Gaan na inhoud

Onafhanklikheid

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Onafhanklikheidsdag)
John Trumbull se skildery Onafhanklikheidsverklaring (Declaration of Independence) wys die vyf lede van die ontwerpskomitee, wat in 1776 die teks van die Onafhanklikheidsverklaring aan die Tweede Kontinentale Kongres in Philadelphia voorlê
Proklamasie en sweer van die onafhanklikheid van Chili, skildery deur Pedro Subercaseaux Errázuriz, 1945
Kaart van Afrikalande volgens hul onafhanklikheiddatums

Onafhanklikheid van 'n land, organisasie of regeringstak dui op die vermoë om self te regeer, teenoor om deur iemand anders regeer te word. Die verklaring van sulke onafhanklikheid impliseer somtyds 'n gewelddadige wegbreek van die heersende bestel, en is daarom 'n rede vir gereëlde herdenking van die oorwinning.

Definisie van onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

Of die verkryging van onafhanklikheid verskil van revolusie is lank reeds betwis, en is dikwels gedebatteer oor die kwessie van geweld as wettige manier om soewereiniteit te bereik.[1] Oor die algemeen het revolusies slegs ten doel om mag te herverdeel met of sonder 'n element van emansipasie, soos in demokratisering binne 'n staat, wat as sodanig onveranderd kan bly. Die Mexikaanse Revolusie (1910) verwys byvoorbeeld hoofsaaklik na 'n multifaksie-konflik wat uiteindelik tot 'n nuwe grondwet gelei het; dit is selde gebruik om na die gewapende stryd (1821) teen Spanje te verwys. Sommige oorloë van onafhanklikheid is egter as revolusies beskryf, soos dié in die Verenigde State (1783) en Indonesië (1949), terwyl sommige revolusies wat spesifiek oor 'n verandering in die politieke struktuur gegaan het, tot wegbreekstate gelei het. Mongolië en Finland het byvoorbeeld hul onafhanklikheid verkry tydens die rewolusies wat onderskeidelik in China (1911) en Rusland (1917) plaasgevind het. Oorsake vir 'n land of provinsie wat onafhanklikheid wil soek, is baie, maar die meeste kan opgesom word as 'n gevoel van ongelykheid in vergelyking met die dominante mag. Die middel kan strek van beoogde vreedsame betogings soos in die geval van Indië (1947), tot 'n gewelddadige oorlog soos in die geval van Algerië (1962). In sommige gevalle kan 'n land ook onafhanklik verklaar het, maar kan slegs gedeeltelik deur ander lande erken word; soos Kosovo (2008), wie se onafhanklikheid Serwië, waarvan Kosovo afgestig het, nie formeel erken het nie.[2][3][4]

Onderskeid tussen onafhanklikheid en outonomie

[wysig | wysig bron]

Onderskeid tussen onafhanklikheid en outonomie verwys na 'n soort onafhanklikheid wat verleen is deur 'n toesighoudende gesag wat self steeds die uiteindelike gesag oor daardie gebied behou. 'n Protektoraat verwys na 'n outonome streek wat afhanklik is van 'n groter regering vir sy beskerming as 'n outonome streek.

Reg op onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]
Openbare proklamasie van die Estlandse Onafhanklikheidsverklaring in Pärnu, Estland op 23 Februarie 1918.

Gedurende die 20ste eeu golf van dekolonisasie het kolonies regte tot onafhanklikheid verkry deur dokumente soos die 1960-verklaring oor die toekenning van onafhanklikheid aan koloniale lande en volke, maar hierdie reg het meestal slegs van toepassing op onvrye territoriale entiteite, soos kolonies.[5] Hoeveel hierdie regte op alle mense van toepassing is, was 'n deurslaggewende besprekingspunt. Die regte op nasionaliteit en selfbeskikking laat toeligting toe. Die reg van selfbeskikking laat selfbestuur toe, soos byvoorbeeld in die geval van inheemse volke, maar is nie 'n reg van afskeiding nie, behalwe in uiterste gevalle van onderdrukking as 'n remedie teen die onderdrukking.[6] Daarom word die reg op afstigting oor die algemeen bepaal deur die wetgewing van soewereine state en onafhanklikheid deur die vermoë om 'n staat te wees.

Onafhanklikheid van 'n land of staat

[wysig | wysig bron]

Met die onafhanklikheid van 'n land of staat word bedoel, dat so 'n land of staat nie (meer) deur 'n ander staat geregeer of bestuur word nie en volledig kan beslis oor binnelandse en buitelandse beleid, tot die mate toegelaat in internasionale reg. Onafhanklik beteken dus nie dat 'n land nie meer afhanklik is van ander lande nie, maar wel dat dit die reg het om self te besluit.

Die status van onafhanklikheid word internasionaal bepaal deur die Verenigde Nasies. 'n Onafhanklike land kan dan ook lid word van die Verenigde Nasies. Daar is enkele lande waarvan die onafhanklikheid internasionaal nie erken word nie, maar wel deur een of meer lande. 'n Voorbeeld is Turks-Siprus, wat slegs deur Turkye erken word. Voor 1994 het slegs Suid-Afrika die 'onafhanklikheid' van die tuislande Transkei, Venda, Ciskei en Bophuthatswana erken, sowel as dié van Taiwan. Daar is ook enkele lande wat hul onafhanklikheid eensydig verklaar het. Voorbeelde hiervan is Puntland in Somalië en die toenmalige Rhodesië (nou Zimbabwe).

Onafhanklikheidsverklaring

[wysig | wysig bron]

Die Onafhanklikheidsverklaring dui op 'n amptelike dokument of bekendmaking dat 'n spesifieke staat hom die reg voorbehou, of dat hierdie reg aan hom toegestaan word, om homself te regeer. Soms sal 'n staat wat onafhanklikheid van 'n oorheersende mag wil verkry, 'n verklaring van onafhanklikheid uitreik; die vroegste oorlewende voorbeeld is Skotland se Verklaring van Arbroath in 1320, met die mees onlangse voorbeelde Azawad se onafhanklikheidsverklaring in 2012 en Katalaanse onafhanklikheidsverklaring in 2017. Die verklaring van onafhanklikheid en die bereiking daarvan verskil egter heelwat. 'n Bekende suksesvolle voorbeeld is die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring wat in 1776 uitgereik is. Die datums van gevestigde onafhanklikheid (of, minder algemeen, die aanvang van rewolusie), word tipies gevier as 'n nasionale vakansiedag bekend as 'n onafhanklikheidsdag.

Onafhanklikheidsdag

[wysig | wysig bron]

Die onafhanklikheidsdag of onafhanklikheidsdatum van 'n staat word gewoonlik gedefinieer as die datum waarop soewereiniteit bereik word. In sommige gevalle mag die gegewe datum nie "onafhanklikheid" in die strengste sin voorstel nie, maar eerder 'n belangrike gebeurtenis van nasiebou, soos die tradisionele stigtings- of eenheidswordingsdatum, of 'n fundamentele verandering in die vorm van regering.

Onafhanklikheidsoorlog

[wysig | wysig bron]

'n Onafhanklikheidsoorlog is 'n gewapende stryd met die doel onafhanklikheid te verkry. So 'n oorlog kan vooraf gegaan word deur 'n onafhanklikheidsverklaring waar 'n geografiese gebied of etniese groep onafhanklikheid verklaar vanaf 'n ander staat of etniese groep.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Benjamin, Walter (1996) [1921]. Walter Benjamin: Selected Writings, Volume 1: 1913–1926. Cambridge: Harvard University Press. 236–252. ISBN 0-674-94585-9.
  2. "Kosovo MPs proclaim independence". BBC News. 17 Februarie 2008.
  3. "The world's newest state". The Economist. 21 Februarie 2008.
  4. "International recognitions of the Republic of Kosovo". Ministry of Foreign Affairs. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2021. Besoek op 6 Julie 2021.
  5. "Legal Aspects of Self-Determination". The Princeton Encyclopedia of Self-Determination. 11 Februarie 1918. Besoek op 31 Maart 2022.
  6. Shrinkhal, Rashwet (2021). ""Indigenous sovereignty" and right to self-determination in international law: a critical appraisal". AlterNative: An International Journal of Indigenous Peoples. SAGE Publications. 17 (1): 71–82. doi:10.1177/1177180121994681. ISSN 1177-1801. S2CID 232264306.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]