Gaan na inhoud

Kiëf-Roes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kiëf-Roes
Киевская Русь / Київська Русь

882 – 13de eeu
Ligging of Kiëf-Roes
Ligging of Kiëf-Roes
Kiëf-Roes omstreeks 1000 n.C.
Hoofstad Kiëf (sedert 882)
Weliki Nowgorod (tot 882)
Taal/Tale Oud-Oos-Slawies
Godsdiens Slawiese mitologie
Oosters-Ortodoks
Regering Monargie
Wetgewer Wetsje, Raad van prinse
Historiese tydperk Middeleeue
 - Gevestig 882
 - Ontbind 13de eeu
Oppervlakte
 - 1000[1] 1 330 000 km2
513 516 sq mi
Bevolking
 - 1000[1] skatting 5 400 000 
     Digtheid 4,1 /km² 
10,5 /sq mi
Geldeenheid Griwna

Kiëf-Roes (Russies: Киевская Русь, Kijefskaja Roes; Oekraïens: Київська Русь, Kijiwska Roes), of die Kiëfse Ryk, was van die laat 9de eeu tot die middel 13de eeu ’n losse federasie[2] van Oos-Slawiese en Finse volke in Europa[3] onder die heerskappy van die Rjoerik-dinastie. Dit was die eerste georganiseerde staat met 'n Oos-Slawies-Ortodokse identiteit en die staatkundige beginpunt van 'n lang historiese proses wat in die 20ste eeu uiteindelik op die stigting van drie onafhanklike state – Rusland, Belarus en Oekraïne – sou uitloop waarin Kiëf-Roes se kulturele en godsdienstige erfenis voortleef.[4]

Wikings was berugte seerowers en plunderaars, maar ook bekwame handelaars wie se handelstrome 'n ekonomiese kringloop in die vroeë Middeleeue laat ontstaan het. Silwer was die dryfkrag agter die handelsaktiwiteite van Sweedse Wikings in Oos-Europa. Die foto wys mans- en damesklere uit die Sweedse Wiking-bloeitydperk met silwerversierings
Die doop van Kiëf-Roes, deur Wiktor Wasnetsof.

Die dryfkrag agter die vorming van Kiëf-Roes was die handelsbelange van Wiking-avonturiers wat met hul gesofistikeerde bote Oos-Europa langs sy waterweë binnegedring het om hul handelsgoedere te ruil vir een produk waarvoor die Sweedse Wiking-beskawing 'n byna onversadigbare afsetmark was – silwer uit die Midde-Ooste, een van die vernaamste Wiking-statussimbole, soos weerspieël in ruim 90 000 muntstukke en ander waardevolle voorwerpe wat argeologiese opgrawings in Skandinawië opgelewer het. Om handelsroetes te beskerm, is handelsposte langs die kus en later, as versterkte nedersettings, in die binneland gestig.

Die tweede belangrike invloedfaktor, wat Kiëf-Roes se ontwikkeling sou bepaal, was sy uitgestrektheid en sy yl bevolking. Kiëf-Roes se beskawing het gefloreer in die wye driehoek wat deur die Karpate-bergreeks, die Peipus- en Ilmenmere en die monding van die Okarivier in die Wolga gevorm is – 'n gebied groter as Sentraal-Europa. Riviere het hier geen natuurlike grense gevorm nie, maar het maklike toegang verskaf vir diegene wat die bootsboukuns bemeester het om hulle te kan bevaar. Die mees bevolkte demografiese kerngebied van Kiëf-Roes het in die loop van die 12de eeu noordwaarts begin verskuif na die boloop van die Wolga, met Soezdal en Vladimir as belangrikste nedersettings.

Kiëf het sy goue tydperk beleef tydens die bewind van Wladimir die Grote (980-1015) en sy seun Jaroslaf die Wyse (1019–1054). In dié tyd was die ryk op sy grootste en het dit gestrek van die Oossee in die noorde tot die Swartsee in die suide, en van die boloop van die Vistularivier in die weste tot die Tamanskiereiland in die ooste.[5][6] Die meeste Oos-Slawiese stamme was onder die ryk verenig.[2]

Volgens die Russiese historiografie was prins Oleg (882-912) die eerste heerser wat die Oos-Slawiese grondgebiede begin verenig het in wat as Kiëf-Roes bekend geword het. Hy het sy heerskappy uitgebrei van Nowgorod af suid met die Dnjeperriviervallei langs om handel te beskerm teen Chasaarse invalle uit die ooste,[2] en hy het sy hoofstad na die strategieser Kiëf (Kijif) geskuif. Swjatoslaf I (oorlede 972) het die Kiëfse grondgebied die eerste keer in ’n groot mate uitgebrei nadat hy die Chasare verslaan het. Wladimir die Grote het die Christendom ingevoer nadat hy self gedoop is. Kiëf-Roes was op sy grootste onder Jaroslaf die Wyse. Sy seuns het kort ná sy dood die eerste geskrewe regskode, die Roesskaja Prawda, opgestel.[7]

Die staat het in die laat 11de eeu begin agteruitgaan en in die 12de eeu in verskeie mededingende streeksmagte verbrokkel.[8] Dit is verder deur ekonomiese faktore verswak, soos die einde van die ryk se handelsbande met die Bisantynse Ryk weens die agteruitgang van Konstantinopel,[9] en die gepaardgaande verswakking van handelsroetes deur die gebied. Terwyl silwermyne in die Midde-Ooste in dié tyd blykbaar uitgeput was, het die silwermynbou in die Sentraal-Duitse Harzbergreeks in die 12de en 13de eeu 'n bloeitydperk beleef en ook in Skandinawië se behoeftes begin voorsien. Kiëf-Roes is eindelik in die 1240's deur Mongoolse invallers verower.

Tydens sy bestaan was Kiëf-Roes bekend as "die land van die Roes" (Oudslawies: Рѹ́сьскаѧ землѧ, Roesskaja zemlja, van die etnoniem Рѹ́сь, Roes; Grieks: Ῥῶς; Arabies: الروس, al-Rūs). Dit was in Grieks bekend as Ῥωσία, in Frans as Russie of Rossie, in Latyn as Russia en van die 12de eeu af ook as Roetenië.[10] Verskeie bronne vir die naam is al aangevoer, insluitende Ruotsi, die Finse naam vir Swede, en Ros, ’n stam van die middelste Dniepervalleistreek.[11]

Die term "Kiëf-Roes" is in die 19de eeu in Russiese historiografie veral deur die geskiedkundige Nikolai Karamsin (1766−1826) gevestig om te vewys na die tydperk toe Kiëf die hoofstad was.[12] Dit het daarna na ander tale uitgebrei. Tans gee Russiese en Belarussiese geskiedkundiges die voorkeur aan die meer neutrale term Oud-Russiese Staat aangesien die oorspronge van die staatswese in Nowgorod lê – nog voordat die hoofstad in 882 na Kiyv/Kiëf verskuif is.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Oorsprong

[wysig | wysig bron]
’n Benaderde etnies-linguistiese kaart van Kiëf-Roes in die 9de eeu.

Die oorsprongsgebied van Kiëf-Roes was in die uitgestrekte bosgebiede van Oos-Europa tussen Oos- en Swartsee langs 'n reeks riviere – die Dnepr (Dnipro), westelike Dwina, Lowat-Wolchof en Wolga – geleë wat almal in die Waldai-heuwelgebied ontspring. Hierdie streek is deur Oos-Slawiese, Baltiese en Finse stamgroepe bewoon en gekenmerk deur 'n eenvoudige ekonomiese stelsel van bestaanslandbou, vissery en veeteelt. Die bewoners was daarnaas ook jagters en versamelaars van vrugte, bessies, neute, sampioene, heuning en ander natuurlike produkte wat in bosse naby hul nedersettings beskikbaar was. Naas een of meer graansoorte is ertjies, lensies, vlas of hennep verbou.[13]

Elkeen van hierdie stamme het oor sy eie hoof beskik en sy eie godhede vereer, maar hulle het nogtans in aanraking met mekaar gekom deur handelsaktiwiteite soos die ruil van goedere. Op tye was hulle ook in gewapende konflikte gewikkel. Van die kosbaarste goedere, wat hierdie vroeë gemeenskappe voortgebring het (soos velle en gevangenes wat verslaaf is), is deur enkele handelaars op markte in verder afgeleë aangrensende gebiede soos Boelgar teen die middelloop van die Wolga; Itil, die hoofstad van die Kazareryk aan die rivier se boloop; en die Bisantynse buitepos Cherson – 'n kusoord op die Krim-skiereiland – verhandel vir oosterse luukse goedere en silwermunte.

Die presiese omstandighede van die transformasieproses, wat hierdie vroeë stamgroepe in die gemeenskaplike staat Kiëf-Roes saamgesnoer het, bly in die newels van die lewe gehul. Ou legendes en literêre bronne, wat in latere periodes ontstaan het, dui net soos die kennis wat deur argeologiese opgrawings opgedoen is, maar ook die aantekeninge van vreemde waarnemers en besoekers, daarop dat Skandinawiese avonturiere wat as Warangiërs, Wikings of Roes beskryf word, die gebied van Kiëf-Roes in die vroeë 9de eeu binnegedring het. Wolga-markdorpe met hul silwer-rykdomme was hul eerste teiken. Silwermunte en luukse goedere, wat deur roof en plunderinge verkry is, is deur hulle op dieselfde markte verhandel waaraan Slawiese handelaars besoeke gebring het.

Gedurende die 9de eeu is steeds meer langdurige bande met die plaaslike Slawiese bevolkings gesmee. Warangiërs-groepe het as beskermhere opgetree vir Slawiese gemeenskappe en hulle in ruil vir gereelde tribuutbetalings beskerm teen mededingende Skandinawiese roofbendes. Hierdie verhoudings het nie net geblyk om stabiel te wees nie, maar het albei partye tot voordeel gestrek. Slawiese gemeenskappe is nie langer bllotgestel aan sporadiese, maar gewoonlik bloedige aanvalle, terwyl die gewapende Warangiërs in hul behoeftes aan 'n verskeidenheid goedere kon voorsien in ruil vir silwer en oosterse luukse goedere. Geleidelik het die Warangiër- of Roes-leiers die status en karakter van heersers verwerf wat oor Slawiese onderdane geregeer het.[14]

19de en 20ste eeuse nasionalistiese teorieë

[wysig | wysig bron]

Tot in die 19de eeu het wetenskaplikes algemeen aanvaar dat die Roes, na wie in die Nestorkroniek verwys word, van Skandinawiese afkoms was. Vanaf die 18de eeu het nasionaalgesinde Russiese historici pogings onderneem om die Normanistiese teorie te weerlê en 'n Slawiese oorsprong te konstrueer – 'n hipotese waarna as anti-Normannisme verwys word.[15] Die – beweerde – skaarste aan bronne uit dié tyd het ook aan westerse kant soms ontaard tot wilde spekulasies. So is die Franse Sentraalmassief, Dalmasië en die Duitse Oossee-eiland Rügen as moontlike geografiese oorsprong van die Roes voorgestel.

Vanaf die laat 1920's het 'n nuwe generasie Sowjet-Russiese geskiedkundiges die Normannistiese teorie weer begin steun nadat nasionalisties-burgerlike strominge met die Russiese Rewolusie gaandeweg aan belangrikheid verloor het. So is in Leningrad in 1928 'n gedenkskrif ter ere van die Deense taalkundige Vilhelm Thomsen (1842−1927) gepubliseer – 'n deskundige wat met sy navorsing en ontleding internasionale aansien geniet het en in sy werk The relations between ancient Russia and Scandinavia, and the origin of the Russian state, wat in 1977 in Londen en Oxford verskyn het, steun aan die Normannistiese hipotese verleen het. Soos die Sowjet-Russiese historikus A. E. Presnyakov dit gestel het, is die Normannistiese teorie destyds as vaste bestanddeel van Russiese geskiedskrywing aanvaar. Nog in 1936 het 'n handboek vir geskiedenisonderrig in Russiese hoërskole, wat onder medewerking van die historikus Boris Grekov (1882−1953), een van die voorste Sowjet-Russiese kenners van die geskiedenis van Kiëf-Roes en die Goue Horde, ontstaan het, berig van die "verowering van Slawiese vorstedomme en stamme deur Warangiër-Noormanne (9de eeu)".[16]

Niemand anders as Josef Stalin het in die tyd van die Groot Terreur daarop aangedring dat die Russiese historiografie hersien moes word – met die doelwit om 'n suiwer Russiese oorsprong van Kiëf-Roes uit te beeld. Met die Marxistiese historikus Michail Nikolaevič Pokrovskij (1868−1932), skrywer van 'n omvattende werk oor die geskiedenis van Rusland vanuit 'n Marxistiese oogpunt, is dan ook 'n maklike sondebok vir die beweerde vervalsing van Kiëf-Roes se vroeë geskiedenis gevind. Hy is van "vulgêre sosiologisme" beskuldig en sy werke, wat – as 'n mens hulle noukeurig gelees het – ook eksplisiet as 'n kritiek op Stalin se kultus van persoonlikheid geïnterpreteer kon word, is verbied. Die nasionaalgesinde geskiedskrywing is verder gestaaf met Boris Grekov se beskrywing van die feodale verhouding tussen adellike grondbesitters en 'n plattelandse boerebevolking as blote diensverskaffers.

Die nuwe amptelike geskiedskrywing het die Roes beskryf as 'n nasionale variant van 'n maatskaplike verskynsel wat hom ook elders in Europa voorgedoen het en uit die vroeg-feodale landboubeskawings van die 6de en 7de eeu sou voortgespruit het. Sodoende was daar geen plek meer vir eksterne rolspelers nie. Stelselmatige argeologiese opgrawings in Middeleeuse Nowgorod, wat vanaf 1939 gedoen is, was daarop gemik om die nuwe nasionaalgesinde hipotese te staaf.[17] Die patriotiese mobilisering, wat met die Duitse aanval in Junie 1941 van stapel gestuur is, het nuwe stukrag aan Slawies getinte histories-sosiologiese teorieë verleen. Ná 1945 is die debat as afgesluit beskou. Selfs die verbrokkeling van die Sowjetunie en nuwe akademiese vryhede sedert 1992 het nie onmiddellik aanleiding gegee tot 'n omvattende hersiening van Sowjet-Russiese historiografiese dogma's nie.[18]

In ’n mate hou die Slawies-sosiologiese hipoteses verband met die stigtingsmites van moderne state in die streek, maar ook met 20ste en 21ste eeuse pogings om Kiëf tot die sakrale en spirituele bakermat van Rusland te verklaar – 'n standpunt waaraan reeds in die Stalin-tydperk gebieds- en magsaansprake verbonde was wat nog eens in die Oekraïne-konflik van die 21ste eeu bevestig is.[19] Volgens die "Normannistiese" siening was die Roesvolk Skandinawiërs, terwyl Russiese en Oekraïense nasionalistiese geskiedkundiges gewoonlik meen hulle was Slawiërs.[20][21][22] Normanistiese teorieë is geskoei op die vroegste geskrewe bron van die Oos-Slawiërs, die Kroniek van Verbye Dae (Nestorkroniek),[23] maar selfs hierdie weergawe dateer eers van die 12de eeu.[24]

Volgens nasionalistiese weergawes was die Roesvolk in die streek teenwoordig voor die koms van die Warangiërs[25] en word net ’n hand vol Skandinawiese woorde in moderne Russies aangetref; die Skandinawiese name in die vroeë kronieke is kort daarna deur Slawiese name vervang.[26] Volgens argeologiese bewyse was ’n Skandinawiese volk egter op die laatste in die 10de eeu in die streek aanwesig.[27] Alles in ag genome, lyk dit of die Roesvolk ’n klein meerderheid Skandinawiërs was wat ’n regerende elite gevorm het, terwyl die meeste van hul onderdane Slawiërs was.[26] As die taalkundige argumente van die nasionalistiese geleerders in ag geneem word, het die proto-Roesvolk, as hulle Skandinawiërs was, gou genaturaliseer geraak en die Slawiese taal en ander kultuurpraktyke aangeneem.

Ahmad ibn Fadlan, ’n Arabiese reisiger van die 10de eeu, het een van die vroegste beskrywings van die Roes verskaf: "Hulle is so lank soos ’n dadelpalm, blond en blosend, en dra nie ’n tuniek of mantel nie; die mans dra eerder kledingstukke wat net die helfte van hul liggaam bedek en een van hul hande vry laat."[28] Liutprand van Cremona, wat twee keer ’n verteenwoordiger aan die Bisantynse hof was, in 949 en 968, identifiseer die "Russi" met die Nore ("die Russi, wat ons ook Nore noem"),[29] maar verduidelik die naam is ’n Griekse term wat na hul fisieke voorkoms verwys.[30] Leo die Deken, ’n 10de-eeuse Bisantynse historikus en kroniekskrywer, verwys na die Roes as die "Skitiërs" en sê hulle is geneig om Griekse rituele en gebruike aan te neem.[31]

Normannisme en nuutste navorsing deur Duitse deskundiges

[wysig | wysig bron]

Die eerste grondleggende werke, wat die Normannistiese teorie van Ou Rusland as Skandinawiese stigting steun, is in Duitsland gepubliseer. Die vroegste werke in hierdie verband is in 1729 en 1736 het uit die pen van Siegfried Gottlieb Bayer gekom. Toe een van sy kollega's, Gerhard Friedrich Müller, in 1749 'n lesing oor die Ursprünge des Stammes und Namens der Russen in die Sint Petersburgse Akademie van Wetenskappe gehou het, is sy referaat kenmerkend genoeg luidkeels deur die astronoom Nikita Ivanovič Popov onderbreek. Müller is as leuenaar bestempel en vervolgens verbied om verdere navorsingswerk oor die historiese oorspronge van Rusland te doen.[32]

In sy omvattende werk oor die geskiedenis van Rusland, Geschichte Russlands, wat in 2016 gepubliseer is, het Manfred Hildermeier, geskiedkundige en afgetrede hoogleraar aan die Universiteit van Göttingen en deskundige vir die geskiedenis van Oos-Europa, 'n oortuigende samestelling van alle argumente gelewer wat nasionaalgesinde teorieë weerlê en die Skandinawiese oorsprong van Warangiërs bevestig.[33] Die staatvormende invloed van die Roes of Warangiërs toon daarnaas interessante parallele met Normandië en Normandiese Engeland.

As destydse bronne en taalkundige spore noukeurig ontleed word, laat wetenskaplike bevindinge baie min ruimte vir die Slawiese oorsprongsmite. So het die Bisantynse keiser Konstantyn Porphyrogennetos teen die middel van die 10de eeu uitdruklik na die Skandinawiese oorsprong van Kiëf-Roes se elites verwys. 'n Gesantskap van Kiëf-Roes, wat in 839 'n besoek gebring het aan die hof van die Frankiese koning, was ongetwyfeld van Sweedse afkoms.

Taalkundige ondersoeke bevestig die Skandinawiese herkoms van persoonsname (so is Roerik net 'n variant van die Nordiese Hrörekr), terwyl Finssprekende kusbewoners na Skandinawiese seerowers as Ruotsi verwys het – "roeiers" dus (Ruotsi is in moderne Fins steeds die benaming vir Swede). Slawiessprekendes het hierdie benaming oorgeneem as Roes.

Uitnodiging van die Warangiërs

[wysig | wysig bron]
Uitnodiging van die Warangiërs, deur Wiktor Wasnetsof: Rjoerik en sy broers, Sineus en Truvor, kom aan in die land van die Slawiërs.

Volgens die Primêre Kronieke was die grondgebied van die Oos-Slawiërs in die 9de eeu verdeel onder die Warangiërs en die Kazare.[34] Die Warangiërs word die eerste keer genoem toe hulle in 859 heffings van die Slawiese en Finse volke geëis het.[35] In 862 het die Slawiese en Finse volke in die omgewing van Nowgorod in opstand gekom teen die Warangiërs en hulle teruggedryf "na oorkant die see; hulle het geweier om verdere heffings te betaal en besluit om oor hulself te regeer". Dié volke het egter geen wette gehad nie en het gou teen mekaar begin oorlog maak. Hulle het toe ooreengekom om die Warangiërs te nooi om terug te kom en vrede in die streek te herstel. Hulle het oorsee na die Warangiese Roesvolk gegaan en gesê: "Ons land is groot en ryk, maar daar is geen orde nie. Kom regeer oor ons." Hulle het drie broers gekies, en dié het saam met hul families en die hele Roesvolk migreer.[36]

Die drie broers – Rjoerik (Rurik), Sineus en Truvor – het hulle in onderskeidelik Nowgorod, Beloozero en Izborsk gevestig.[37] Twee van die broers het later gesterf, en Rjoerik het die alleenheerser van die streek en die stamvader van die Rjoerik-dinastie geword.[38] ’n Kort rukkie later het twee van Rjoerik se manne, Askold en Dir, sy toestemming gevra om na Tsargrad (Konstantinopel) te gaan. Op pad suid het hulle op "’n klein stad op ’n heuwel," Kiëf, afgekom. Hulle het die stad en omringende gebied van die Chasare afgeneem en nog Warangiërs in die streek gevestig.[39][40]

Die Kronieke vertel hoe Askold en Dir in 863-'66 met ’n vloot teen Konstantinopel opgeruk, die Bisantyne onkant betrap en die omringende gebied verwoes het,[40] hoewel ander weergawes meen die aanval was in 860.[41] Patriarg Photios van Konstantinopel het die verwoesting van die voorstede en nabygeleë eilande beskryf,[42] en ’n ander verslag bevestig die bloedbad.[43] Die Roes het omgedraai voordat hulle die stad self bereik het, óf weens ’n storm wat hul bote uiteengedryf het óf die terugkeer van die keiser óf in ’n latere weergawe vanweë ’n wonderwerk nadat die patriarg en keiser ’n beroep om beskerming op die Maagd Maria gedoen het.[44] Die aanval was die eerste skermutseling tussen die Roes en die Bisantyne en het daartoe gelei dat die patriarg sendelinge noord gestuur het in ’n poging om die Roes en die Slawiërs te bekeer.[45][46]

Stigting van die Kiëfse staat

[wysig | wysig bron]
Die Oos-Slawiese volke in die 8ste en 9de eeu.

Rjoerik het tot met sy dood omstreeks 879 regeer en die prinsdom aan een van sy familielede, Oleg, nagelaat as regent vir sy jong seun, Igor.[40][47] In 880-'82 het Oleg ’n militêre mag teen die Dnieperrivier af suid gelei. Hy het Smolensk en Ljoebetsj verower voordat hy Kiëf bereik het. Hier het hy Askold en Dir vermoor en homself tot prins verklaar, en Kiëf tot "die moeder van Roesstede".[48][49] Oleg het sy mag hierna oor die omringende streek en die riviere noordwaarts na Nowgorod gekonsolideer, en heffings aan die Oos-Slawiese volke opgelê.[39][50] Teen 885 het hy die ander Slawiese volke verower en hulle verbied om verdere heffings aan die Chasare te betaal. Hy het die verowering van Roesforte op Slawiese grondgebied voortgesit wat in die noorde deur Rjoerik begin is.[51]

Die nuwe Kiëfse staat het floreer danksy ’n groot voorraad pelse, byewas, heuning en slawe wat hy uitgevoer het,[52] en ook omdat hy drie hoofhandelsroetes in Oos-Europa beheer het. In die noorde het Nowgorod gedien as ’n handelskakel tussen die Oossee en die Wolga-handelsroete na die land van die Wolga-Bulgare, die Chasare en oor die Kaspiese See tot by Baghdad; dit het toegang verskaf tot markte en produkte van Sentraal-Asië en die Midde-Ooste.[53][54] Handel van die Oossee het ook suidwaarts plaasgevind op ’n netwerk riviere aan die Dnieper wat bekend gestaan het as die "roete van die Warangiërs na die Grieke"; van daar het dit gestrek tot by die Swartsee en Konstantinopel. Kiëf was ook ’n sentrale buitepos aan die Dnieper-roete en ’n middelpunt van die oos-wes-handelsroete tussen die Chasare en die Germaanse lande van Sentraal-Europa.[55] Dit het die Roesvolk se handelaars en prinse verryk, en geld verskaf vir militêre magte en die bou van kerke, paleise, forte en nog dorpe.[54] ’n Aanvraag na luuksegoedere het gelei tot die vervaardiging van duur juweliersware en godsdienstige artikels, maniere om dit uit te voer en moontlik ’n gevorderde krediet-en-geldleenstelsel.[52]

Vroeë buitelandse betrekkinge

[wysig | wysig bron]

Wisselvallige steppepolitiek

[wysig | wysig bron]
Die Wolga-handelsroete (rooi), die "roete van die Warangiërs na die Grieke" (pers) en ander handelsroetes van die 8ste tot 11de eeu (oranje).

Die vinnige suidwaartse uitbreiding van die Roesvolk het gelei tot konflik en wisselvallige betrekkinge met die Kazare en ander bure op die steppe aan die Swartsee.[56][57][58] Die Chasare het in die 8ste eeu die steppe oorheers;[59] hulle het met die Bisantynse Ryk handelgedryf en dikwels bondgenootskappe met hulle gesluit teen die Perse en Arabiere. In die laat 8ste eeu het die verval van die Khanaat van die Blouturke daartoe gelei dat die Magjare en Petsjenege, Oegriese en Turkse volke van Sentraal-Asië, weswaarts na die steppestreek migreer het,[60] en dit het militêre konflik, ’n ontwrigting van handel en onstabiliteit in die Chasaarse khanaat veroorsaak.[61] Die Roes en Slawiërs het voorheen met die Chasare saamgespan teen Arabiese invalle in die Kaukasus, maar het nou toenemend teen hulle gewerk om beheer oor die handelsroetes te verseker.[62]

Die Bisantynse Ryk het gebruik gemaak van die onrus in die gebied om sy politieke invloed en handelsbande uit te brei, eers met die Kazare en daarna die Roes en ander volke op die steppe.[56]

Die uitbreiding van die Roes het militêre en ekonomiese druk op die Kazare geplaas en gelei tot minder grondgebied, toegang tot riviere en handel.[63] Omstreeks 890 het Oleg ’n onbesliste oorlog in die gebied van die Laer-Dniester en -Dnieper gevoer teen die Tivertse en die Oelitsje, wat waarskynlik as vasalle van die Magjare opgetree het; hulle het die Roes se toegang tot die Swartsee geblokkeer.[64][65] In 894 is die Magjare en Petsjenege betrek by die oorloë tussen die Bisantyne en die Bulgaarse Ryk. Die Bisantyne het gereël dat die Magjare Bulgarye uit die noorde aanval, en die Bulgare het op hul beurt die Petsjenege oorrreed om die Magjare van agter aan te val. Die Magjare was vasgekeer en moes noodgedwonge verder wes oor die Karpate migreer tot in die Hongaarse vlakte. Dit het die Kazare van ’n belangrike bondgenoot en ’n buffer teen Kiëf-Roes ontneem.[66][67]

Die migrasie van die Magjare het meegebring dat die Roes weer toegang tot die Swartsee gehad het,[68] en hulle het die Kazare gou begin aanval aan die seekus, met die Donrivier op tot in die Laer-Wolgastreek. Die Roes het sedert 864 aanvalle geloods op die Kaspiese See-streek,[69] met die eerste grootskaalse ekspedisie in 913 toe hulle Bakoe, Gilan en Mazandaran verwoes en tot in die Kaukasus ingedring het.[70][71][72]

Namate die 10de eeu gevorder het, kon die Kazare nie meer heffings van die Wolga-Bulgare eis nie en hul betrekkinge met die Bisantynse Ryk het versuur terwyl die Bisantyne al hoe meer bondgenootskappe met die Petsjenege teen hulle gesluit het.[73] Die Petsjenege kon dus die grondgebied van die Kazare vanaf hul basis tussen die Wolga en Don aanval, en so het hulle na die weste uitgebrei.[57] Kiëf-Roes se betrekkinge met die Petsjenege was ingewikkeld omdat die twee groepe afwisselend bondgenootskappe met en teen mekaar gesluit het. Die Petsjenege was nomades wat op die steppe rondgetrek het met hul vee, wat hulle by die Roes geruil het vir landbou- en ander produkte.[74] Die winsgewende handel van die Roes met die Bisantynse Ryk het deur die gebied geloop wat deur die Petsjenege beheer is, en dit was dus noodsaaklik dat betrekkinge vreedsaam is. Tog, terwyl die Primêre Kronieke vertel hoe die Petsjenege Roes-grondgebied in 915 binnegeval en daarna vrede gemaak het, was hulle in 920 al weer aan die oorlog voer.[75][76] Die Petsjenege het Kiëf-Roes later gehelp in sy veldtog teen die Bisantyne, maar op ander tye weer met die Bisantyne bondgenootskappe teen die Roes gesluit.[77]

Roes-Bisantynse betrekkinge

[wysig | wysig bron]
Die Glagolitiese alfabet van Cyrillus en Methodius.
Die Roes onder die mure van Konstantinopel (860).

Ná Askold en Dir se aanval op Konstantinopel in 860 het die Bisantynse patriarg Photios sendelinge na die noorde gestuur om die Roes en die Slawiërs te kersten. Prins Rastislav van Morawië het die keiser gevra om onderwysers te verskaf om die Heilige Skrif te vertolk, en in 863 is die broers Cyrillus en Methodius as sendelinge gestuur vanweë hul kennis van die Slawiese taal.[46][78][79]

Die Slawiërs het nie ’n skryfstelsel gehad nie en die broers het die Glagolitiese alfabet ontwerp wat later tot die Cyrilliese alfabet ontwikkel is. Hulle het die Slawiërs se taal gestandaardiseer en dit het later bekend geword as Ou Kerkslawies. Hulle het dele van die Bybel vertaal en die eerste Slawiese burgerlike wetboek en ander dokumente opgestel. Die taal en tekste het deur die Slawiese gebiede versprei, ook na Kiëf-Roes. Cyrillus en Methodius se sending was beide evangelies en diplomaties en hulle het die Bisantynse kulturele invloed versprei ter ondersteuning van keiserlike buitelandse beleid.[80] In 867 het die patriarg aangekondig dat die Roes ’n biskop aanvaar het en in 874 praat hy van ’n "Aartsbiskop van die Roes".[45]

Betrekkinge tussen Kiëf-Roes en Bisantium het ingewikkelder geraak nadat Oleg beheer oor Kiëf oorgeneem het, wat betref kommersiële, kulturele en militêre kwessies.[81] Die rykdom en inkomste van die Roes was in ’n groot mate afhanklik van handel met Bisantium. Konstantyn Porphyrogennetos het die jaarlikse reis van die prinse van Kiëf beskryf wanneer hulle heffings van ander volke ingesamel het, die produkte in ’n vloot van honderde bote gelaai en met die Dnieper af na die Swartsee gevaar het. Daarna het hulle na die monding van die Dniester, die Donaudelta, gevaar en verder tot by Konstantinopel.[74][82] Op hul terugvaart sou hulle sy, speserye, wyn en vrugte aan boord hê. Die belangrikheid van hierdie handelsbetrekkinge het tot militêre optrede gelei as dispute sou ontstaan.

Volgens die Primêre Kronieke het die Roes Konstantinopel weer in 907 aangeval, moontlik om handelstoegang te verseker. In die Kronieke word die militêre vaardigheid en uitgeslapenheid van Oleg besing, en dit wemel van legendariese besonderhede.[45][83] Bisantynse bronne noem nie die aanval nie, maar wel verdrae in 907 en 911 en ’n handelsooreenkoms met die Roes,[75][84] waarvan die voorwaardes dui op druk op die Bisantyne, wat aan die Roes verblyf en voorraad vir hul handelaars en belastingvrye handelsvoorregte in Konstantinopel aangebied het.[45][85]

In die Kronieke is ’n mitiese verhaal oor Oleg se dood. ’n Waarsêer het voorspel dat ’n sekere perd die prins se dood sou veroorsaak. Oleg het beslag op die perd gelê en dit is later dood. Oleg het die perd besoek en oor sy karkas gestaan, baie tevrede dat hy die bedreiging oorleef het. ’n Slang wat in die perd se skedel was, het hom egter gepik en hy is kort daarna dood.[86][87] Volgens die Kronieke is Oleg in 913 deur Igor opgevolg en ná ’n paar kort konflikte met die Drewliane en Petsjenege het vrede vir die volgende 20 jaar geheers.

Prinses Olga se wraak teen die Drewliane.

In 941 het Igor weer ’n groot aanval op Konstantinopel geloods, moontlik weer oor handelsregte.[45][88] ’n Vloot van 10 000 skepe, insluitende Petshenege-bondgenote, het aan die Bitiniese kus geland en die Asiatiese kant van die Bosporus verwoes.[89] Die aanval was goed beplan, want die Bisantynse vloot het in dié tyd oorlog gevoer teen die Arabiere in die Mediterreense gebied en die grootste deel van sy leër was in die ooste. Die Roes het dorpe, kerke en kloosters afgebrand, mense vermoor en buit versamel. Die keiser het gereël dat ’n ou, klein vloot skepe wat met Griekse vuur toegerus was, die Roes aanval.[90] Talle het verbrand of verdrink en baie ander is deur die Bisantyne onthoof. Dit het die Roes se vloot verdryf, maar hulle het hul wrede aanval voortgesit aan die buitewyke van Bisantium. Eindelik het ’n Bisantynse leër ’n einde aan die aanval gemaak en die Roes teruggedryf. Dit dui op ’n vergroting van Bisantium se militêre mag sedert 911 en dus ’n verskuiwing van die magsbalans.[89]

Igor het na Kiëf teruggekeer om wraakplanne te beraam. Hy het ’n groot mag onder sy Slawiese en Petsjenege-bondgenote bymekaargemaak en hulle aangevul met Warangiese versterkings "van oor die see".[90][91] In 944 het die mag die Grieke op land en see aangeval. Die Bisantyne keiser het egter vrede gemaak en ’n vredesverdrag is in 945 onderteken. Dit het weer op handel gefokus, maar hierdie keer was die voorwaarders minder gunstig vir die Roes, met streng maatreëls oor die gedrag van Roes-handelaars in Konstantinopel en spesifieke strawwe vir wetsoortredings.[92] Die Bisantyne het dalk vrede gemaak uit vrees vir ’n uitgerekte stryd teen ’n gesamentlike mag van die Roes, Petsjenege en Bulgare,[93] maar die minder gunstige voorwaardes dui weer eens op ’n verskuiwing van mag.[89]

In 945 is Igor deur die Drewliane vermoor.

Olga en Swjatoslaf

[wysig | wysig bron]
Ontmoeting tussen Johannes Tzimiskes en Swjatoslaf.

Ná Igor se dood het sy vrou, Olga, as regent regeer tot hul seun, Swjatoslaf, meerderjarig was (omstreeks 963). In die Primêre Kronieke is ’n verhaal, waarskynlik ’n mite, van hoe Olga teen die Drewliane wraak geneem het vir Igor se dood. Die Drewliane wou hê Olga moes ná haar man se dood met hul prins Mal trou. Sy wou egter die troon vir haar seun bewaar. Nadat die Drewliane 20 van hul beste manne na Olga gestuur het om haar te oorreed om met Mal te trou, het sy hulle lewend laat begrawe. Sy stuur toe ’n boodskap aan die Drewliane dat sy die huweliksaanbod aanvaar, maar dat hulle mans van die hoogste stand na haar moes stuur sodat haar mense die aanbod kon goedkeur. Dié mans het sy in ’n badhuis laat verbrand. Daarna het sy die Drewliane genooi na ’n begrafnisdiens vir haar man. Daar het haar soldate 5 000 van hulle vermoor.[94] Sy het toe hul hoofstad onder beleg geplaas en die meeste inwoners laat verbrand. Van dié wat gevlug het, is doodgemaak en die res is as slawe aan haar mense gegee.[95] Olga was die eerste heerser van Kiëf-Roes wat haar tot die Christendom bekeer het.

Swjatoslaf se dekade lange bewind oor Kiëf-Roes is gekenmerk deur vinnige uitbreiding deur middel van die verowering van die Chasare op die steppe aan die Swartsee en sy inval in die Balkan. Teen die einde van sy kort lewe het Swjatoslaf oor die grootste staat in Europa geheers. Hy het ook in 969 sy hoofstad van Kiëf na Perejaslawets aan die Donau geskuif.

In teenstelling met sy ma se bekering tot die Christendom, het Swjatoslaf en sy gevolg heidene gebly. Weens sy skielike dood in ’n lokval in 972 was Swjatoslaf se verowerings nie in ’n funksionele ryk gekonsolideer nie. Sy versuim om ’n stabiele opvolging te verseker het ook gelei tot ’n oorlog tussen sy drie seuns waarin twee vermoor is.

Wladimir en die Christendom

[wysig | wysig bron]
Ivan Eggink se skildery van Wladimir wat na die Ortodokse priesters luister, terwyl die pous se afvaardiging ontevrede eenkant staan.
Die Doop van Sint Prins Wladimir, deur Wiktor Wasnetsof.

Dit is nie duidelik wanneer die titel "grootprins" of "grootvors" begin gebruik is nie, maar die belangrikheid van die Kiëfse prinsdom is ná die dood van Swjatoslaf I in 972 en die daaropvolgende stryd tussen Wladimir die Grote en Jaropolk I besef. Kiëf het die staat Kiëf-Roes vir die volgende twee eeue oorheers. Die grootprins (weliki knjaz) van Kiëf het die grondgebied om die stad beheer en sy mindere familielede het oor die ander stede regeer en aan hom heffings betaal. Die hoogtepunt van die staat se mag was tydens die bewind van Wladimir die Grote (980-1015) en Jaroslaf die Wyse (1019–1054). Albei heersers het die stelselmatige uitbreiding van Kiëf-Roes voortgesit wat onder Oleg begin is.

Wladimir was die prins van Nowgorod toe sy pa, Swjatoslaf I, in 972 sterf. Hy moes in 976 na Skandinawië vlug nadat sy halfbroer, Jaropolk, sy ander broer, Oleg, vermoor en beheer oor Kiëf-Roes geneem het. In Skandinawië het ’n familielid van hom, graaf Håkon Sigurdsson, die heerser van Noorweë, hom gehelp om ’n Wiking-leër op die been te bring en Nowgorod en Kiëf van Jaropolk af te vat.[96] Wladimir se merkwaardigste prestasie as prins van Kiëf was die kerstening van Kiëf-Roes, ’n proses wat in 988 begin het.

Volgens die Primêre Kronieke het Wladimir, nadat hy besluit het om ’n nuwe geloof te aanvaar in die plek van die tradisionele Slawiese afbeeldaanbidding, van sy beste raadgewers en vegters na verskillende dele van Europa gestuur. Hulle het die Christene van die Weste, die Jode en die Moslems besoek voordat hulle eindelik in Konstantinopel aangekom het. Hulle het Islam verwerp omdat dit die verbruik van alkohol verbied het, Judaïsme omdat hul god toegelaat het dat sy uitverkore volk hul land verloor en die Roomse kerk omdat dit vervelig was. Maar in Konstantinopel is hulle verstom deur die skoonheid van die Hagia Sophia-katedraal en die liturgiese dienste wat daar gehou is. Terug by die huis het hulle Wladimir oortuig die Bisantynse liturgie is die beste keuse. Wladimir het Konstantinopel daarna besoek en ’n huwelik gereël met Anna, suster van die Bisantynse keiser, Basilius II.[97]

Wladimir se keuse van die Oosterse Christendom kon ook gewees het vanweë sy sterk persoonlike band met Konstantinopel, wat die Swartsee en dus handel aan Kiëf se belangrikste handelsroete, die Dnieperrivier, oorheers het. Lojaliteit teenoor die Oostelike kerk het politieke, kulturele en godsdienstige langtermyngevolge gehad. Die kerk het ’n liturgie gehad wat ook in die Cyrilliese skrif geskryf was en ’n korpus geskrifte wat uit Grieks vir die Slawiërs vertaal is. Dit het die bekering van die Oos-Slawiërs tot die Christendom vergemaklik en hulle bekend gestel aan elementêre Griekse filosofie, wetenskap en geskiedenis sonder die nodigheid om Grieks te leer.[98] In teenstelling moes opgevoede mense in die Middeleeuse Wes- en Sentraal-Europa Latyn leer. Omdat hulle dit nie hoef te gedoen het nie, was die Oos-Slawiërs vry om hul eie letterkunde en kuns te ontwikkel. Ná die Groot Skisma van 1054 het die Roes-kerk aanvanklik gemeenskap met beide die Rooms-Katolieke Kerk en die Oosters-Ortodokse Kerk behou, maar saam met die ander Oosterse kerke eindelik van Rome afgeskei om die Oosterse Ortodoksie te volg.

Goue tydperk

[wysig | wysig bron]
Die Goue Poort, wat deel was van Jaroslaf se uitgebreide fortifisering van Kiëf.

Jaroslaf, bekend as "die Wyse", was in ’n magstryd met sy broers gewikkel. Hy was die seun van Wladimir die Grote en onderheerser van Nowgorod toe sy pa in 1015 sterf. Daarna het sy oudste oorlewende broer, Swjatopolk die Vervloekte, drie van sy ander broers vermoor en die mag in Kiëf oorgeneem. Jaroslav, met die steun van die inwoners van Nowgorod en die hulp van Wiking-huursoldate, het Swjatopolk verslaan en in 1019 grootprins van Kiëf geword.[99] Hy het egter eers in 1036 die onbetwiste mag in Kiëf-Roes gehad.

Nes Wladimir was Jaroslaf gretig om betrekkinge met die res van Europa te verbeter, veral met die Bisantynse Ryk. Sy kleindogter, Efpraksia, die dogter van sy seun Wsewolod, was getroud met die Romeinse keiser, Hendrik IV. Jaroslaf het ook huwelike vir sy suster en drie dogters gereël met die konings van Pole, Frankryk, Hongarye en Noorweë. Hy het die eerste Oos-Slawiese regskode, Roesskaja Prawda afgekondig; die Sint Sofia-katedraal in Kiëf en in Nowgorod laat bou, die plaaslike geestelikes en kloosterlewe ondersteun en na bewering Kiëf-Roes se skoolstelsel begin.

In die eeue sedert die staat se stigting het Rjoerik se afstammelinge beheer oor Kiëf-Roes gedeel. Die prinslike opvolging het van ouer broer na jonger broer gegaan en van oom na broerskind, sowel as van vader na seun. Junior lede van die dinastie het gewoonlik hul amptelike loopbaan as die heerser van ’n kleiner distrik begin en dan gevorder tot belangriker prinsdomme, en daarna meegeding om die troon van Kiëf.

Agteruitgang en verbrokkeling

[wysig | wysig bron]
Wladimir Monomach rus ná ’n jagtog, deur Wiktor Wasnetsof.

Die geleidelike verval van Kiëf-Roes het in die 11de eeu begin, ná die dood van Jaroslaf die Wyse. Die posisie van die grootprins van Kiëf het verswak weens die toenemende invloed van streeksclans.

’n Ongewone opvolgingstelsel het bestaan waardeur die mag na die oudste lid van die regerende dinastie gegaan het en nie van vader na seun nie. In die meeste gevalle was dit na die oudste oorlewende broer van die heerser, en dit het gelei tot konstante haat en wedywering binne die familie. Broers het mekaar dikwels vermoor om die mag te bekom en dit het ’n hoogtepunt bereik onder die seuns van Jaroslaf die Wyse. Drie van sy seuns het die een ná die ander in Kiëf regeer: Isjaslaf I, Swjatoslaf II en Wsewolod I. Laasgenoemde is opgevolg deur Isjaslaf I se seun, Swjatopolk II. Hy was nie baie gewild nie en was in ’n voortdurende stryd gewikkel met sy neef, Wladimir Monomach, seun van Wsewolod I.

Toe Swjatopolk II in 1113 sterf, het die bevolking van Kiëf in opstand gekom en Wladimir Monomach genooi om oor die hoofstad te regeer. Hy is geesdriftig ontvang en het tot met sy dood in 1125 geheers. Hy het hervormings ingevoer met die doel om sosiale spanning in die hoofstad te kanaliseer. Onder sy bewind het Kiëf-Roes ’n laaste bloeityd beleef.

Die agteruitgang van Kiëf-Roes se belangrikste handelsvennoot, Konstantinopel, het ’n belangrike rol gespeel in die staat se verval. Kiëf-Roes se profyt het opgedroog en Kiëf het ongewild geword. Die laaste heerser wat ’n verenigde staat kon handhaaf, was Walidimir Monomach se oudste seun, Mstislaf die Grote, wat sy pa in 1125 opgevolg het. Ná sy dood in 1132 het Kiëf-Roes vinnig agteruitgegaan. Die volgende heerser, Mstislaf se broer, Jaropolk II, se bewind is gekenmerk deur konflik met die opkomende Republiek Nowgorod.

In 1169, terwyl groot interne konflik in Kiëf-Roes geheers het, het Andrei Bogoljoebski van Wladimir Kiëf verwoes. Dit het die beeld van Kiëf verander en was ’n weerspieëling van die verbrokkeling van Kiëf-Roes.[100] Teen die einde van die 12de eeu het die staat nog verder verdeel in rofweg 12 verskillende prinsdomme.[101]

Die Kruistogte het ’n verskuiwing van Europa se handelsroetes meegebring en dit het die verval van Kiëf-Roes verder verhaas. In 1204 het die magte van die Vierde Kruistog Konstantinopel verwoes en die Dnjeper-handelsroete onbelangrik gemaak.[9] Ander stede soos Nowgorod, Tsjernigof, Rjazan en Polotsk het later ontwikkel.

In die noorde

[wysig | wysig bron]

In die noorde het die Republiek Nowgorod vooruitgegaan omdat dit handelsroetes van die Wolga na die Oossee beheer het. Terwyl Kiëf-Roes agteruitgegaan het, het Nowgorod al hoe onafhankliker geraak. ’n Plaaslike oligargie het oor Nowgorod geheers; groot besluite is geneem deur ’n stadsraad, wat ’n prins as die stad se militêre leier gekies het. In 1136 het Nowgorod teen Kiëf in opstand gekom en onafhanklik geword.[102] As ’n onafhanklike stadsrepubliek met die naam "Lord Nowgorod die Grote" het dit sy kommersiële belange wes en noord verskuif; na die Oossee en die yler bevolkte woudstreke onderskeidelik.[102]

In 1169 het Nowgorod sy eie aartsbiskop gekry: ’n teken van groter belangrikheid en politieke onafhanklikheid. Hoewel Nowgorod het ’n groot mate van selfregering geniet het, het dit steeds noue bande met Kiëf-Roes gehad.

In die noordooste

[wysig | wysig bron]

In die noordooste het Slawiërs van die Kiëfse streek die gebied betrek wat later bekend sou word as die Grootvorstedom Moskou. Die stad Rostof, die oudste sentrum in die noordooste, is eers deur Soezdal verdring en daarna deur Wladimir, wat die hoofstad van Wladimir-Soezdal geword het. Dié gekombineerde prinsdom het in die laat 12de eeu ’n groot mag in Kiëf-Roes geword. In 1169 het prins Andrei Bogoljoebski van Wladimir-Soezdal die titel grootprins, dus hoofheerser, oorgeneem nadat hy Kiëf verwoes het. Hy het sy jonger broer aangestel om oor Kiëf te regeer. In 1299, net voor die inval van die Mongoolse Ryk, het die aartsbiskop van Kiëf na Wladimir-Soezdal geskuif.

Finale verval

[wysig | wysig bron]

Die staat se finale verval was weens die druk van die Mongoolse binnedringing van Kiëf-Roes, waardeur dit in kleiner prinsdomme verdeel het wat heffings aan die Goue Horde betaal het (die sogenaamde Tartaarse Juk). In die laat 15de eeu het Moskouse grootprinse begin om voormalige Kiëfse gebiede oor te neem en hulself te verklaar tot die enigste wettige opvolgers van die Kiëfse prinsdom.

Ook Nowgorod en Pskof in die noorde is eindelik deur Moskou oorgeneem.

Kultuur in Kiëf-Roes

[wysig | wysig bron]

Die nuwe kultuur wat in Kiëf-Roes ontstaan het, dateer van die kerstening van die Oos-Slawiërs in 989, toe die prinsdomme onder die invloedsfeer gekom het van die Bisantynse Ryk, een van die gevorderdste kulture van die tyd. Wladimir die Grote se keuse van godsdiens het dus die daaropvolgende ontwikkeling van die Roeskultuur bepaal.

Skrif en geletterdheid

[wysig | wysig bron]
Cyrillus en Methodius op ’n monument in Nowgorod.

Bewyse van die bestaan van geskrewe letterkunde in Kiëf-Roes is gevind op argeologiese terreine en in verskeie dokumente.[103] Cyrillus en Methodius het die eerste Slawiese alfabet, die Glagolitiese alfabet, in die tweede helfte van die 9de eeu geskep. Dit is gebruik vir die eerste vertalings van kerkboeke vir die Slawiese bevolkings van Morawië en Pannonië. Die Cyrilliese alfabet het later in die Eerste Bulgaarse Koninkryk ontstaan uit Griekse, Latynse en Glagolitiese letters. Dié geriefliker alfabet het die Glagolitiese alfabet vervang en die enigste skrif van die Suid- en Oos-Slawiërs geword.

Die kerstening van Kiëf-Roes het gelei tot die vinnige ontwikkeling van die skryfkultuur. Volke wat die Oosterse Christendom aangehang het, het in hul eie taal aanbid en dit het gunstige toestande geskep vir skryf in plaaslike tale.

Basgeskrifte wat op plekke soos Nowgorod, Twer, Smolensk en Pskof gevind is, getuig daarvan dat gewone mense geletterd was. Van die geskrifte wat gevind is, sluit in briewe, memorandums, oefeninge, ensovoorts. Die skrif is dus nie net vir boeke en amptelike dokumente gebruik nie, maar ook vir alledaagse bedrywighede. Gewone stedelinge het verder talle rekords gelaat teen die mure van kerke in Kiëf, Nowgorod, Smolensk, Wladimir en ander stede.

Die eerste bladsy van Die Nowgorod-psalmboek soos dit gelyk het toe dit ontdek is.

Die oudste boek wat bewaar gebly het, is die Nowgorodse Kodeks uit die eerste kwart van die 11de eeu. Dit is in 2000 in Nowgorod ontdek. Die boek bestaan uit houttablette wat met was bedek is. Die laaste, basiese teks bevat onder meer Psalm 75 en 76; daarom word dit ook soms die Nowgorodse Psalmboek genoem. Die vorige, versteekte tekste bevat vreemde boodskappe wat steeds ondersoek word.

Die meeste geskrifte van voor die Mongoolse Inval is in verskeie brande en invalle vernietig en verbrand. Dele het egter bewaar gebly. Die oudste daarvan is die Ostromir-evangelie, wat in 1057 deur deken Gregori geskryf is, en twee bloemlesings van prins Swjatoslaf II uit 1073 en 1076. Die boeke getuig van vernuf en die gehalte van handgeskrewe boeke wat reeds in die 11de eeu bestaan het.

Boeke is aanvanklik in kloosters saamgestel. In die 12de eeu het groot stede kopieerders gehad namate die bevolking meer geletterd geraak het en die monnike nie meer in die vraag kon voorsien nie. Baie prinse het mense gehad wat boeke gekopieer het.

By kloosters en katedrale is spesiale werkwinkels aangebied vir kopieerders. Dié plekke het ook permanente skrywers gehad wat nie net boeke gekopieer het nie, maar ook jaarverslae geskryf en buitelandse boeke vertaal het. Daar was ook in die 11de eeu al biblioteke in kloosters en katedrale.

Om die Roesvolk se geletterdheid te verhoog het prins Wladimir die Grote die eerste skole gestig. In Nowgorod is talle basgeskrifte ontdek wat deur gewone stedelinge geskryf is; ook kunsartikels met inskripsies is ontdek.[103]

Letterkunde

[wysig | wysig bron]
Nestor die Kroniekskrywer, ’n beeld deur M. Antokolski.

Met Kiëf-Roes se bekering tot die Christendom het letterkunde geleidelik ontstaan wat nou verband met godsdiens gehou het. Vertaalde werke het toegeneem. Die Kiëfse metropolitaan Ilarion het tussen omstreeks 1037 en 1050 die Preek oor Reg en Grasie geskryf.[104] Dié werk het ’n groot invloed op die latere letterkunde van Kiëf-Roes gehad wat beide styl en inhoud betref.[105]

Nog ’n uitstekende skrywer en historikus was Nestor die Kroniekskrywer van die Kiëfse Klooster van die Grotte. Sy boeke sluit in lewensbeskrywings van prinse Boris en Gleb en sint Theodosius van die Grotte. Hy is veral beroemd as skrywer van die Primêre Kronieke, oor die oorsprong en geskiedenis van Kiëf-Roes. Sy bronne sluit in vroeëre (nou verlore) Slawiese kronieke, Bisantynse annale, inheemse legendes, verskeie Griekse godsdiensgeskrifte, Roes-Bisantynse verdrae en mondelinge vertellings.

Wladimir Monomach was ook ’n uitstekende skrywer. Sy Riglyne, wat hy vir sy kinders geskryf het, beeld hom uit as ’n regverdige heerser. Hy skryf ook oor die behoefte aan sterk prinslike mag, eenheid in die afwering van nomadiese invalle, ensovoorts. Dit is ’n sekulêre werk en is gevul met beeltenisse en voorbeelde uit die lewe.

Die kwessie van prinslike mag in die lewe van die staat, die pligte wat dit behels en die inwerkingstelling daarvan het een van die hooftemas van letterkunde geword. Die idee was belangrik dat ’n groot prinslike mag noodsaaklik is vir ’n suksesvolle veldtog teen vyande van buite en strydighede van binne. Hierdie idees word behandel in een van die beste werke van die 12de tot 13de eeu, deur Daniil Zatotsjnik. Dit bestaan uit twee dele: Die Woord en Die Gebed. Hy was ’n ondersteuner van sterk prinslike mag en skryf met humor en sarkasme oor die treurige werklikheid om hom.[106]

Die Verhaal van Igor se Veldtog (ook bekend as Die Gedig van Igor se Spook) van die einde van die 12de eeu, deur ’n onbekende skrywer, beklee ’n spesiale plek in die letterkunde van Kiëf-Roes. Dit vertel die verhaal van ’n onsuksesvolle veldtog in 1185 deur prins Igor Swjatoslawitsj van Nowgorod-Sewersk teen die Koemane van die Donrivierstreek. Die beskrywing van die veldtog laat die skrywer dink aan die lot van die Roes. Hy beskou die prinse se vetes as die rede vir die mislukking van die veldtog en vir rampe in Kiëf-Roes. Dit weerspieël die tipiese eienskappe van die Slawiese letterkunde van dié tyd: Daar is ’n lewendige verband met die historiese werklikheid, burgerskap en patriotisme.

Argitektuur

[wysig | wysig bron]
Die verwoeste Kerk van die Tiendes in 1826 (tekening deur Abraham van Westerveld).

Tot aan die einde van die 10de eeu was daar geen groot steenstrukture in Kiëf-Roes nie, maar daar was ’n ryk kultuur van houtgeboue – van dié style het later die steengeboue beïnvloed. Ná die bekering tot die Christendom is begin met die oprig van steenkerke, geskoei op die argitektuur van die Bisantynse Ryk. Bisantyne argitekte is na Kiëf-Roes laat kom om hul vaardighede te deel.

Die groot kerke wat ná 988 gebou is, was die eerste voorbeelde van monumentale argitektuur in die Oos-Slawiese state. Die eerste steenkerk in Kiëf-Roes was die Kerk van die Tiendes in Kiëf, wat tussen 989 en 996 gebou is.[107] Dit is laat bou deur Wladimir die Grote, wat ’n tiende van sy inkomste en eiendom uitgesit het vir die bou en onderhoud van die kerk, vandaar die naam. Dit is in 1240 verwoes tydens die beleg van Kiëf deur die Mongoolse magte van Batoe Khan. Die kerk is in die middel van die 19de eeu herbou, maar weer in 1928 deur die Sowjetregering verwoes.[107]

Die Sint Sofia-katedraal in Kiëf, wat in die 11de eeu gebou is, is een van die belangrikste argitektoniese strukture van dié tyd. Dit was aanvanklik ’n vyfskip-kruiskoepelkerk en aan drie kante omring deur ’n tweeverdiepinggalery. Dit is genoem na die Hagia Sophia ("Heilige Wysheid") in Konstantinopel (en dus nie ’n spesifieke heilige nie) en is hoofsaaklik deur bouers van dié stad gebou. Met die eeuwisseling van die 17de/18de eeu is dit herbou in die styl van die Oekraïense barok. Dit is vandag deel van ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.[108]

Skilderkuns

[wysig | wysig bron]
Die Teotokos Oranta, ’n mosaïek in die altaar van die Sint Sofia-katedraal (11de eeu).

Nadat die Roes hulle bekeer het, het nuwe soorte skilderkuns – mosaïek, fresko's en ikoonskildering – begin verskyn. Laasgenoemde is streng deur die kerk beheer en het gelei tot ’n lang Bisantynse invloed op die skilderkuns in Kiëf-Roes.

Die vroegste werke wat bewaar gebly het, is in Kiëf geskep. Volgens die Primêre Kronieke is die eerste kerke deur besoekende Griekse meesters versier. Veral die mosaïeke en fresko's van die Sint Sofia-katedraal is beroemd. Hulle is in ’n streng en somber styl, wat kenmerkend was van die Bisantynse kuns. Die mosaïekbeelde van Christus in die sentrale koepel is veral merkwaardig.

’n Voorbeeld van uitsonderlike sekulêre skilderwerk is die muurskilderings van die twee torings van Sint Sofia. Dit beeld jagtonele deur die prinse, sirkuskompetisies, fantasiediere en -voëls, musikante, hansworse en akrobate uit en verskil van die gewone kerkskilderye. Onder die fresko's van Sint Sofia is twee groepportrette van Jaroslaf die Wyse en sy familie.

In die 12de tot 13de eeu het kenmerkende skilderwerk in spesifieke sentrums begin vorm aanneem, veral in Nowgorod en Wladimir-Soezdal. Sedert die 12de eeu het ’n spesifieke skilderstyl in Nowgorod ontstaan. In teenstelling met die Kiëfse styl, is daar ’n merkbare poging om artistieke tegnieke te vereenvoudig en ikoontipering te verander.

Verskeie fragmente van fresko's en ikone uit die Wladimir-Soezdal van voor die Mongoolse tydperk het behoue gebly. Hieruit blyk volgens geleerdes ’n geleidelike vorming van ’n tipiese Wladimir-Soezdal-skool. Die fresko in die Dimitri-katedraal van die Oordeelsdag het die beste bewaar gebly. Dit is deur twee meesters geskep – Grieks en Russies. Tot die Wladimir-Soezdal-skool behoort verskeie groot ikone uit die einde 12de tot begin 13de eeu. Die oudste een is die Bogoljoebskaja ikoon van die Teotokos uit die middel van die 12de eeu. Die styl stem baie ooreen met die beroemde Teotokos van Wladimir, wat van Bisantynse oorsprong is.

Folklore

[wysig | wysig bron]
Bogatiri ("Ridders"), deur Wiktor Wasnetsof (1898). Van links is Dobrinja Nikititsj, Ilja Moeromets en Aljosja Popowitsj.

Bronne getuig van die oorvloed en uiteenlopendheid van Kiëf-Roes se volksverhale. Die kalender het ’n groot rol daarin gespeel: sameswerings, towerspreuke en liedere wat ’n integrale deel van die landboukultuur was. Rituele folklore het ook ingesluit voorhuwelikse en feesliedere en begrafnisteursange.

Die uitgebreide Slawiese mitologie getuig van die heidense gode van die antieke Slawiërs soos Dazjbog, Weles en Peroen. Deur die jare het die kerk probeer om heidense gebruike uit te roei, maar dit het tot in die 19de en 20ste eeu in die alledaagse lewe behoue gebly. gebruike het mettertyd hul aanvanklike godsdienstige betekenis verloor en uiting gevind in volkspeletjies.

Daar was ook vorme van folklore wat nie met die heidense kultuur verband gehou het nie. Dit het gesegdes, raaisels, verhale en werkliedere ingesluit. Skrywers van letterkunde het dit algemeen in hul werk gebruik. Bekende werke het legendes gebruik oor voorouers, prinslike dinastieë, die stigters van stede en die stryd teen vreemdelinge.

In die 9de eeu het ’n nuwe epiese genre sy verskyning gemaak: die epos of heldedig, wat die hoogtepunt van mondelinge volkskuns geword het.[109] en die gevolg was van ’n groeiende selfbewussyn.[103] Bilini is ’n orale digkuns oor die verlede.[109] Die heldedigte was op werklike historiese gebeure geskoei;[109] die helde in sommige verhale was werklike mense. So was die prototipe van die epiese Dobrinja Nikititsj die oom van Wladimir die Grote en goewerneur van Dobrinja. Sy naam kom oor en oor in antieke Russiese verhale voor.

Die militêre wêreld het sy eie mondelinge liedere gehad. In droezjinni-liedere is prinse en hul oorwinnings vereer. Die prinse se eenhede het hul eie skrywers gehad wat liedjies geskryf het waarin die lof van die prinse en hul vegters besing is.

Folklore het bly uitbrei en ná die ontwikkeling van letterkunde ’n belangrike deel van die Russiese kultuur gebly.

Dekoratiewe kuns

[wysig | wysig bron]

Kiëf-Roes was bekend vir sy meesters van dekoratiewe kuns, wat verskeie tegnieke gebruik het. Dit was veral sigbaar in die juweliersware van dié tyd. Helder kleure is gebruik en daar was verwysings na mitologiese onderwerpe.

Dit is ook gesien in gesnede houtmeubels, huishoudelike gebruiksvoorwerpe, geborduurde materiale en gesnede beenprodukte, wat in Wes-Europa bekend was as "die beeldsnykuns van die Roes".

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Б.Ц.Урланис. "Рост населения в Европе" (PDF) (in Russies). p. 89. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2019.
  2. 2,0 2,1 2,2 John Channon & Robert Hudson, Penguin Historical Atlas of Russia (Penguin, 1995), bl. 16.
  3. Kievan Rus, Encyclopædia Britannica Online.
  4. Plokhy, Serhii (2006). The Origins of the Slavic Nations: Premodern Identities in Russia, Ukraine, and Belarus (PDF). New York: Cambridge University Press. pp. 10–15. ISBN 978-0-521-86403-9. Besoek op 27 April 2010.
  5. Kyivan Rus’, Encyclopedia of Ukraine, vol. 2 (1988), Canadian Institute of Ukrainian Studies.
  6. See Historical map of Kievan Rus' from 980 to 1054.
  7. Bushkovitch, Paul. A Concise History of Russia. Cambridge University Press. 2011.
  8. Paul Robert Magocsi, Historical Atlas of East Central Europe (1993), bl. 15.
  9. 9,0 9,1 "Civilization in Eastern Europe Byzantium and Orthodox Europe". occawlonline.pearsoned.com. 2000. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2010.
  10. (ru) Назаренко А. В. Глава I Geargiveer 4 Maart 2016 op Wayback Machine // Древняя Русь на международных путях: Междисциплинарные очерки культурных, торговых, политических связей IX—XII вв. Geargiveer 31 Januarie 2012 op Wayback Machine — М.: Языки русской культуры, 2001. — c. 40, 42—45, 49—50. — ISBN 5-7859-0085-8.
  11. Paul R. Magocsi, A History of Ukraine (2010), bl. 56-57.
  12. Tolochko, A. P. (1999). "Khimera "Kievskoy Rusi"". Rodina (in Russian) (8): 29–33.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
  13. Freeze, Gregory L.: Russia. A History. Derde uitgawe. Oxford: Oxford University Press 2009, bl. 1-2 (Kindle-uitgawe)
  14. Freeze (2009), bl. 5
  15. Gottfried Schramm: Altrusslands Anfang. Historische Schlüsse aus Namen, Wörtern und Texten zum 9. und 10. Jahrhundert. Freiburg im Breisgau: Rombach 2002, bl. 21
  16. N. Vanag, B. Grekov, A. Pankratova, S. Piontkowskij: Istorija SSSR. Učebnik dlja srednej školy. T.I.: S drevnejšich vremen do konca XIX v. M. 1936, bl. 17
  17. Schramm (2002), bl. 24
  18. Schramm (2002), bl. 30
  19. Magocsi (2010), bl. 55.
  20. Magocsi (2010), bl. 56.
  21. Nicholas V. Riasanovsky, A History of Russia, bl. 23-28 (Oxford Press, 1984).
  22. Internet Encyclopedia of Ukraine Normanist theory
  23. The Russian Primary Chronicle, Encyclopædia Britannica Online; Russian Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, Selected Text, University of Toronto (besoek op 4 Junie 2013).
  24. Riasanovsky, bl. 25.
  25. Riasanovsky, bl. 25-27.
  26. 26,0 26,1 David R. Stone, A Military History of Russia: From Ivan the Terrible to the war in Chechnya (2006), bl. 2-3.
  27. Simon Franklin and Jonathan Shepherd, The Emergence of Rus 750–1200 (Harlow, Essex: 1996), bl. 38–39.
  28. Fadlan, Ibn (2005). (Richard Frey) Ibn Fadlan's Journey to Russia. Princeton, NJ: Markus Wiener Publishers.
  29. Rusios, quos alio nos nomine Nordmannos apellamus. (pl) Henryk Paszkiewicz (2000). Wzrost potęgi Moskwy, s.13, Kraków. ISBN 83-86956-93-3
  30. Gens quaedam est sub aquilonis parte constituta, quam a qualitate corporis Graeci vocant […] Rusios, nos vero a positione loci nominamus Nordmannos. James Lea Cate. Medieval and Historiographical Essays in Honor of James Westfall Thompson. bl. 482. The University of Chicago Press, 1938
  31. Leo the Deacon, The History of Leo the Deacon: Byzantine Military Expansion in the Tenth Century (Alice-Mary Talbot & Denis Sullivan, reds., 2005), bl. 193-94.
  32. Schramm (2002), bl. 21-22
  33. (de) Die Welt, 11 Desember 2014: Ukraine-Konflikt – Kiews russische Wurzeln sind ein Mythos. Besoek op 18 Februarie 2020
  34. Magocsi (2010), bl. 59.
  35. Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, bl. 6.
  36. Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, bl. 6–7.
  37. Magocsi (2010), bl. 55, 59–60
  38. Thomas McCray, Russia and the Former Soviet Republics (2006), bl. 26
  39. 39,0 39,1 Janet Martin, "The First East Slavic State", A Companion to Russian History (Abbott Gleason, ed., 2009), bl. 37
  40. 40,0 40,1 40,2 Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, bl. 8.
  41. Georgije Ostrogorski, History of the Byzantine State (2002), bl. 228; George Majeska, "Rus' and the Byzantine Empire", A Companion to Russian History (Abbott Gleason, red., 2009), bl. 51.
  42. F. Donald Logan, The Vikings in History (2005), bl. 172–73.
  43. The Life of St. George of Amastris. David Jenkins, The Life of St. George of Amastris Geargiveer 5 Augustus 2019 op Wayback Machine (University of Notre Dame Press, 2001), bl. 18.
  44. Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, bl. 8; Ostrogorski (2002), bl. 228; Majeska (2009), bl. 51.
  45. 45,0 45,1 45,2 45,3 45,4 Majeska (2009), bl. 52.
  46. 46,0 46,1 Dimitri Obolensky, Byzantium and the Slavs (1994), bl. 245.
  47. Martin (1997), bl. 3.
  48. Martin (2009), bl. 37-40.
  49. Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, bl. 8-9.
  50. Primary Chronicle Geargiveer 30 Mei 2014 op Wayback Machine, bl. 9.
  51. George Vernadsky, Kievan Russia (1976), bl. 23.
  52. 52,0 52,1 Walter Moss, A History of Russia: To 1917 (2005), bl. 37.
  53. Magocsi (2010), bl. 96
  54. 54,0 54,1 Martin (2009), bl. 47.
  55. Martin (2009), bl. 40,47.
  56. 56,0 56,1 Magocsi (2010), bl. 62.
  57. 57,0 57,1 Magocsi (2010), bl. 66.
  58. Martin (2003), bl. 16-19.
  59. Victor Spinei, The Romanians and the Turkic Nomads North of the Danube Delta from the Tenth to the Mid-Thirteenth Century (2009), bl. 47-49.
  60. Peter B. Golden, Central Asia in World History (2011), bl. 63.
  61. Magocsi (2010), bl. 62-63.
  62. Vernadsky (1976), bl. 20.
  63. Martin (2003), bl. 15–16.
  64. Vernadsky (1976), bl. 24–25.
  65. Spanei (2009), bl. 62.
  66. John V.A. Fine, The Early Medieval Balkans: A Critical Survey from the Sixth to the Late Twelfth Century (1991), bl. 138-39.
  67. Spanei (2009), bl. 66, 70.
  68. Vernadsky (1976), bl. 28.
  69. B.N. Zakhoder (1898–1960). The Caspian Compilation of Records about Eastern Europe (aanlyn weergawe).
  70. Vernadsky (1976), bl. 32–33.
  71. Gunilla Larsson. Ship and society: maritime ideology in Late Iron Age Sweden Uppsala Universitet, Department of Archaeology and Ancient History, 2007 ISBN 9150619152 p 208
  72. Cahiers du monde russe et soviétique, Volume 35, Number 4. Mouton, 1994. (oorspronklik van die Universiteit van Kalifornië)
  73. Moss (2005), bl. 29.
  74. 74,0 74,1 Martin (2003), bl. 17.
  75. 75,0 75,1 Magocsi (2010), bl. 67.
  76. The Russian Primary Chronicle, Laurentian Text (Samuel Hazzard Cross, trans., 1930), bl. 71
  77. Moss (2005), bl. 29–30.
  78. Saints Cyril and Methodius, [1] Encyclopædia Britannica.
  79. Primary Chronicle, bl. 62-63
  80. Obolensky (1994), bl. 244-246.
  81. Magocsi (2010), bl. 66-67
  82. Vernadsky (1976), bl. 28-31.
  83. Vernadsky (1976), bl. 22.
  84. John Lind, Varangians in Europe's Eastern and Northern Periphery, Ennen & nyt (2004:4).
  85. Logan (2005), bl. 192.
  86. Vernadsky, bl. 22-23
  87. Chronicle, bl. 69
  88. Chronicle, bl. 71-72
  89. 89,0 89,1 89,2 Ostrogorski, bl. 277
  90. 90,0 90,1 Logan, bl. 193.
  91. Chronicle, p.72.
  92. Chronicle, pp.73-78
  93. Spinei, p.93.
  94. Clements 2012, p. 7.
  95. "Russian Primary Chronicle". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2019. Besoek op 14 September 2018.
  96. "Vladimir I (grand prince of Kiev) – Encyclopædia Britannica" (in Engels). Britannica.com. 28 Maart 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2015. Besoek op 7 Augustus 2014.
  97. Janet Martin, Medieval Russia, 980–1584, (Cambridge, 1995), p. 6-7
  98. Franklin, Simon (1992). "Greek in Kievan Rus'". Dumbarton Oaks Papers. 46: 69–81. doi:10.2307/1291640.
  99. "Yaroslav I (prince of Kiev) – Encyclopædia Britannica" (in Engels). Britannica.com. 22 Mei 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2015. Besoek op 7 Augustus 2014.
  100. Pelenski, Jaroslaw (1987). "The Sack of Kiev of 1169: Its Significance for the Succession to Kievan Rus'". Harvard Ukrainian Studies. 11: 303–316.
  101. Kollmann, Nancy (1990). "Collateral Succession in Kievan Rus". Harvard Ukrainian Studies. 14: 377–387.
  102. 102,0 102,1 Magocsi 2010, p. 85.
  103. 103,0 103,1 103,2 (ru) Рабинович, Елена Георгиевна; Рабинович, М. Г. (red.) (1986). Древнерусская одежда IX-XIII вв. – Древняя одежда народов Восточной Европы: Материалы к историко-этнографическому атласу. Москва: Наука. pp. 40–111.
  104. Introduction to the full text in original, and in modern Russian translation Geargiveer 26 Mei 2011 op Wayback Machine
  105. Birnbaum, H.: Aspects of the Slavic Middle Ages and Slavic Renaissance Culture (New York: Peter Lang Publishing, 1991) p.150.
  106. (ru) Культура Киевской Руси – Всемирная История в десяти томах. Vol. 3. Соцэкгиз. 1957. pp. 261–265. {{cite book}}: Cite has empty unknown parameter: |автор= (hulp); Onbekende parameter |ответственный= geïgnoreer (hulp)
  107. 107,0 107,1 Mariya Lesiv, The Return of Ancestral Gods: Modern Ukrainian Paganism as an Alternative Vision for a Nation, (McGill-Queen's University Press, 2013), 105.
  108. "Kyiv Pechersk Lavra, St. Sophia Cathedral remain on UNESCO's World Heritage List". Interfax-Ukraine. 20 Junie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Junie 2013.
  109. 109,0 109,1 109,2 (ru) Радугин, А. А. (red.) (2001). Культура Древней Руси – Культурология: Учебное пособие. Москва: Центр. p. 304. {{cite book}}: Onbekende parameter |ссылка= geïgnoreer (hulp)

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Christian, David, A History of Russia, Mongolia and Central Asia. Blackwell, 1999.
  • Franklin, Simon en Shepard, Jonathon, The Emergence of Rus, 750–1200. (Longman, redakteur Harold Shukman.) Longman, Londen, 1996. ISBN 0-582-49091-X
  • Martin, Janet, Medieval Russia 980–1584. Cambridge University Press, Cambridge, 1993. ISBN 0-521-36832-4
  • Obolensky, Dimitri, The Byzantine Commonwealth: Eastern Europe 500–1453. Weidenfeld & Nicolson, Londen, 1971. ISBN 0-297-00343-7
  • Pritsak, Omeljan, The Origin of Rus'. Cambridge Mass.: Harvard University Press, 1991.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Wiki-webtuistes

Artikels

Aanlyn-ensiklopedieë

Nota van vertaler