Maria Callas
Maria Callas | |
---|---|
Maria Callas in 1973 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Maria Anna Sofia Cecilia Kalogeropoulou (Μαρία Καλογεροπούλου) |
Ook bekend as | Μαρία Κάλλας |
Gebore | 2 Desember 1923 New York Stad, New York (VSA) |
Sterf | 16 September 1977 Parys (Frankryk) |
Genres | Opera seria, bel canto-opera |
Beroep(e) | Sangeres |
Maria Callas (* 2 Desember 1923; † 16 September 1977) was 'n Amerikaanse sopraan met ouers van Griekse afkoms. Sy word as een van die grootste operasangers van die twintigste eeu gereken en was bekend vir haar kragtige stem en vaardigheid as sanger en akteur. Danksy haar verbintenis met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis was sy ook een van die bekendste glanspersoonlikhede van die jare vyftig en sestig.[1]
Lewensloop
[wysig | wysig bron]Cecelia Sophia Anna Maria Kalogeropolous is in New York Stad gebore, waarheen haar ouers uit Griekeland verhuis het, maar het in 1936 na Griekeland teruggekeer om sang aan die Koninklike Musiekakademie in Athene te studeer onder die befaamde Spaans-gebore sopraan Elvira de Hidalgo (1898 tot 1980). Sy het haar debuut daar in 1939 in Cavalleria Rusticana in die koninklike operahuis gemaak en mettertyd al die vername operahuise soos die Metropolitan-operahuis, Covent Garden en La Scala verower. Haar stem, hoewel nooit "mooi" in die tradisionele sin van die woord nie, het 'n byna ongekende dramatiese uitdrukkingsvermoë gehad en danksy haar veelsydigheid kon sy dramatiese sowel as liriese rolle vertolk.
Sy word ook beskou as een van die grootste singende aktrises van haar era en hierdie talent asook haar merkwaardige stem, wat die regte leiding onder die dirigent Tulio Serafin gekry het, was verantwoordelik vir die herlewing van die vroeë operas van Gioachino Rossini, Gaetano Donizetti en Vincenzo Bellini.
Haar vurige persoonlikheid en herhaalde stemprobleme het egter gelei tot uitgerekte meningsverskille met mede-sangers en die bestuur van talle operahuise. Rudolf Bing het haar by die Metropolitan afgedank, hoewel sy later weer daar aanvaar is.
Einde van haar loopbaan
[wysig | wysig bron]Ná 'n stormagtige liefdesverhouding met Onassis, het sy vanaf omstreeks 1965 haar geleidelik aan die operawêreld begin onttrek. Haar beste vertonings en opnames het sy reeds in die jare vyftig gelewer. Na haar openbare loopbaan geëindig het, het sy haar na haar woonstel in Parys onttrek, hoewel sy oorreed is om 'n rampspoedige afskeidstoer van 1973 tot 1974 oor die hele wêreld te onderneem. Hoewel die gehore, waarvan baie lede van 'n nuwe geslag was wat nooit die geleentheid gehad het om haar in lewende lywe te sien nie, haar op vertoning na vertoning staande toegejuig het en die applous dikwels net so lank soos die uur lange vertoning geduur het, was dit vir almal duidelik dat dit die tragiese einde van een van die grootste sangloopbane nóg was.
Party van haar vriende en kennisse het later beweer sy het haar wil om te lewe saam met haar stem verloor. Sy het ongelooflike wilskrag gehad, maar na sy haar loopbaan en Onassis kwyt was, was daar vir haar nie veel meer oor om voor te lewe nie. Sy het in haar woonstel gesterf op 16 September 1977.
Nalatenskap
[wysig | wysig bron]Maria Callas is selfs dertig jaar ná haar dood steeds een die voorverkoper-operasangers wêreldwyd. Haar opnames word voortdurend heruitgereik en 'n ontsaglike verskeidenheid CD's is in die handel te kry. Sy het ook die status van 'n gay-ikoon verwerf, waarskynlik weens die drama van haar lewe, die hartstog waarmee sy alles aangepak het en die glansrykheid van haar openbare beeld.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Maria Callas.