Gaan na inhoud

Bauhaus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Bauhaus-embleem

Bauhaus is 'n moderne styl van argitektuur en ontwerp wat oorspronklik in die 1920’s en 1930’s aan die Bauhaus-skool in Duitsland onderrig is. Bauhaus-geboue is bekend daarvoor dat hulle eenvoudig en funksioneel is en van staal en beton gebou word. Dié styl het ’n groot invloed op vele moderne argitekte en kunstenaars gehad.[1] Die Bauhaus-geboue in Dessau-Roßlau en Weimar is in 1996 deur Unesco as wêrelderfenisgebiede gelys en die ADGB-skool in Bernau bei Berlin, 'n vakbondskool wat tot die Bauhaus behoort, is in 2017 by die wêrelderfenisgebied ingesluit.[2]

Die Bauhaus-skool

[wysig | wysig bron]
Hoofgebou van die Bauhaus-universiteit in Weimar, ontwerp deur Henry van de Velde en sedert 1996 Unesco-wêrelderfenisgebied
Gerekonstrueerde vooraansig van die Bauhaus Dessau, ontwerp deur Walter Gropius

Die Staatliche Bauhaus Weimar, afgekort Bauhaus, is in 1919 deur die Duitse argitek Walter Gropius as 'n kunsskool in Weimar (Thüringen) gestig. Gropius se konsep van 'n skool wat teorie en praktyk sou verenig en waar kunstenaars en ambagsmanne sou begin saamwerk om 'n nuwe kunsrigting onder die leiding van die argitektuur te skep was destyds ongekend. Die benaming Bauhaus is opsetlik gekies en verwys na die middeleeuse bouhutte of gildes van bouwerkers en steenhouers onder leiding van 'n meester.

Die baanbrekende historiese Bauhaus, wat tot in 1933 bestaan het, word vandag as die invloedrykste skool vir boukuns en ontwerp en ook as die bakermat van die modernisme op alle gebiede van die vrye en toegepaste kuns beskou. Die Bauhaus het met sy beginsel van "Vorm volg funksie" (wat oorspronklik in 1896 deur die Amerikaanse argitek Louis Sullivan in sy essay The tall office building artistically considered geformuleer is) volledig afstand gedoen van al die paradigmas wat kenmerkend was vir laat 19de eeuse en vroeë 20ste eeuse style in kuns en argitektuur soos historisme en Jugendstil (Art Nouveau).[3]

Die Bauhaus het in Weimar met die samesmelting van die plaaslike kunsskool met die Großherzoglich Sächsische Kunstgewerbeschule Weimar, 'n instelling wat in 1907 deur die Belgiese argitek en ontwerper Henry van de Velde in die lewe geroep is, ontstaan. Dit was die regstreekse voorloper van die Bauhaus, wat later in Van de Velde se skoolgeboue gevestig sou word. In 1925 is die Bauhaus na Dessau verskuif en het in die volgende jaar in sy bekende hoofkwartier Bauhaus Dessau ingetrek. In 1932 was die skool gedwing om na Berlyn te verhuis en is in 1933 gesluit.

Die Bauhaus se invloed was só omvattend dat sy naam in die omgangstaal dikwels as sinoniem vir die modernistiese styl in die boukuns en ontwerpkuns gebruik word. In kunshistoriese opsig is dit egter misleidend om die Bauhaus-styl en die ontwikkelinge in Duitsland as 'n geïsoleerde beweging te beskou en die term Bauhaus as vakterm vir 'n bepaalde argitektoniese of meubelstyl te gebruik. Die ontwerpe en werke van die Bauhaus se dosente en studente word gevolglik as deel van internasionale stromings beskou wat oor 'n langer tydperk bestaan het en met vakterme soos funksionalisme, modernistiese styl, nuwe saaklikheid, Internasionale Styl of nuwe boustyl beskryf.

Die Bauhaus het verskillende gebiede van die beeldende kuns, toegepaste kuns en uitvoerende kuns, wat tradisioneel van mekaar geskei was, volgens sy eie konsep met mekaar verbind en sodoende groot invloed op die skilderkuns, uitvoerende kuns en musiek uitgeoefen.

Konsep

[wysig | wysig bron]
'n Rekenaarmodel van die befaamde Bauhaus-stoel Model B3, ook bekend as die Wassily stoel, wat deur Marcel Breuer ontwerp is

Oorspronklik was Henry van de Velde en Walter Gropius van plan om kuns en kunshandwerk in die tydperk van industrialisering te laat herleef. Hulle wou 'n alternatief tot die estetiese vorms van die historisme skep wat ornamente uit die kunshandwerk deur middel van industriële massaproduksie grootskaals gekopieer het. Met die term "kuns" het hulle nie na die destydse avantgarde verwys nie, maar eerder na die vormtaal wat eietydse ontwerpers gebruik het om volgens die styl van vroeëre kunsperiodes te produseer.

Met die herlewing van die kunshandwerk wou hulle nie vroeëre kunsstyle op 'n industriële manier herskep nie, maar met hul eksperimente eerder 'n nuwe vormtaal ontwikkel wat by die industriële vervaardigingsproses aangepas sou wees. Een van die Bauhaus se leitmotiewe was die idee om argitektuur as 'n omvattende kunswerk met ander kunste te verbind. Sodoende is die modulêre bouwyse, wat van voorafvervaardigde bouelemente gebruik gemaak het, nie net vir nywerheidsaanlegte ingespan nie, maar het ook die kans gebied om byvoorbeeld bekostigbare behuising in die satellietstede van groot metropole te skep.

"Die bouwerk is die einddoel van alle vormgewende werksaamhede! (…) Argitekte, beeldhouers, skilders, ons moet almal terug na die ambag! (…) Die kunstenaar is 'n superlatief van die ambagsman."
Walter Gropius in sy Bauhaus-Manifest

Die Staatliche Bauhaus is deur sy stigter Walter Gropius as 'n werkgemeenskap beplan waar geen onderskeiding meer tussen kunstenaar en ambagsman getref is nie. Die Bauhaus-medewerkers het beoog om met hul gemeenskaplike projek maatskaplike en sosiale verskille te oorkom en die skeidslyne tussen volkere en kulture te verwyder. Ten opsigte van sy idee en sy resultate was daar baie ooreenkomste tussen die Bauhaus en die Deutsche Werkbund, wat in 1907 gestig is en waarvan Walter Gropius tot in die jaar 1933 'n lid was.

Saaklikheid, doelmatigheid en 'n nuwe puristiese vormgewing was die kenmerke van alle Bauhaus-produkte en -ontwerpe. Die styl van die Bauhaus het 'n radikale verandering van kuns en ontwerp beteken, wat vir baie tydgenote van Gropius onaanvaarbaar was en selfs as "Bolsjewisties" afgemaak is. Maar in feite weerspieël dit die groot maatskaplike veranderings van die Eerste Wêreldoorlog – die einde van die outydse aristokratiese klasstelsel en die begin van die nuwe tydperk van die demokrasie en die massaverbruik. Walter Gropius het sy Bauhaus ook as 'n persoonlike bydrae beskou om 'n klaslose maatskappy te skep en beter verhoudings tussen volkere te bevorder.

As tak van 'n internasionale beweging het die Bauhaus elemente van die funksionalisme en nuwe boustyle verenig. Die tydlose styl voldoen aan die basiese behoeftes van 'n mens, maar dit skep ook nuwe ervarings soos die argitektoniese verbinding tussen "binne" en "buite" deur die gebruik van staal en veral baie glas. Die nuwe Bauhaus in Dessau, wat deur Walter Gropius in die jare 1925 tot 1926 opgerig is, is 'n verwesenliking van hierdie visie.

Die begin van die NSDAP-heerskappy in Januarie 1933 het 'n einde aan die rewolusionêre beweging se bedrywighede in Duitsland gemaak. Bekende Bauhaus-argitekte soos Ludwig Mies van der Rohe het na die Verenigde State geëmigreer.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

1919: Weimar

[wysig | wysig bron]
Die noordfasade van die Bauhaus-universiteit Weimar se hoofgebou. Die gebou het tussen 1904 en 1911 volgens ontwerpe van die Belgiese argitek Henry van de Velde ontstaan en aanvanklik die Großherzoglich Sächsische Hochschule für Bildende Kunst gehuisves

Die Bauhaus is op 21 Maart 1919 gestig toe die Großherzoglich Sächsische Hochschule für Bildende Kunst en die Kunstgewerbeschule (wat in 1915 ontbind is) in Weimar saamgesmelt het.

Gropius het daarin geslaag om beduidende kunstenaars soos Lyonel Feininger, Johannes Itten, Josef Albers, Paul Klee (vanaf 1921), Wassily Kandinsky (vanaf 1922) en Oskar Schlemmer (vanaf 1921) as dosente na sy Bauhaus te lok. Die onderwys het uit 'n sogenaamde Vorkurs (inleidingskursus) en praktiese werk in die ateljees bestaan. Die ateljees is deur kunstenaars, wat na hulself as "Meesters van die vorm" (Duits: Formmeister) verwys het, en meester-ambagsmanne gelei. Die gemiddelde studentetal was 100, en baie van hulle was veelsydig en het gelyktydig aan fotografie-, skildery- en argitektuur-kursusse deelgeneem.[4]

Aanvanklik is 'n romantiese heroplewing van voor-industriële produksiemetodes vermeng met moderne ontwerpbeginsels. Vroeë Bauhaus-projekte soos die Haus Sommerfeld was in hierdie fase nog gekenmerk deur sterk ekspressionistiese invloede. In 1923 het die konstruktiwis László Moholy-Nagy as opvolger van die skilder Johannes Itten by die Bauhaus aangesluit. Itten was 'n voorstander van holistiese gedagtes wat lewensvernuwing ten doel gehad het.

Die Bauhaus se gemeenskaplike inleidingskursus, wat 'n veelsydige en opvattende opleiding van studente verseker het, het 'n voorbeeld vir kuns- en ontwerpskole dwarsoor die wêreld geword. Die vertoonhuis Am Horn, wat in 1923 in Weimar ontstaan het, was die eerste projek waar argitektuur en meubilering konsekwent die beginsels van Nuwe Saaklikheid gevolg het – 'n kunsstroming wat hier veral deur sy Nederlandse rigting De Stijl beïnvloed was. Vir die algemene publiek is hierdie soort geboue destyds nog as "koud", "karig" en "masjinaal" bestempel.

In 1923 is die Bauhaus se werke vir die eerste keer tydens 'n uitstalling aan die publiek bekend gestel. Die uitstalling was 'n groot sukses wat 15 000 besoekers gelok het. Terwyl Gropius, Kandinsky en Oud voordragte gehou het, het die premières van Oskar Schlemmer se Triadisches Ballett en Mechanisches Ballett asook musikale werke van Strawinsky, Busoni en Hindemith plaasgevind. Daarnaas is wetenskaplike rolprente met destyds innovatiewe slow motion-effekte vertoon.[5]

In die tydperk van die Weimarrepubliek is dosente, studente en bewonderaars van die Bauhaus dikwels as "links" en "internasionalisties" beskryf. Regsgesinde politieke partye was vanaf sy stigting in opposisie tot die Bauhaus. Nadat regse partye in die verkiesings van Februarie 1924 'n meerderheid in die parlement van die deelstaat Thüringen gekry het, het die regering onder leiding van Richard Leutheußer (Duitse Volksparty) die Bauhaus se begroting met vyftig persent ingekort. In reaksie hierop het ander stede aangebied om as nuwe gashere van die Bauhaus op te tree. Vanweë die politieke druk, wat in Thüringen op hulle uitgeoefen is, het die Bauhaus se Meisterrat ("Meesterraad") in 1925 besluit om die skool na die nywerheidstad Dessau te verskuif wat destyds op politieke gebied oor 'n stabiele meerderheid van sosiaaldemokrate en liberale beskik het. In Dessau het die vliegtuigvervaardiger Hugo Junkers sy finansiële steun aan die instelling toegesê. Die Bauhaus in Weimar is in 1925 ontbind.

1925: Dessau

[wysig | wysig bron]
Fasade van die ateljeevleuel
Bauhaus Dessau: Woonstelle

In 1925 is die Bauhaus na Dessau verskuif. Hier is die eerste meubels ontwerp wat van nuwe materiale soos staalpype vervaardig is, waaronder Marcel Breuer, Mart Stam en Ludwig Mies van der Rohe se eerste Freischwinger-(cantilever-)stoele. Die Bauhaus het begin om met industriële vervaardigers saam te werk.

Die nuwe Bauhaus-gebou, wat deur Walter Gropius ontwerp is, is op 4 Desember 1926 ingewy. Besonder indrukwekkend was die ateljeevleuel aan straatkant met sy glasfasade en Gropius se Meisterhäuser ("Meesterhuise") wat as woonhuise gedien het en net soos die Bauhaus-hoofkwartier die beweging se gedagtes ten opsigte van woon- en werksfeer verenig het.

Op 1 April 1928 het Gropius as direkteur bedank. Volgens sy voorstel is hy deur die Switserse argitek Hannes Meyer opgevolg wat nie net op die leuse Volksbedarf statt Luxusbedarf ("volksbehoefte in plaas van luukse behoefte") besluit het, maar ook die samewerking met die nywerheidsektor versterk het. In die periode tussen 1930 en 1933 het die argitek Ludwig Mies van der Rohe as direkteur gefungeer. Onder sy leiding het die Bauhaus in toenemende mate tot 'n tegniese kollege vir argitektuur begin ontwikkel, waarby die kuns- en ateljee-afdelings 'n ondergeskikte funksie uitgeoefen het.[6]

In 1945 is die Bauhaus-gebou in Dessau gedeeltelik beskadig en eers in 1976 herstel.

1932: Berlyn

[wysig | wysig bron]
'n Gedenkplaat in die Berlynse stadsdeel Steglitz herinner aan die voormalige plaaslike Bauhaus-gebou

In 1931 het die Nasionaalsosialiste die munisipale verkiesings in Dessau gewen. Die Bauhaus was in die volgende jaar 'n tweede keer genoodsaak om sy setel te verskuif en het hom in die Berlynse stadsdeel Steglitz gevestig. Kort daarna het die Nasionaalsosialiste – wat die Bauhaus as 'n "Kerk van Marxisme" afgemaak het – die Bauhaus-span gedwing om hul instelling self te ontbind.

Sommige van die Bauhaus se leidende figure soos Josef Albers, Walter Gropius, László Moholy-Nagy en Ludwig Mies van der Rohe het vervolgens na die VSA geëmigreer waar die Bauhaus se gedagtes, konsepte, metodes en leerstellings binnekort 'n beduidende invloed op die plaaslike boukuns, produk- en kommunikasie-ontwerp uitgeoefen het, met die Black Mountain College as die vernaamste onderwyssentrum.

Walter Gropius het ook in Amerikaanse ballingskap met sy Bauhaus-konsep voortgegaan wat vanaf 1937 as The New Bauhaus bekend gestaan het. Uiteindelik het hy sy Amerikaanse Bauhaus met sy eie argitekteburo gekombineer.

Ná 1945

[wysig | wysig bron]

Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is in 1953 in Ulm (deelstaat Baden-Württemberg) die Hochschule für Gestaltung (HfG Ulm) onder leiding van Max Bill, wat sy opleiding by die Bauhaus gekry het, gestig. Die skool was op dieselfde konsep gegrond as die oorspronklike Bauhaus en is in sy grafiese werk onder meer deur Switserse tipografie beïnvloed.

'n Reeks gelisensieerde meubels en gebruiksvoorwerpe, wat tot vandag toe die publiek se waarneming ten opsigte van die unieke Bauhaus-styl beïnvloed, het in die vroeë 1970's verskyn. Die oorlogskade aan die Bauhaus-gebou in Dessau is aanvanklik net gedeeltelik herstel. In 1964 is die Bauhaus Dessau tot 'n nasionale monument verklaar, maar restourasiewerk het eers in 1976 begin. In 1996 is die gebou deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys, en ná omvattende herstelwerk is ter geleentheid van sy 80jarige jubileum in Desember 2006 'n uitstalling onder die titel Ikone der Moderne – das Bauhausgebäude in Dessau in die gebou gehou.[7]

Fotografie

[wysig | wysig bron]
'n Collage van 'n bladsy uit die dagblad San Francisco Examiner van 1 November 1925 en vyf fotoknipsels, met – van links na regs – Galka Scheyer, Lyonel Feininger, Wassily Kandinsky, Paul Klee en Alexej Jawlensky

Fotografie is aanvanklik nie by die Bauhaus se leerprogram ingesluit nie en derhalwe ook nie as kunsmedium ingespan nie. Eers in 1923 is danksy die inisiatief van die outodidak László Moholy-Nagy meer aandag aan hierdie moderne kunsvorm geskenk, en eersterangse fotograwe soos byvoorbeeld Erich Consemüller, Andreas Feininger en T. Lux Feininger, Lucia Moholy en Walter Peterhans het begin om 'n breë spektrum van individuele fotografiese werke te ontwikkel, terwyl studente 'n belangrike bydrae met hul fotografiese eksperimente en amateurfoto's gelewer het.

Onder die invloed van die Russiese Avantgarde het Moholy-Nagy fotografie as 'n uiters geskikte medium vir 'n "Nuwe Sig" op dinge beskou – dit was vir hom 'n "suiwer vorming van lig" wat nuwe moontlikhede geopen het om 'n wêreld wat deurgrypend deur moderne tegnologie verander is op 'n nuwe manier waar te neem en te interpreteer. Met sy abstrakte ligbeelde van sy fotogramme, sy ongewone kamera-perspektiewe en uitknipsels van foto's asook sy nuwe tegnieke van montasie, kollages of herhaalde beligting het Moholy-Nagy tot een van die pioniers van moderne fotografie ontwikkel.[8] Daarnaas was hy een van die eerstes wat die potensiaal van fotografie vir die ontwerp van kommersiële grafiese kuns en advertensies besef het. In sy eie publikasies – en later ook dié van Herbert Bayer – het die sogenaamde Typofoto, dit wil sê die kombinasie van beeld en teks, 'n sentrale rol gespeel.

In teenstelling met haar eggenoot het Lucia Moholy 'n opleiding as fotograaf gevolg en derhalwe eerder in 'n onsydige fotografiese uitbeelding van die werklikheid as eksperimente of fotografiese tegnieke belang gestel. Haar doelwit was tekenend van die Nuwe Saaklikheid, en haar opnames, wat oorspronklik gemik was vir die gebruik in publikasies en die pers, was indrukwekkende dokumentêre foto's van die Bauhaus se ateljeeprodukte, boukuns en binneruimtes. Haar buitengewone portrette van onderwysers en studente oefen nog steeds 'n beduidende invloed op die waarneming van die Bauhaus-skool uit.

Maar eers met die nuwe kurrikulum, wat onder die direksie van Hannes Meyer in 1929 ingevoer is, is fotografie-klasse onder leiding van Walter Peterhans aan die Dessause Bauhaus aangebied. Die leerprogram het naas die teorie en praktyk van fotografie ook onderwys in presiese waarneming ingesluit. Peterhans se eie fotografiese werk het indrukwekkende stillewens van alledaagse voorwerpe en fragmente, tekstiele, glas, metaal, vere en grashalms ingesluit.

'n Groot aantal fotografieë, kiekies en fotografiese eksperimente van Bauhaus-lede het bewaar gebly en gee 'n lewendige indruk van die alledaagse lewe in hierdie instelling, sy optimistiese werkatmosfeer en sy feeste.

Bekende kunstenaars en argitekte van die Bauhaus-beweging

[wysig | wysig bron]


Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. "Bauhaus and its Sites in Weimar, Dessau and Bernau" (in Engels). Unesco. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Oktober 2019. Besoek op 13 Julie 2017.
  3. Maas, Annette: Form Follows Function. In: Ecco. Das Buchmagazin für Kunst, Kultur & Geschichte, uitgawe 2009, bl. 24
  4. Khan, Hasan-Uddin (red.: Philip Jodidio): International Style. Architektur der Moderne von 1925 bis 1965. Keulen: Taschen 2009, bl. 19
  5. Khan (2009), bl. 19
  6. www.bauhaus-dessau.de: Oorsig – Bauhaus 1919–1933
  7. Der Fischer Weltalmanach 2008. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2007, bl. 734
  8. "www.bauhaus.de: Fotografie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2009. Besoek op 31 Maart 2009.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Algemene inligting

The Met -Tydlyn van Kunsgeskiedenis

Media