Gaan na inhoud

Hendrik VI van Engeland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hendrik VI van Engeland
Koning van Engeland
Hendrik VI van Engeland, Koning van Engeland
Dinastie Plantagenet, Lancaster tak
Bewind 31 Augustus 1422 - 4 Maart 1461
en 30 Oktober 1470 - 11 April 1471
Kroning 6 November 1429
Gebore 6 Desember 1421
Windsor-kasteel
Gesterf 21 Mei 1471
Londense Tower
Windsor-kasteel
Voorganger Hendrik V
Opvolger Edward IV
Gade Margereta van Anjou (1429–1482)
Kinders Edward, Prins van Wallis
(1453–1471)
Vader Hendrik V (1387–1422)
Moeder Catherina van Valois (1401–1437)

Hendrik VI (Engels: Henry VI) (6 Desember 142121 Mei 1471) was koning van Engeland van 1422 tot 1461 (met 'n regent wat namens hom regeer het tot 1437) en van 1470 tot 1471, en omstrede koning van Frankryk van 1422 tot 1453.

Die Kinderkoning

[wysig | wysig bron]

Hendrik was die enigste kind van koning Hendrik V van Engeland en was sy erfgenaam en daarom is groot dinge van hom verwag van sy geboorte af. Hy is op 6 Desember 1421 by Windsor gebore en het die troon bestyg op die ouderdom van nege maande op 31 Augustus 1422 toe sy vader te sterwe gekom het. Sy moeder Catherina van Valois, was slegs twintig jaar oud en as 'n dogter van Koning Karel VI van Frankryk is sy nie vertrou om volledig verantwoordelik te wees vir die grootmaak van haar seun nie.

Op 28 September 1423 het die adellikes trou gesweer aan Hendrik VI. Hulle het die Parlement in die Koning se naam byeen geroep en 'n regentskapraad gevestig. Humphrey, Hertog van Gloucester, Hendrik IV se jongste seun en Hendrik VI se oom is as Beskermer en Verdediger van die Koningkryk en die Kerk aangestel tot die Koning mondig sou word. Sy aanstelling kon egter op enige stadium deur die Raad opgehef word. Sy pligte was beperk tot die bewaar van vrede en die byeen roep en verdaging van die parlement. Biskop Hendrik Beaufort (Kardinaal van 1426 af) wat Hendrik V se half-oom was, het 'n belangrike posisie in die raad beklee. Hendrik IV se oudste oorlewende seun, Jan van Lancaster, 1ste Hertog van Bedford, was die senior regent, wat as Regent van Frankryk (aan die hoof van die voortslepende oorlog) opgetree het en Gloucester as Regent van Engeland vervang het wanneer ook al Bedford self in die land was.

Van 1428 af was Hendrik se leermeester die Graaf van Warwick, wie se vader instrumenteel was in die opposisie tot Richard II se bewind. Hendrik is ook beïnvloed deur Hendrik Beaufort, en later William de la Pole, 1ste hertog van Suffolk. Die koning was naderhand ten gunste van 'n beleid van vrede in Frankryk.

Hendrik se half-broers, Edmund en Jasper, die seuns van sy weduwee moeder se verhouding met Owen Tudor, is later graafskappe toegeken. Edmund Tudor was die vader van Hendrik Tudor wat later die troon sou bekom as Hendrik VII van Engeland.

Hendrik is uiteindelik as Koning van Engeland gekroon by Westminster Abbey op 6 November 1429, 'n maand voor sy agste verjaarsdag, en as Koning van Frankryk by die Notre Dame in Parys on 16 Desember 1431. Hy het egter nie begin regeer totdat hy in 1437, die jaar waarin sy moeder gesterf het, mondig verklaar is nie.

Wat betref sy ooms Jan, Hertog van Bedford en Humphrey, Hertog van Gloucester, wat in die begin van sy lewe die magtigste regente was; eersgenoemde het in 1435 gesterf; laasgenoemde het in skande verval en in aanhouding gesterf in 1447, waarskynlik van 'n hartaanval, voor hy van verraad aangekla kon word.

Hendrik se huwelik met Margareta van Anjou

[wysig | wysig bron]
Engelse koninklikes
Huis van Lancaster

Wapenskild van Plantagenet
Hendrik VI
   Edward, Prins van Wallis

As gevolg van sy suksesse in die Honderdjarige Oorlog het Hendrik V Engeland in besit gelaat van aansienlike gebiede in in Frankryk, maar die momentum het teen sy afsterwe verlore gegaan. Vandat Hendrik VI nog 'n kind was, en Engeland deur 'n regentregering geheers is, is baie grondgebied wat deur sy vader ingepalm is verloor. 'n Herlewing in Franse geluk, wat begin het met die militêre oorwinnings van Johanna van Arkel, het gelei tot die verwerping van Hendrik se titel om oor Frankryk te heers en die kroning van die Franse Dauphin (kroonprins) by Reims. Diplomatieke flaters sowel as militêre mislukkings het gelei tot die verlies van meeste van die Engelse gebiede in Frankryk.

Teen sy mondigwording het dit geblyk dat Hendrik VI 'n diep geestelike man was wat die wêreldse wysheid ontbreek het wat nodig was om effektief te regeer. Van die moment wat hy in 1437 as koning beheer oor geneem het, het hy toegelaat dat 'n paar adellike gunstelinge; die faksie wat ten gunste van die beëindiging van die oorlog in Frankryk was, gedomineer het terwyl Richard, Hertog van York en Humphrey, Hertog van Gloucester, die leier van die pro-oorlog kasie geïgnoreer is.

Kardinaal Beaufort en Suffolk het die koning intussen oortuig dat die beste manier om vrede met Frankryk te bewerkstellig was 'n huwelik met Karel VII se kleinniggie Margareta van Anjou was. Hendrik het ingestem, veral toe hy verslae gehoor het van Margareta se skoonheid, en het Suffolk gestuur om met Koning Karel te gaan onderhandel. Karel het tot die huwelik ingestem op voorwaarde dat hy nie die gebruiklike bruidskat sou moes verskaf nie en in plek daarvan die gebiede Maine en Anjou van die Engelse sou bekom. Daar is tot die voorwaardes ingestem in die Verdrag van Tours, maar die oordrag van Maine en Anjou is van die parlement geheim gehou aangesien daar besef is dat dit baie ongewild by die Engelse bevolking sou wees.

Die huwelik is in 1445 voltrek en dit blyk dat Margareta se karakter dié van Hendrik aangevul het. Sy was naamlik bereid om besluite te neem en leierskap te vertoon terwyl hy tevrede was dat sy die inisiatief geneem het. In die opsig was Margareta 'n baie meer bekwame heerser as wat Hendrik ooit was, selfs al was sy op daardie stadium slegs sestien jaar oud. Die netelige kwessie van Maine en Anjou moes nog aangespreek word. Hendrik het die vervulling van sy onderneming aan Karel VII bly uitstel in die wete dat dit baie ongewild sou wees en dat veral die oorlogsgesindes onder Humphrey, baie krities daaroor sou wees. Margareta was egter vas beslote dat hy dit sou deurvoer en dit is uiteindelik in 1446 openbaar gemaak. Meeste van die publiek se woede is op Suffolk uitgehaal wat die Verdrag van of Tours onderhandel het, maar Hendrik en Margareta het hom verdedig. Hulle het ook besef dat hulle blootgestel was aangesien hulle ten volle bewus was van die voorwaardes tot die huwelik.

In 1447 het die koning, die koningin en die groep wat hulle omring het (Suffolk, Somerset, en die ouerwordende Kardinaal Beaufort) Gloucester voor die parlement gedaag op aanklag van verraad in Bury St Edmunds. Hy het in aanhouding gesterf voor die verrigtinge voltooi is. Die dood van Gloucester het York as Hendrik se vermoedelike opvolger gelaat, maar hy het dit nooit amptelik erken nie en York is steeds uit die hof binnekring gehou en is weggestuur om Ierland te regeer, terwyl Hendrik en Margaret Suffolk en Edmund Beaufort tot hertoë bevorder het, ('n titel wat gewoonlik slegs tot naverwante aan die monarg beperk is). Beaufort, die nuwe Hertog van Somerset (en Kardinaal Beaufort se kleineef) is na Frankryk gestuur om die oorlog te lei.

Stygende ongewildheid en waansin

[wysig | wysig bron]

Die regering se stygende ongewildheid was te wyte aan die verlies van wet en orde, korrupsie, die verspreiding van koninklike grond aan die koning se gunstelinge, die slegte toestand van die kroon se finansies en die geleidelike verlies van grondgebied in Frankryk. In 1447 het die ongewildheid die vorm van 'n Commons veldtog aangeneem teen die Hertog van Suffolk, wat die mees ongewilde van die koning se gevolg was en algemeen as 'n verraaier gesien is. Hendrik is gedwing om hom uit die land te ban, maar sy skip is in die Engelse Kanaal onderskep en hy is vermoor. Sy liggaam is op die stand by Dover aangetref.

In 1449 het Beaufort, wat die veldtog in Frankryk gelei het, vyandighede in Normandië hervat. Teen die herfs is hy egter tot by Caen teruggedryf. Teen 1450 het die Franse die hele provinsie teruggeneem waarvoor Hendrik V so hard geveg het. Terugkerende troepe wat baie keer nie betaal is nie het bygedra tot die atmosfeer van wetteloosheid in die suidelike graafskappe van Engeland. Jack Cade het 'n rebellie in Kent gelei in 1450 en homself "John Mortimer" genoem in simpatie met York en sy woning by die White Hart Inn in Southwark gevestig (die wit hart was die simbool van die afgesette Richard II). Hendrik het met 'n leër na Londen gemarsjeer om die rebellie te onderdruk. Hy is egter oortuig om helfte van sy troepe agter te laat terwyl die ander helfte Cade by Sevenoaks ontmoet het. Cade het 'n oorwinning behaal en Londen beset. Die rebellie het op die ou einde op niks uitgeloop nie en Londen is na 'n paar dae van wanorde teruggeneem. Die rebellie het egter aangetoon dat die gevoelens van ontevredenheid hoog geloop het.

In 1450 het die Hertogdom van Akwitanië, wat sedert Hendrik II se tyd in Engelse hande was, ook verlore gegaan wat Calais as Engeland se enigste oorblywende gebied in Frankryk gelaat het. Teen 1452 is York oortuig om van Ierland af terug te keer en sy regmatige plek op die raad in te neem en 'n einde te bring aan swak regering. Sy strewe was 'n gewilde aangeleentheid en hy het spoedig 'n leër by Shrewsbury saamgestel. Die hof-party het intussen 'n soortgelyke mag in Londen byeen gebring. 'n Ontmoeting het suid van Londen plaasgevind met York wat 'n lys griewe en eise aan die hofsirkel aangebied het, insluitend die inhegtenisneming van die Hertog van Somerset. Die koning het aanvanklik ingestem, maar Margareta het tussenbeide getree om die arres van Somerset te verhoed. Teen 1453 is sy invloed herstel en was York weer geïsoleer. In tussentyd het 'n Engelse mag in Akwitanië Bordeaux herower. Die koningin het ongeveer op die selfde stadium aangekondig dat sy verwagtend was.

Die Engelse sukses in Akwitanië was egter van korte duur. Toe Hendrik in Augustus 1453 tyding ontvang het van die Engelse nederlaag het hy 'n senu-ineenstorting gehad en was nie meer bewus van wat om hom aangegaan het nie. Dit sou vir meer as 'n jaar voortduur en Henrdik sou selfs nie eers reageer op die geboorte van sy seun en erfgenaam wat gedoop is Edward (Edward van Westminster en Prins van Wallis). York het intussen 'n belangrike bondgenoot verkry, Richard Neville, Graaf van Warwick, een van die mees invloedryke magnate en moontlike selfs ryker as York self. York is regent benoem as beskermer van die Koninkryk in 1454. Hy het uiteindelik die magsposisie gehad wat hy wou hê. Die koningin is geheel en al uitgesluit en Somerset is in die Londense Tower aangehou. baie van York se ondersteuners het gerugte versprei dat die koning se kind nie syne was nie, maar Somerset s'n. Behalwe daarvoor is York se maande as regent gespandeer om die probleme van regeringswanbesteding te takel. Op Kersdag 1454 het Hendrik egter tot sy sinne gekom.

Hendrik het sy geestelike siekte waarskynlik van Karel VI van Frankryk, sy grootvader aan sy moeder se kant, geërf. Dié het oor die laaste dertig jaar van sy lewe periodes van waansin beleef. Hy het dit op sy beurt in alle waarskynlikheid van sy moeder Johanna van Bourbon geërf. Sy het self tekens van geestelike siekte vertoon en haar Bourbon familie, insluitend haar oupa Lodewyk I, Hertog van Bourbon, haar vader Pieter I, Hertog van Bourbon en haar broer Lodewyk II, Hertog van Bourbon, het almal simptome van die siekte vertoon.

Die Roseoorloë

[wysig | wysig bron]

Ontevrede adellikes wie se mag onder Hendrik se bewind gegroei het, in besonder die Grawe van Warwick en Salisbury) het sake in hulle eie hande geneem deur die aanspraak van die Huis van York te ondersteun, eers tot die Regentskap, en daarna tot die troon self. Na 'n geweldadige stryd tussen die huise van Lancaster en York in wat as een van die Roseoorloë gesien word, is Hendrik afgeset en op 4 Maart 1461 deur sy neef, Edward van York gevangene geneem. Edward van York het Koning Edward IV van Engeland geword. Teen hierdie tyd het Hendrik aan 'n erge periode van waansin gelei waar hy blykbaar gelag en gesing het tydens die tweede Slag van St. Alban. Dit het gelei tot sy vrylating. Edward was egter steeds in staat om die troon te neem, maar kon nie vir Hendrik en sy vrou, wat daarin geslaag het om na Skotland te vlug, vang nie. Tydens die eerste periode van Edward IV se bewind het Lancasterse weerstand voortgeduur, hoofsaaklik onder die leierskap van Koningin Margareta en 'n paar adellikes wat steeds lojaal was aan haar in die noordelike graafskappe van Engeland en Wallis. Hendrik is in 1465 wel deur Koning Edward gevang en is daarna in die Toring van Londen aangehou.

Koningin Margareta wat in asiel in Skotland en later in Frankryk geleef het, was vasbeslote om die troon namens haar man en seun terug te wen. Met die bystand van Koning Lodewyk XI van Frankryk het sy 'n alliansie te vorm met Richard Neville, Graaf van Warwick, wat 'n uitval met Edward IV gehad het. Nadat hy sy dogter met die Prins van Wallis laat trou het, het Warwick na Engeland teruggekeer en die Yorke in oorlog verslaan, Hendrik VI bevry en hom tot die troon herstel op 30 Oktober 1470. Hendrik se terugkeer tot die troon het nie lank geduur nie. Die jare van wegkruip gevolg deur jare van aanhouding het sy tol geëis. Hendrik het moeg en verlate gelyk toe Warwick en sy manne hom deur die strate van Londen geparadeer het as die regmatige Koning van Engeland. Die kontras met die imposante Koning Edward wat hy vervang het kon nie skerper gewees het nie. Binne 'n paar maande het Warwick te ver gestrewe toe hy oorlog teen Boergondië verklaar het. Die Hertog van Boergondië het gereageer deur Edward IV die hulp te verleen wat hy nodig gehad om die troon met mag terug te neem. Die Prins van Wallis is by die Slag van Tewkesbury in 1471 dood.

Dood en nalatingskap

[wysig | wysig bron]

Hendrik VI is in die Toring van Londen gevange gehou. Hy is op 21 Mei 1471 daar vermoor. Populêre legende het Richard, Hertog van Gloucester van sy moord beskuldig sowel as die moord op Hendrik VI se seun Edward van Westminster. Koning Hendrik VI is oorspronklik in Chertsey Abdy begrawe. In 1485 is sy oorskot na Sint George Kapel by Windsor-kasteel geskuif.

Henrdik VI is deur Edward IV, seun van Richard, Hertog van York opgevolg.

Moontlik een van die mees langdurige positiewe nalatings van sy bewind is die beleggings in opvoeding wat hy gemaak het. Hy het beide Eton College en King's College, Cambridge gestig.