Gereformeerde kerk Aranos
Die Gereformeerde kerk Aranos is 'n Gereformeerde gemeente in Namibië. Dit was die derde oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Namibië, maar het in 2016 sy verbintenis met die Gereformeerde kerkverband (GKSA) beëindig. Met 16 belydende en vyf dooplidmate einde 2014 was dit die tweede kleinste Gereformeerde kerk in dié land, naas Karasburg, met 12 belydende en twee dooplidmate. In die loop van 2015 het die belydende lidmate toegeneem tot 19 en die dooplidmate tot ses.
Agtergrond
Van laat in die 19de eeu, met die stigting van die NG gemeente Mariental (as Gibeon), tot in 1930, toe dié kerkverband reeds vyf gemeentes in Suidwes-Afrika gehad het, was dit die enigste van die drie Afrikaanse Kerke wat in die mandaatgebied bedrywig was. In 1930 het drie Gereformeerde kerke kort ná mekaar tot stand gekom, en wel Gobabis, Outjo en Aranos, nadat 1 922 Afrikaners, oorlewendes en nasate van die Dorslandtrek, tot in 1929 uit Angola gerepatrieer is. Hulle was hoofsaaklik lidmate van die Gereformeerde Kerk, maar daar was ook lidmate van die Hervormde Kerk onder hulle, wat verklaar waarom die eerste drie Hervormde gemeentes ook so te sê meteens tot stand gekom het, hoewel eers in 1937: Gobabis (31 Julie), Otjiwarongo (21 Augustus) en Grootfontein (4 September). Die koms van die Angola-Boere na Suidwes-Afrika verklaar waarom die Gereformeerde sowel as Hervormde gemeentes van Gobabis ouer as die plaaslike NG gemeente is. Die Gereformeerde kerk Aranos is op sy beurt ruim 22 jaar ouer as die plaaslike NG gemeente.
Stigting
Aranos is dus in 1930 gestig en het veral bestaan uit lidmate wat uit Angola gerepatrieer is. In dié buurland van Suidwes-Afrika was hulle lidmate van die Gereformeerde kerke Humpata en Que, wat albei in 1928 ontbind het nadat die meeste lidmate die kolonie verlaat het. Die orige lidmate van Aranos het uit die suide uit die Unie van Suid-Afrika na dié distrik verhuis. Die eerste eredienste is op 20 Junie 1930 op die plaas Kemel gehou. Op 21 Junie is ’n diens op die plaas Kema gehou en die gemeente gestig as die Gereformeerde kerk Gibeon. Voor die kerkgebou op Aranos gebou en op 20 Junie 1959 ingewy is, dieselfde geleentheid waartydens die eerste klassis van Suidwes-Afrika plaasgevind het, het die gemeente vir eredienste en ander geleenthede bymekaargekom op die plaas Omrah. Van 1940 tot 1959 het die gemeente dan ook as die Gereformeerde kerk Omrah bekendgestaan.
Kerkbou op die dorp
Toe ds. H.A. Louw in 1958 hierheen kom om die 76 belydende en 85 dooplidmate te bedien (daar was destyds net drie predikante vir die gebied se 13 Gereformeerde kerke), was ’n boukommissie reeds aan die werk om voorbereidings te tref vir die oprigting van ’n nuwe kerkgebou op Aranos. Dié nedersetting, sowat 175 km van Mariental af, het eers bekendgestaan as Arahoab, maar weens verwarring met die pleknaam Aroab, is die naam verander na Aranos, afgelei van Arahoab en Nossob, die rivier waaraan die dorpie geleë is. In 1954 het dit dorpstatus gekry en in 1957 is ’n dorpsbestuursraad ingestel. In die beginjare het die dorpie snel gegroei. In die tyd van dr. D.C.S. van der Merwe (leraar van Windhoek van 1950 tot 1957, wat ook vir Aranos verantwoordelik was), het die kerkraad ’n stuk grond van die Administrasie van die gebied op Aranos verkry. ’n Argitek van Windhoek het die bouplan opgestel.
Die kerkraad het tenders vir die kerkgebou gevra, maar almal was bo hulle vermoë; daarom het hulle besluit om as eienaarbouer op te tree. Gelukkig was daar al heelwat geld beskikbaar omdat die gemeente gereeld verkopings gehou en ook skenkings ontvang het. Die meeste lidmate, oorwegend jong mense, het vol ywer help werk aan die geldinsameling omdat hulle graag ’n kerkgebou wou hê op die dorp, waar hul kinders ook op kosskool was.
Op 11 Februarie 1959, presies ’n eeu nadat ds. Dirk Postma die Gereformeerde Kerk onder 'n seringboom op Rustenburg in die verre Transvaal gestig het, het ds. H.A. Louw die Gereformeerde kerk op Aranos se hoeksteen gelê. Onder die kerkraad se leiding het die lidmate hard gewerk om die gebou te voltooi. ’n Bouer, ene Kiepie Erasmus, se dienste is verkry. Plek-plek het die bouers van die argitek se plan afgewyk, soos die toring wat in beton gegiet moes word, maar toe met sementstene voltooi is.
Nie lank ná die voltooiing van die kerkgebou nie, het die kerkraad ook ’n pastorie gebou. Ds. Louw se opvolger, ds. M.A. Kruger, was die eerste predikant wat daarin gewoon het.
Oorsig
Met die jare moes Aranos worstel met geldprobleme en het die getalle nooit werklik gegroei nie. Einde 1958 was hier byvoorbeeld 76 belydende lidmate en einde 1997 was dit nog 84, maar binne die volgende vier jaar het dit meer as halveer tot 36 en daarna tot einde 2014 weer meer as halveer tot net 16. Tog het die handjie vol lidmate volhard en bestaan die gemeente tans (2016) steeds, hoewel nou buite die GKSA. Nog voor die Sinode Middellande (hoofsaaklik swart kerke) se gemeentes saam met die voormalige wit en bruin gemeentes saam in klassisse heringedeel is, het Gereformeerde kerk Namib-Kus in 2007 van Aranos afgestig en kort ná die herindeling, die Gereformeerde kerk Khomas-Hoogland in 2009. Dié drie gemeentes was tot 2016 deel van die Klassis Waterberg, saam met Outjo, Otjiwarongo en Biermanskool, terwyl die 12 ander Namibiese kerke die Klassis Etosha vorm. Aranos, Outjo, Biermanskool, Namib-Kus en Khomas-Hoogland het in 2016 hul verbintenis met die GKSA beëindig, terwyl Otjiwarongo reeds vroeër by die Klassis Etosha aangesluit het.
Predikante
- Kruger, dr. Mechiel Andries, 1963–1968 (in kombinasie met Ghanzi)
- Welding, Jozua Francois, 1969–1974 (in kombinasie met Ghanzi), 1974–1977 (selfstandig nadat Ghanzi ontbind het)
- De Klerk, dr. Theunis Christiaan, 1978–1982
- Combrink, dr. Vorster, 1982–1987
- Le Roux, Abraham Hercules, 1982–1991 (sendeling)
- Roets, Cornelius Johannes Christiaan, 1987–1996
- Snyman, Willem Marthinus, 1996–1998 (in kombinasie met Mariental), 1998–2006 (net Aranos), 2006–2011 (in kombinasie met Namib-Kus; verlaat die bediening)
- Le Roux, Jacobus Petrus, 2013 – hede (in kombinasie met Khomas-Hoogland en Namib-Kus)
Bronne
- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (en) Potgieter, D.J. (hoofred.) Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd., 1973.
- (en) Raper, P.E. 1987. Dictionary of South African Place Names. Johannesburg: Lowry Publishers.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.