Haka
Die haka is 'n tradisionele oorlogskreet, oorlogdans, of uitdaging in die kultuur van die Nieu-Seelandse Māorivolk.[1] Dit is 'n houdingsdans wat deur 'n groep uitgevoer word, met kragtige bewegings en voetstampe tesame met ritmiese krete.[2]
Die oorlogshaka sou oorspronklik deur krygers voor 'n geveg uitgevoer word om die vyand te intimideer, maar haka is ook vir ander redes uitgevoer: vir die verwelkoming van geëerde gaste, of by ander groot gebeurtenisse, en kapa haka optredegroepe is baie algemeen in skole.
Nieu-Seelandse sportspanne se praktyk om 'n haka voor hulle internasionale wedstryde uit te voer het die haka regoor die wêreld bekend gemaak. Hierdie tradisie het begin met die 1888–89 New Zealand Native football team se toer en is sedertdien ook deur die Nieu-Seelandse rugby-unie span ("All Blacks") sedert 1905 voortgesit.[3]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Hoewel die gebruik van die haka deur die All Blacks rugby span en die Nieu-Seelandse rugby league span een tipe haka bekend gemaak het, het dit tot wanopvattings gelei.[4] Die meeste haka word deur mans uitgevoer. Daar is egter sekere haka wat oorwegend deur vroue uitgevoer word – een van die mees bekendste synde die Ngāti Porou haka "Ka Panapana".[5]
In die moderne era, is verskillende haka geskep vir opvoering deur vroue en selfs kinders.[6] Haka word vir verskeie redes uitgevoer, byvoorbeeld vir die verwelkoming van geëerde gaste, of by groot prestasies, geleenthede of begrafnisse.
Oorlogshaka (peruperu) sou oorspronklik deur krygers voor 'n geveg uitgevoer word om hulle krag en bekwaamheid te verkondig en om die vyand te intimideer. Tans vorm haka eerder 'n integrale deel van formele verwelkomingseremonies, byvoorbeeld van staatsgaste, en dra 'n gevoel van die belangrikheid uit aan geleenthede.
Verskeie aksies word tydens 'n opvoering gebruik, insluitend gesigskontorsies soos om die wit van die oë te wys en die tong uit te steek, asook 'n wye verskeidenheid van kragtige liggaamsaksies soos om die hande teen die liggaam te klap en met die voete te stamp. Die krete sluit woorde in, asook 'n verskeidenheid van nie-verbale geluide.
Tipes
[wysig | wysig bron]Die verskeie tipes haka sluit in whakatu waewae, tutu ngarahu en peruperu. Die peruperu is gekenmerk deur spronge waar die bene onder die liggaam ingetrek word. Voorheen is die peruperu uitgevoer voor 'n veldslag om 'n beroep op die Oorlogsgod te maak en om die vyand te ontmoedig. Dit sluit kwaai gesigsuitdrukkings in, tong uitsteek, krete, en die vertoon van wapens. As die haka nie in totale koordinasie uitgevoer is nie, sou dit as 'n slegte teken vir die geveg gesien word. Krygers het dikwels geen klere buiten 'n gevlegte vlasgordel om die heupe gedra.
Die tutu ngarahu het ook spronge, maar van kant tot kant, terwyl die whakatu waewae geen spronge bevat nie. 'n Ander soort haka wat sonder wapens gedoen word is die ngeri, wat die doel hehad het om die krygers sielkundig voor te berei. Die bewegings is baie vry, en van elke optreder is verwag om vrye uitlating aan sy gevoelens te gee. Manawa wera haka word oor die algemeen geassosieer met begrafnisse of ander geleenthede wat met die dood verbind word. Soos die ngeri word dit sonder wapens uitgevoer, met min of geen koreografie.
Die mees bekende haka is "Ka Mate", wat toegeskryf word aan Te Rauparaha, die oorlogsleier van die Ngāti Toa stam. Die "Ka Mate" haka is 'n haka taparahi – 'n seremoniële haka. "Ka Mate" handel oor die geslepe streek wat Te Rauparaha gebruik het om sy vyande te uitoorlê, en kan geïnterpreteer word as "'n viering van die oorwinning van die lewe oor die dood".[7]
Mitologie
[wysig | wysig bron]Volgens Māori mitologie, het die songod, Tama-nui-te-rā, twee vroue gehad, die Somerdogter, Hine-raumati, en die Winterdogter, Hine-takurua. Haka sou volgens oorlewereing in die koms van Hine-raumati ontstaan het: haar teenwoordigheid op windstil warm dae sou in 'n bewerigheid in die lug waargeneem word. Dit was die haka van Tāne-rore, die seun van Hine-raumati en Tama-nui-te-rā.[8]
Kulturele impak
[wysig | wysig bron]In die aanloop tot die Rugbywêreldbeker in 2011, het haka-uitvoerings deur blitsskares 'n gewilde manier geword om ondersteuning vir die All Blacks uit te druk. Sommige Māori-leiers het dit as "onvanpas" en 'n "verbastering" van die tradisionele oorlogkreet gesien,[9] ten spyte van sy gewildheid. Groot blitsskare haka is uitgevoer in Wellington[10] en Auckland,[11] asook in Londen, 'n stad met 'n groot Nieu-Seelandse immigrantgemeenskap.[12]
Die Haka het by talle moderne geleenthede opspraak verwek, soos byvoorbeeld in 2012, toe soldate van die 2de en 1ste Bataljon Koninklike Nieu-Seeland Infanterieregiment 'n haka uitgevoer het ter nagedagtenis aan kamerade wat in Afghanistan gesneuwel het.[13][14]
Verwysings
[wysig | wysig bron]Algemene verwysings
[wysig | wysig bron]- McLean, Mervyn, 1996. Maori music. Auckland: Auckland University Press.
- Pōmare, Mīria (3 Maart 2017). 'Ngāti Toarangatira – Chant saamgestel deur Te Rauparaha'. Te Ara – the Encyclopedia of New Zealand.
Teksverwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Haka, Maori dance". Encyclopaedia Brittanica (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2020. Besoek op 26 April 2017.
- ↑ The group of people performing a haka is referred to as a kapa haka (kapa meaning row or rank). The Māori word haka has cognates in other Polynesian languages, for example: Tongan haka, 'hand action while singing'; Samoan saʻa, Tokelau haka, Rarotongan ʻaka, Hawaiian haʻa, Marquesan haka, all meaning 'dance'; Mangarevan ʻaka, 'to dance in traditional fashion; dance accompanied by chant, usually of a warlike nature'. In some languages, the meaning is divergent, for example in Tikopia saka means to 'perform rites in traditional ritual system'. The form reconstructed for Proto-Polynesian is *saka, deriving ultimately from Proto-Oceanic *saŋka(g).
- ↑ Hunt, Tom (19 September 2015). "Flashback: The All Blacks perform haka for the first time". Stuff (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 4 Mei 2017.
- ↑ All Black's Haka [1].
- ↑ "East Coasters lead kapa haka group in Timor Leste". New Zealand Defence Force.
- ↑ "Haka is also the plural form in Māori". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Julie 2011. Besoek op 15 September 2017.
- ↑ Pōmare 2006.
- ↑ "Haka". An Encyclopaedia of New Zealand. (1966). Ed. A. H. McLintock. URL besoek op 2009-04-26.
- ↑ "Maori leaders at odds over flash mob haka". 3 News NZ. 20 September 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Desember 2011.
- ↑ "Wellington haka attracts hundreds". 3 News NZ. 8 September 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2014. Besoek op 15 September 2017.
- ↑ "Flash mob haka on Auckland's Queen Street ahead of RWC opener All Blacks vs Tonga". 3 News NZ. 9 September 2011.
- ↑ "Flashmob haka takes over Trafalgar Square". 3 News NZ. 19 November 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2014. Besoek op 15 September 2017.
- ↑ "2nd 1st Farewell Their Fallen Comrades With A Huge Haka". New Zealand Defence Force (in Engels). 25 Augustus 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020.
- ↑ http://www.nzherald.co.nz/nz/news/article.cfm?c_id=1&objectid=10829992.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Haka. |
- Haka – A New Zealand icon
- HAKA in An Encyclopaedia of New Zealand, edited by A. H. McLintock, originally published in 1966.