Gaan na inhoud

Franse Oos-Indiese Kompanjie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vlag van die Franse Oos-Indiese Kompanjie in 1756
Wapen van die Franse Oos-Indiese Kompanjie
Franse en ander Europese nedersettings in Indië tussen 1501 en 1739.
Maksimale strekking van die Franse invloed in Indië tussen 1741 en 1754

Die Franse Oos-Indiese Kompanjie (Frans: La Compagnie française des Indes orientales of Compagnie française pour le commerce des Indes orientales) was 'n kommersiële onderneming wat in 1664 gestig is om met die Britse Oos-Indiese Kompanjie en die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te kompeteer.

Die kompanjie is deur Jean-Baptiste Colbert beplan en deur Koning Louis XIV gestig met die doel om met die Oostelike halfrond handel te dryf. Die eerste Direkteur-Generaal van die maatskappy was François Caron, wat 30 jaar lank vir die VOC gewerk het, insluitend 20 jaar in Japan.

Die kompanjie kon nie daarin slaag om 'n kolonie op Madagaskar te stig nie maar het hawens op die nabygeleë eilande Bourbon en Île-de-France (vandag Réunion en Mauritius) gevestig. Teen 1666 het Colbert besluit om die poging in Madagaskar te laat vaar en is die moontlikheid ondersoek om 'n vestiging in die Kaap te maak. Die Franse het te vore in Oktober 1648 en Maart 1655 reeds Saldanhabaai noord van Tafelbaai verken. Tydens die Franse eskader se verblyf in Tafelbaai van 12 Desember 1666 tot Januarie 1667 word 'n aantal offisiere op die Saumacque na Saldanhabaai gestuur om die moontlikheid te ondersoek om 'n buitepos in die baai te skep soortgelyk aan die Nederlandse basis in Tafelbaai. Hulle bevinding na die besoek van 17 tot 20 Desember 1666 is dat die baai uitstekende ankerplek bied maar dat toegang tot varswater 'n probleem is en dat die grond onvrugbaar is en daar nie bome groei nie. De Montdevergue laat 'n baken met die koning se wapenskild agter maar los die pos nie beman nie as gevolg van die gebrek aan hout en water. Hoewel Nederland en Frankryk in 'n alliansie was, was hulle nie geneë om die Indiese handel met die Franse te deel nie en is die Franse se baken vernietig. 'n Verdere ekspedisie word deur 'n eskadron in die omgewing onderneem van 25 Augustus tot 8 Oktober 1670. Franse skepe wat by die Kaap sou aandoen is ook aangesê om ondersoek in te stel na die aard van die Nederlandse fortifikasies in Tafelbaai. Die Franse laat vaar op die ou einde enige poging om 'n vestiging by Saldanhabaai te maak as gevolg van die Frans-Nederlandse Oorlog wat uitgebreek het. In 1671 het die Nederlanders Saldanhabaai beset.[1]

Teen 1719 was die kompanjie ook in Indië gevestig, maar dit was byna bankrot. In dieselfde jaar is dit onder John Law met ander Franse handelsmaatskappye verenig om die Compagnie Perpétuelle des Indes te vorm. Dit het weer onafhanklik geword in 1723.

Met die taan van die Mogulryk het die Franse besluit om tussenbeide te tree in Indiese politieke aangeleenthede om hulle belange te beskerm, vernaamlik deur alliansies te smee met plaaslike heersers in Suid-Indië. Vanaf 1741 het die Franse onder Joseph François Dupleix 'n aggressiewe beleid teenoor beide die Indiërs en die Engelse gevolg tot hulle op die ou einde verslaan is deur Robert Clive.

Die Kompanjie kon nie daarin slaag om finansieel volhoubaar te raak nie en het tot niet gegaan in 1769, omtrent 20 jaar voor die Franse Revolusie.

Verskeie Indiese handelsposte, insluitend Pondicherry en Chandernagore, het tot 1949 onder Frankryk se beheer gebly.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]