Magna Carta
Die Magna Carta (Latyn: Groot Handves) is in 1215 deur koning Jan sonder Land opgestel op aandrang van sy baronne. Oorspronklik onderteken as 'n soort vredesooreenkoms tussen die monarg en 'n groep oproerige baronne, word die dokument, wat in Latyn op perkament geskryf is, as 'n baanbrekende historiese prestasie beskou wat die grondslag vir Westerse demokratiese regeringstelsels, verklarings van burger- en menseregte en moderne regstelsels vorm.
Onder Jan sonder Land het Engeland die meeste van sy gebiede in Frankryk verloor. In 1215 het die Engelse baronne die magtelose koning Jan gedwing om 'n dokument uit te vaardig waarin hy onderneem om die regte van sy onderdane te respekteer.
Die Magna Carta het die mag van die Engelse koning formeel beperk en in beperkte mate regte aan sy onderdane toegestaan. Dit word oor die algemeen beskou as 'n deurbraak in die ontwikkeling van die konstitusionele regsbestel, hoewel daar in ander Europese lande eintlik reeds talle Magna Cartas bestaan het. Dit is in 1297 deur koning Eduard I van Engeland bevestig.
In 1295 is die staatsraad onder Eduard I, wat uit edellede en hoë geestelikes bestaan het, deur die toelating van twee burgers per stad en twee adellikes per graafskap tot 'n parlement uitgebrei. Dit het die weg gebaan vir die verdeling van die parlement in 'n Hoërhuis (House of Lords ) en 'n Laerhuis (House of Commons). Hierdie verdeling bestaan vandag nog.
Die Britse Museum in Londen huisves hierdie historiese dokument. Dit was die grondslag vir die Engelse grondwet. Tans is egter net drie van sy klousules nog geldig.[1]
Bronne
[wysig | wysig bron]- Kennis, vol 6, 1980, bl. 1049-1051, ISBN 0 7981 0828 2