↑ "Prophet T.B. Joshua is dead at 57". Peoples Gazette. 6 Junie 2021. Besoek op 6 Junie 2021.
- ↑ "Pastor T.B Joshua don die". BBC News Pidgin. 6 Junie 2021. Besoek op 6 Junie 2021.
- ↑ "Prolific Nigerian Preacher, Prophet T. B. Joshua Is Dead". Dripnaija. 6 Junie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2021. Besoek op 6 Junie 2021.
- ↑ "TB Joshua Cause of Death". Uzomedia TV. 6 Junie 2021. Besoek op 6 Junie 2021.