Gaan na inhoud

Karoo

Koördinate: 32°31′S 22°34′O / 32.517°S 22.567°O / -32.517; 22.567
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaart van die Karoo
Nasa-Satellietbeeld van die twee Karoo-ekostreke van Suid-Afrika en Namibië, soos uitgestippel deur die Wêreldnatuurfonds. Die geel lyn sluit die twee streke in. Die groen lyn verdeel die Sukkulente Karoo in die weste van die Nama-Karoo in die ooste.
'n Tipiese Karoolandskap

Die Karoo is 'n halfwoestyn wat 'n groot deel van die suidweste van Suid-Afrika beslaan. Karoo is 'n Khoi-woord wat "droog" of "harde grond" beteken, so genoem na die aard van die landstreek. Die Khoi het met hul veekuddes oor die uitgestrekte Karooveld rondgetrek. Die naam "Caro" kom die eerste keer voor in die resolusies van die Politieke Raad op 4 Februarie 1794.

Die koloniste het hierdie gebied aanvanklik die Droogeveld genoem, wat ’n vertaling van die Khoi-pleknaam was. Die Karoo kan geografies verdeel word in drie streke: die Klein-Karoo, die Groot-Karoo en die Noord-Karoo. Geologies is die Karoo een van Suider-Afrika se ouer sisteme (sowat 270 miljoen jaar oud) en dit bestaan uit vier strata wat in lae bo-op mekaar lê. Die Karoogebied beslaan sowat 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.

Dit is 'n dorre tot semi-ariede gebied wat besig is om uit te brei. In die ooste neem dit geleidelik die soetveldgrasvlaktes in, terwyl dit in die weste toenemend die kenmerke van egte woestyn (Kalahari) aanneem. As gevolg van veral verkeerde beweidingsmetodes is dele van die aanliggende gebiede besig om al hoe meer Karooagtig te word. Hierdie proses kan slegs deur verbeterde beweidingsmetodes gestuit word.

Deur middel van verskeie besproeiingskemas is groot dele van die droë Karoogebied in besonder nuttige landbougrond omskep. In dele waar boerdery van die natuurlike lae reënval afhanklik is, word op groot skaal met skape, angorabokke en in mindere mate stoetperde geboer.

Ligging en geografie

[wysig | wysig bron]

Klein-Karoo

[wysig | wysig bron]
Boerderylande langs die goed natgemaakte, vrugbare voetheuwels van die meer as 2000 m hoë Swartberge (op die agtergrond) aan die noordelike strook van die Klein-Karoo

Die Khoi-naam vir die Klein-Karoo was Kango, wat "nou vlakte tussen hoë berge" beteken. Die Klein-Karoo is dan ook 'n lang en breë vallei wat tussen die Lange- en die Outeniekwaberge in die suide en die Klein- en Groot Swartberg in die noorde lê. Die strook land is taamlik gelyk en ongeveer 60 km breed en 250 km lank.

Dit is 'n tafelland wat net hier en daar deur alleenstaande kaal koppies of klipperige rûens onderbreek word. In die ooste word dit deur 'n kunsmatige lyn tussen Willowmore en Joubertina begrens en in die weste strek dit verby Touwsrivier en De Doorns tot by die Hexrivierberge ('n deel van die Karoo wat dikwels tot die Groot-Karoo gereken word). Die belangrikste riviere van die Klein-Karoo is die Gourits, die Gamka, die Olifants, die Touws en die Kammanassie.

Die Klein-Karoo is 'n somerreënvalstreek met 'n halfwoestynklimaat. Daar val gemiddeld sowat 250 mm reën per jaar. Die gemiddelde somertemperatuur is 27°C, terwyl die gemiddelde wintertemperatuur 14°C is. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit die bekende karoobossies, wat besonder goed bestand is teen droogte en boonop vir sekere diere eetbaar is. Aalwyne, melkbos en turksvye kom ook voor en na een van die baie skaars donderstorms gedurende die blomtyd kan die Klein-Karoo vir 'n kort tydjie in 'n blomtuin verander.

Om boerdery in hierdie halfwoestyn toestande te bevorder, is daar 'n aantal damme in die riviere van die Klein-Karoo gebou. Baie van hierdie riviere loop gedurende die wintermaande glad nie. Die grootste dam is die Gamkapoortdam in die Swartberg, nie ver van Gamkaskloof en die bekende Hel nie ('n baie verlate, vroeër byna onbereikbare nedersettinkie).

Ander damme waarop boere staatmaak, is die Stompdriftdam naby De Rust, die Kammanassiedam naby Dysselsdorp, die Prinsrivierdam in die Anysberg, die Bellairdam in die Warmwaterberg en die Poortjieskloofdam tussen Montagu en Barrydale.

Groot-Karoo

[wysig | wysig bron]
'n Tipiese landskap in die Groot-Karoo
’n Illustrasie van die Groot Eskarp, veral gebaseer op sy voorkoms in die Groot-Karoo, waar dik erosiebestande dolerietplate (verteenwoordig deur die dik swart lyne) gewoonlik die boonste skerp rand van die eskarp vorm. In ander dele van die eskarp vorm harde, erosiebestande geologiese lae die boonste skerp rand (sien teks). Let op die eilandoorblyfsels onder op die skets wat agtergebly het toe die eskarp geleidelik meer na die binneland geskuif het.[1]

Die Groot-Karoo begin naby Laingsburg en lê tussen die noordelikste ketting van die Kaapse Plooigordel en die Kaapse platorand. Dit strek van die Sondagsrivier in die ooste tot by die Tankwarivier in die weste. Die noordelike plooiberge bestaan uit die onderpunt van die Roggeveldberge, Nuweveldberge, Sneeuberge en die Coetzeesberge. Die suidelike platorand begin hier in die vorm van die Witteberge, Langeberg en Swartberge.

Die Groot-Karoo is 'n uitgestrekte, golwende plato wat af en toe deur koppies of kliprantjies onderbreek word. Die gemiddelde hoogte bo seespieël wissel van 300 m tot 1200 m. Een van die belangrikste geografiese kenmerke van die Groot-Karoo is dat erosie steeds toeneem en dat die bogrond oor groot dele reeds byna weggespoel het. Dit is hoofsaaklik die gevolg daarvan dat die gebrekkige plantbedekking (van nature reeds yl woestynplantegroei) deur vroeëre onoordeelkundige beweiding nog verder uitgedun is.

Die temperatuur styg baie hoog gedurende die somer, byvoorbeeld gemiddeld 26 °C by Beaufort-Wes. Gedurende die winter kan die dae steeds warm wees, maar die temperatuur daal snags tot ver onder vriespunt, met strawwe ryp. Die gemiddelde reënval van die Groot-Karoo is effens hoër as dié van die Klein-Karoo, wat onmiddellik bydra tot groter erosiewerking omdat daar meer spoelwater is. Die plooiberge in die noorde keer die reënwinde weg en die Groot-Karoo se jaarlikse reënval wissel tussen 200 mm en 500 mm.

'n Warm, stowwerige noordwestewind waai gedurende die somermaande. Min plekke ter wêreld kan egter met meer sonskyndae per jaar spog as die Groot-Karoo. Die plantegroei is ook aangepas by die halfwoestyn toestande, en behalwe die karoobossie, melkbosse, aalwyne en turksvye kom daar in die Groot-Karoo ook verspreide polle harde gras voor. Hierdie wêreld kan na 'n tydige donderstorm in 'n blomtuin verander, maar dit duur net 'n kort rukkie, omdat die blomme vanweë die versengende hitte gou verwelk.

Die belangrikste riviere van die Groot-Karoo is die Gamtoos-, Buffels-, Dwyka, Sout-, Sondags en die Groot-Visrivier. Belangrike damme is die Van Ryneveldpasdam by Graaff-Reinet en die Darlingtondam in die Suurberge. Albei damme is in die Sondagsrivier. Die Grassridgedam is in die Grootbrakrivier, 'n voorloper van die Groot-Visrivier. Byna al die riviere is gedurende die winter droog, maar na donderstorms kan hulle (veral die Gamtoos- en die Sondagsrivier) verwoestende strome word wat groot oorstromings veroorsaak.

Noordelike Karoo

[wysig | wysig bron]

Die Noordelike Karoo, wat ook die Bo-Karoo genoem word, beslaan die suidwestelike hoek van die platostreek en strek van die platorand in die suide (dit wil sê net noord van die noordelike plooiberge) tot min of meer by die Oranjerivier in die noorde. In die ooste begin die Noordelike Karoo by die Stormberg en in die weste strek dit tot by die platorand naby die weskus. Met 'n gemiddelde hoogte van 1200 m bo seespieël is die Noordelike Karoo heelwat hoër as die Groot-Karoo, maar in voorkoms stem die twee streke baie ooreen.

Daar is 'n hele aantal panne in die gebied, soos Grootvloer, Verneukpan en Swartkolkvloer. Bekende soutpanne in die Noordelike Karoo is die Commissioner's Salt Pan en die Hunis-soutpan. 'n Groot aantal kleiner riviere soos die Brak-, die Sak-, Renoster-, Ongers-, Groen-, Kruis- en Seekoeiriviere sorg vir die dreinering van die gebied. Riviere soos die Sout-, die Hartbees- en die Olifantsvleirivier loop net 'n kort rukkie nadat dit gereën het en die enigste werklike standhoudende rivier is die Oranje. Die Gariep-, die Vanderkloof- en die Torquaydam is deel van die Oranjerivierprojek.

Die Smartt-sindikaatdam tussen Vosburg en Britstown en die Kriegerspoortdam naby Hanover is kleiner damme wat water aan beperkte gebiede in die Noordelike Karoo lewer. Wat klimaat en natuurlike plantegroei betref, is daar 'n groot ooreenkoms met die Groot-Karoo, behalwe dat die jaarlikse reënval nog laer is en gemiddeld tussen 130 mm en 380 mm wissel. Neerslag in die vorm van enkele, wisselvallige donderbuie wat onderbreek word deur langdurige droogtes, met selfs 'n jaar of drie sonder reën, is die reël in die Bo-Karoo.

Prehistorie

[wysig | wysig bron]
'n Skematiese geologiese kaart van die buitewyke van die Karoo Supergroepgesteentes in Suider-Afrika: Die ligging en die benaderde struktuur van die Kaapse vouberge word ook vir verwysingsdoeleindes aangedui.
'n Diagrammatiese 400 km noord-suid deursnit deur die suidelike gedeelte van die land naby Calitzdorp in die Klein Karoo (ongeveer 21°30'O), wat die verhouding tussen die Kaapse plooigebergte (met hulle geologiese struktuur) en die geologie van die Klein en Groot Karoo, sowel as die posisie van die Groot Platorand wys. Die kleurkode vir die geologiese lae is dieselfde as dié wat gebruik word in die diagram op die linkerkant. Die swaar swart lyn met opponerende pyle weerskante is die breuk wat vir byna 300 km langs die suidelike rand van die Swartbergberge loop. Die Swartbergreeks het dele van sy groot hoogtes te danke aan hierdie foutlyn. Die ondergrondse strukture is nie op skaal nie.
'n Geskatte SW-NO deursnit deur Suid-Afrika met die Kaapse Skiereiland (met Tafelberg) op die linkerkant en die noordoostelike KwaZulu-Natal op die regterkant. (Diagrammaties en net min of meer op skaal.) Dit toon die groot geologiese strukture (gekleurde lae) wat die suidelike en oostelike dele van die land oorheers, sowel as die verhouding tussen die sentrale plato, die Kaapse plooigebergtes, en die Drakensbergplatorand. Die betekenis en oorsprong van die geologiese lae kan gevind word onder die opskrifte "Karoo Supergroep" en "Kaapse Supergroep”.
Bradysaurus
Lystrosaurus

Geologies beslaan die Karoo-supergroep 'n veel groter gebied as die geografiese Karoo. Alhoewel dit die Klein-Karoo, die Groot-Karoo en die Noordelike Karoo geheel en al insluit, strek dit in die weste tot teenaan die Kaapse suidweskus, omring dit Lesotho en die Natalse Drakensberg en het dit enkele smal uitlopers wat so ver noord as Gauteng, Zimbabwe en Malawi strek. Die formasie wat deur geoloë die Karoo-supergroep genoem word, bestaan uit 'n aantal lae of strata, waarvan die eerste (onderste) laag 280 miljoen jaar gelede gedurende 'n ystydperk gevorm is en die boonste (jongste) laag deur massiewe vulkaniese uitbarstings sowat 170 miljoen jaar gelede.

Tussen die boonste en die onderste laag is daar 'n aantal series en etages waaruit geoloë en paleontoloë kon aflei dat die klimaat en toestande met verloop van miljoene jare verander het van 'n ystydperk en 'n dik yskors tot 'n tropiese woud en lang periodes van hoë en lae reënval tussenin. Gedurende hierdie tyd het verskillende vorme van plante- en dierelewe ontwikkel, 'n hoogtepunt bereik en uitgesterf. Die evolusie of ontwikkeling van lewe kan duidelik uit die fossiele wat in die verskillende lae gevind is, "gelees" word.

'n Katastrofale gebeurde, naamlik die vulkaniese tydperk waartydens 'n laaste laag lawa oor die Karoo-supergroep afgeset is, het die plante- en dierelewe uitgewis en evolusie in die Sisteem Karoo tot stilstand gebring. Met verloop van verdere miljoene jare het wind en water die verskillende lae van die Karoo-supergroep geërodeer en blootgelê. Omdat erosie nie oral tegelyk en op dieselfde skaal plaasgevind het nie, lyk die Sisteem Karoo aan die oppervlak vandag nie oral dieselfde nie. In die noorde, byvoorbeeld, in sterk teenstelling met die woestynagtige suide, is die Karoo-supergroep op plekke met bome en gras bedek en op ander plekke, soos die voorheuwels van die Drakensberg en in Lesotho, is net die basaltlae van lawa sigbaar. Nadere geologiese ondersoek dui egter daarop dat die hele Karoo-supergroep uit dieselfde aantal lae of series saamgestel is. Die hele laag van die Karoo-supergroep is meer as 8000 m dik en geoloë wonder vandag nog waar al die materiaal waaruit die groep opgebou is, vandaan gekom het.

Dwyka-groep

[wysig | wysig bron]

Heel onder, op die bodem van die Karoo-supergroep, lê die Dwyka-groep, 'n laag van sowat 900 m dik. Hierdie laag, waarskynlik 280 miljoen jaar oud, bestaan uit klippies, rotsblokke en rotslae met duidelike skraapmerke wat dui op 'n ystydperk. Die sentrale gedeelte van Suider-Afrika was toe 'n laagliggende kom, omring deur hoërliggende dele.

Die kom was bedek met 'n stadigbewegende laag ys wat, net soos 'n gletser vandag, tipiese skraapmerke op die gesteente agtergelaat het en die gebruiklike puin meegevoer en afgeset het. Die merke en puin is vandag nog in hierdie laag sigbaar. Geologies gesproke 'n kort tyd hierna, ongeveer 250 miljoen jaar gelede, het die weer begin verander en het dit warmer geword. Die ys het begin smelt en in die heel boonste lae van die Dwyka-groep het geoloë fossiele van klein reptiele, visse, weekdiere en selfs blare van plante gevind. Die Karoo het begin lewe.

Ecca-groep

[wysig | wysig bron]

Gedurende hierdie tydperk het die vroeëre ysbedekte kom in ’n stomende moeras verander. Die Ecca-groep is 'n tweede laag van 3 000 m dik wat bo-oor die Dwyka afgeset is. Hierdie laag bestaan uit sandsteen en skalie en bevat die meeste van Suid-Afrika se steenkool en koolstofhoudende skalielae.

Die steenkoollae is grotendeels reeds deur geoloë opgespoor. Die Ecca-groep het in die verre verlede waarskynlik massas aardolie bevat, maar omdat daar onder die Ecca-groep nie 'n ondeurdringbare rotslaag lê nie, het die olie, wat volgens aIle normale geologiese berekeninge in die Karoo moes gewees het, weggesypel.

Daar is reeds op groot skaal en wydverspreid oor die hele Karoo geboor sonder werklike sukses, behalwe miskien die lewering van bewyse dat die gebied miljoene der miljoene jare gelede deur 'n tropiese oerwoud bedek is, dieselfde soort oerwoudmoerasse wat in ander omstandighede op ander plekke ter wêreld in aardoliebronne omgeskep is. Fossiele uit die Ecca-groep dui nie net op 'n ryke verskeidenheid van plante nie, maar ook op die teenwoordigheid van varswaterdiere, amfibiërs en reptiele.

Beaufort-groep

[wysig | wysig bron]

Die volgende, waarskynlik die belangrikste en terselfdertyd ook die dikste laag waaruit die Sisteem Karoo bestaan, word die Beaufort-groep genoem. Uit fossielvondste in hierdie laag (5600 mm dik) is dit duidelik dat die dierelewe in getalle en verskeidenheid van spesies 'n soort ontploffing ondergaan het.

Die Beaufort-groep is deur geoloë en paleontoloë in 'n aantal lae onderverdeel en uit fossielvondste uit die verskillende lae kan afgelei word hoe veral die dierelewe ontwikkel en geëvolueer het. Uit die onderste lae is dit duidelik dat die reuse-reptiele, die dinosouriërs, die botoon gevoer het. Die klimaat het tydens die vorming van hierdie serie gewissel van lang droë tydperke tot lang nat tydperke. Die dierelewe moes hierby aanpas en uit die afsetting laag na laag van die Beaufort-groep blyk dit duidelik watter diere by toestande aangepas het en oorleef het.

Die groot reptiele het in die jonger lae begin verdwyn en fossiele van reptiele met soogdieragtige kenmerke is gevind. Hierdie skakel tussen reptiele en soogdiere maak die Beaufort-groep en die Karoostelsel een van die belangrikste en uniekste fossielvindplekke ter wêreld. Heelwat van die vraagtekens wat daaroor die ontwikkeling van dierelewe bestaan het, is deur vondste in die Beaufort-groep opgelos. Fossiele van die heel eerste rotagtige soogdiere is ook in die Beaufort-groep gevind.

Die gebied wat vandag as die Karoo bekend is, bestaan hoofsaaklik uit die Beaufort-groep wat met verloop van miljoene jare deur erosie blootgelê is. Kort voor die finale katastrofe is die Beaufort-groep bedek deur nog 'n relatief dun laag, die Molteno-formasie (600 m dik, bestaande uit rivier-afgesette sandsteen) en twee étages, een van 500 m dik, die sogenaamde Etage Rooilae, wat uit ’n kenmerkende laag rooi modder en rooi sandsteen bestaan, en die Etage Holkranssandsteen 'n verdere sandsteenlaag van 300 m dik. Hierna het 'n vulkaniese tydperk gevolg.

Stormberg-groep

[wysig | wysig bron]

Gedurende die vulkaniese tydperk het massas lawa groot gedeeltes van wat vandag as die Karoo-supergroep bekend staan, bedek. Hierdie laag word die Stormberg-groep genoem, Duidelike herkenbare oorblyfsels van hierdie serie, wat die evolusie van die Sisteem tot stilstand gebring het, word nog in die vorm van basaltrotse en -lae in die Natalse Drakensberg en Lesotho gevind.

Gange, plate en Karookoppies

[wysig | wysig bron]

Behalwe die verskillende lae en series waaruit die Sisteem Karoo opgebou is, het die Karoo nag ’n aantal unieke, maklik herkenbare geologiese kenmerke. Dit is nie presies seker wanneer nie, maar in 'n stadium nadat die verskillende lae van die Sisteem Karoo reeds afgeset en gevorm is, het daar waarskynlik diep onder die oudste laag 'n uitbarsting van gesmelte materiaal plaasgevind wat in elke skeurtjie, bars of verskuiwing in die reeds verharde sandsteenlae opgestoot het en vertikaal en horisontaal versprei het.

Die gevolg was lang gange van doleriet wat oor die hele Karoo kronkel en vandag, namate die Serie Beaufort steeds verder en verder erodeer, duidelik sigbaar word. Ook die horisontale plate wat op hierdie manier gevorm is, is weens miljoene jare se erosie blootgelê. 'n Baie interessante verskynsel is die ontstaan van dolorietsambrele. Hierdie geologiese verskynsel het aanvanklik begin met 'n horisontale dolorietlaag wat die sagter sandsteen daaronder beskerm het.

Namate die sandsteen om die dolorietlaag weggevreet is, hel daar 'n koppie ontstaan en later ’n sambreel. Met verloop van tyd en genoeg donderstorms om die sagte bolaag weg te voer, sak die dolorietdak ook inmekaar en verdwyn die hele koppie. In die huidige geografiese Karoo is daar heelwat van hierdie koppies en sambrele in verskillende stadia van verval.

Menslike bedrywighede

[wysig | wysig bron]
Trekboere deurkruis die Karoo – skildery deur Charles Davidson Bell
'n Blokhuis in Burgersdorp
'n Windpomp teen sononder

Daar bestaan sterk aanduidings dat menslike bedrywighede in groot mate daarvoor verantwoordelik is dat die huidige geografiese Karoo ’n halfwoestyn gebied geword het, dat dit aan die westekant besig is om van 'n halfwoestyn in 'n ware woestyn te ontwikkel en dat soetgrasvelde aan die oostekant besig is om in Karoogebied te verander. Die Karoo is besig om groter, droër en nog minder vrugbaar te word. In menseheugenis was die Karoo nooit 'n tropiese paradys nie, maar daar bestaan aanduidings, veral in die joernale van destydse ontdekkingsreisigers, dat die Karoo vroeër 'n meer uitgebreide plant- bedekking gehad het en selfs besonder goeie weiveld was.

In daardie jare, voordat die Trekboere met hul veetroppe die suidelike berge oorgesteek het, het die Karoovlaktes genoegsame weiding gebied vir die migrerende boktroppe, wat hoofsaaklik uit tienduisende springbokke bestaan het. Juis in hierdie migrasieverskynsel het waarskynlik die behoud van die Karoo-oppervlak gelê. Die wildsbokke het volgens die seisoen agter die reën en die beskikbaarheid van weiding aangetrek.

Hulle het nie, soos die mens se veetroppe wat gevolg het, alles voor die voet afgevreet sodat met die volgende donderstorm nie net die kosbare bogrond nie, maar ook die saad vir die volgende grasbedekking weggespoel het. Die veetroppe het 'n verwoestende sirkelgang van erosie begin en selfs vandag nog veroorsaak oor- beweiding dat die Karoo die soetgrasvelde in die oostelike dele van die Kaapprovinsie inneem, terwyl die westelike en noordelike dele van die Karoo ware woestyneienskappe begin vertoon.

Veral in die Noordelike Karoo is die windpomp en die Karoobossie waarskynlik die enigste twee redes waarom daar die afgelope eeu-en- 'n-half met boerdery volgehou is. Die Karoobossie, wat as veevoer gebruik kan word, kon nog deur byna geen droogte uitgeroei word nie en die windpompe het gesorg dat daar water is om te drink. Boerdery, veral in die Groot-Karoo, het die afgelope ses dekades dan ook drasties verander en met 'n meer bewarende en wetenskaplike benadering lewer hierdie streek vandag 'n groot deel van die land se bruto landbouproduk.

Ook in die Noordelike Karoo, waar daar byna uitsluitlik met vee geboer word, het boerderymetodes die afgelope aantal jare baie verander. Van die regeringskant is daar ook begin met die aanlê van uitgebreide besproeiingskemas en damme, soos die Oranjerivier- en die Sondagsrivierskema. Groot dele wat twintig jaar gelede skaars ’n skaap per hektaar kon dra, is vandag omgeskep in waardevolle tuin- en landbougrond. Die sogenaamde woestynuitbreiding van die Karoo – wat in werklikheid beteken dat aanliggende gebiede as gevolg van verkeerde beweidingsmetodes Karooagtige kenmerke begin aanneem – kan slegs deur verbeterde en oordeelkundige beweidings- en ander landboumetodes gestuit word.

Die lae reënval, die skade wat reeds aan die plantbedekking aangerig is en die feit dat die reën geneig is om in die vorm van harde donderbuie te val, veroorsaak in groot dele egter steeds onherstelbare skade. Op plekke het die deurdringbare bolaag van die Karoo reeds heeltemal verdwyn en reënwater spoel onmiddellik na die naaste spruit of rivier, wat vinnig vol loop, sy walle oorstroom en dan nog verdere skade berokken. Gedurende 1981 het die Buffelsrivier, gevoed deur donderstorms wat in 'n gebied geval het waar die water nie deur die grond opgeneem kon word nie, so vinnig vol geword en afgekom dat dit byna die hele dorp Laingsburg met groot verlies van menselewens verwoes het.

Bestaande boerderybedrywighede

[wysig | wysig bron]

Wol, vleis of karakoelpels was nog altyd die Karooboer se vernaamste bron van inkomste, Die moderne neiging is egter nie om al hoe meer diere aan te hou op plase wat al hoe groter word nie, Tans word daar baie meer aandag gegee aan spesialisering (dit wil sê die boer hou diere aan wat byvoorbeeld goeie vleisdiere is) en aan kuddeverbetering, sodat die gehalte van die produk (byvoorbeeld vleis, wol, pelse, ensovoorts) steeds verbeter. Hierdie tendens het in die afgelope dekades daartoe gelei dat die skaapgetalle afgeneem het terwyl vleis-, wol- en pelsproduksie toegeneem het.

Angorabokke, wat as die werklike uitroeiers van die Karoo beskou is omdat hulle groot dele heeltemal kaalvreet en niks as bedekking agterlaat nie, kom ook nou weer in kleiner, beheerbaarder troppe in die Groot-Karoo voor, nie meer as melk- en vleisdiere nie, maar omrede hulle kosbare sybokhaar. In die omgewing van Cradock en Middelburg word daar ook met groot sukses met stoetperde geboer. Volstruise, wat besonder goed by die Karoo toestande aanpas, word nog net in die Klein-Karoo in groot troppe gevind. Alhoewel daar gedurende die afgelope tien jaar 'n herlewing in volstruisboerdery gekom het hoofsaaklik vir vleis en leer, het dit nog nooit weer die bloeitydperk van die volstruisera, toe die donsvere hoogmode was, beleef nie.

Waar genoeg standhoudende water beskikbaar is, het Karooboerdery heeltemal 'n ommeswaai ondergaan en word daar in besproeiingsgebiede druiwe, sitrus, groente, tabak, koring en veevoer verbou en met stoetvee geboer.

Belangrikste dorpe

[wysig | wysig bron]
Die Lord Milner-hotel in Matjiesfontein

Die Klein-Karoo is baie yl bevolk en die vernaamste dorp is Oudtshoorn, wat sy ontstaan en aanvanklike opbloei hoofsaaklik aan die volstruisveerera te danke gehad het. Vandag is dit die streek se belangrikste handelsentrum, met 'n eie lughawe en ’n aansluitende binnelandse lugdiens. Die nabygeleë Kangogrotte en die volstruispaleise en – plase is ’n belangrike toeriste-aantreklikheid. Ander kleiner dorpe van die Klein-Karoo is Uniondale, Ladismith en Calitzdorp.

Die Groot-Karoo is, soos talle ander Suid-Afrikaanse plattelandse gebiede, ook baie yl bevolk, maar die ontstaan van 'n aantal kleiner dorpe is aan die belangrike spoor en padverbindings deur hierdie streek toe te skryf. Die oudste en vooruitstrewendste dorp is Graaff-Reinet. Water is volop in die omgewing (die Vanryneveldspasdam), sitrus word hierlangs gekweek en die teeI van stoetbeeste en skape speel 'n belangrike rol. Ou, historiese geboue maak van die dorp ook 'n toeriste-aantreklikheid.

Verder oos is Cradock belangrik en die distrik is bekend vir sy wol, sybokhaar, lusern en suiwelboerdery. Matjiesfontein is 'n bekende historiese dorpie wat lank gelede ’n belangrike rol in watervoorsiening aan die spoorweë gespeel het. Dele van die dorp is heeltemal gerestoureer en ook as gesondheidsoord lok dit toeriste. Laingsburg was altyd ’n belangrike verbindingsdorp tussen die noorde en die suide en word met noodleniging en regeringshulp weer geleidelik op die been gebring na die oorstroming in 1981. Prins Albert, Somerset-Oos en Beaufort-Wes is belangrike handelsdorpe.

Die Noordelike Karoo is een van die dele van Suid-Afrika wat die ylste bevolk is. Oor 'n besonder groot gebied is die bevolking in enkele dorpe saamgetrek. Op die plase is die bevolking so yl dat dit moeilik per vierkante kilometer bereken kan word, behalwe in die besproeiingsgebiede langs die Oranjerivier by Kakamas en langs die Sakrivier, waar sitrus, koring, moerbeie en druiwe gekweek word. Die belangrikste dorpe is Kenhardt, Murraysburg, Middelburg, Carnarvon, Prieska, De Aar (’n belangrike spoorwegverbinding), Victoria-Wes en Colesberg. Die Noordelike Karoo is ook die enigste deel van die Karoo waar daar tans van mynboubedrywighede sprake is. Sedert die VOC se tyd word daar al koper in die gebied ontgin en vandag is daar nog werkende kopermyne by Okiep en Nababeep. Asbes is in die 20ste eeu by Prieska ontgin, maar weens die gevaar van asbestose ('n kanker in die longe) is asbesmynbou hier in die 1980s gestaak.

Die landstreek

[wysig | wysig bron]
Tipiese landskap in die Nama-Karoo

Die Khoi, wat honderde jare deur dié dorre gebied geswerf het, het die naam "Karoo" aan die landstreek gegee wat die Hollandse nedersetters die Droogeveld genoem het. Dié vroeë beteken "hard" en daaruit kom die begrip "droog".[2] Voor dit gestandaardiseer is, het die naam ook voorgekom as onder meer Carro, Caro, Carrow, Karo, Karroo, Kuru en Xhaeruh.[3] Die huidige benaming is 'n kompromis tussen die vroeë Engelse vorm Caro en die Afrikaanse Karroo.[2]

Ekologies word die Karoo in twee ekostreke ingedeel: die Sukkulente Karoo in die weste en die Nama-Karoo in die ooste. Hulle verskil in klimaat en in plantegroei. Dit is egter amper onmoontlik om 'n presiese beskrywing te gee van óf die aard óf die grense van die Karoo. Die streek word as 'n eenheid beskou op grond van onder meer die topografie, die geologie en veral die klimaat, wat gekenmerk word deur lae reënval, fel sonskyn en droë lug, met uiterste koue en hitte.

Dié faktore het saam bygedra tot omstandighede waarin die xerofitiese plantegroei van die Karoo ontwikkel het om te oorleef in die strawwe klimaat. Veral dié plantegroei bepaal die Karoo se grense, maar egte Karooplantegroei kom in die aanliggende grasveldstreke voor en omgekeerd, sodat dit moeilik word om dié gebiede se presiese grense te bepaal. Boonop versprei tipiese Karooplante algaande ooswaarts en neem streke in waar hulle enkele honderde jare gelede heeltemal onbekend was. Vernietigende boerderymetodes dra by tot dié verspreiding wat dié agteruitgang en soms vernietiging van 'n groot deel van die oorspronklike plantegroei. Na raming het die Karoo teen 1970 reeds 240 km ooswaarts geskuif en dié uitbreiding duur gedurig voort.[4]

Die huidige grense is die Langeberg-reeks in die suide en sy noordwaartse uitlopers in die distrikte Montagu, Ladismith, Oudtshoorn en Willowmore. In die ooste, waar die Karoo algaande uitbrei, sluit dit die distrikte Pearston, Somerset-Oos, Cradock en Venterstad in met 'n verlenging oor die Oranjerivier tot in die suidweste van die Vrystaat, onder meer die distrikte Philippolis en Bethulie.[4] Die Karoo bestaan uit talle onderverdelings, soos die Hantam-Karoo (rondom Calvinia), die Klein-Karoo ('n gebied van sowat 480 km lank en 128 km breed tussen die Witte- en Swartberg in die noorde en die Langeberge in die suide en wat strek van Worcester in die weste tot by Oudtshoorn in die ooste), die Moordenaarskaroo (noord van die N1 tussen Prins Albertweg en Laingsburg en sluit Sutherland en Middelpos in), die Tankwa-Karoo (tussen die Ceres- of Bokkeveld-Karoo en die Klein-Roggeveldberg in die noorde, die dorp Ceres uitgesluit), die Koup (Laingsburg, Leeu-Gamka, Matjiesfontein en Beaufort-Wes), die Kamdeboo (met Graaff-Reinet in die middel en dorpe Nieu-Bethesda, Aberdeen, Jansenville en Pearston daaromheen), die sentrale Bo-Karoo (wat dorpe insluit soos Richmond, Hanover en Drie Susters aan die N1 nasionale pad, maar strek tot by De Aar, Britstown, Victoria-Wes en Murraysburg), die oostelike Karoo (Somerset-Oos en Cradock), die Koup-Kamdeboo-Karoo (Steytlerville en Willowmore), die oostelike Bo-Karoo (Middelburg, Colesberg en Noupoort) en die westelike Bo-Karoo (die driehoek wat gevorm word deur Williston, Fraserburg, Carnarvon).[2][4][5][6]

Fotogalery

[wysig | wysig bron]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) McCarthy, T. S. (2013). "The Okavango delta and its place in the geomorphological evolution of Southern Africa". South African Journal of Geology. 116: 1–54.
  2. 2,0 2,1 2,2 (af) Raper, P.E. (1972). Streekname in Suid-Afrika en Suidwes. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
  3. (en) Raper, P.E. (1987). Dictionary of South African Place Names. Johannesburg: Lowry Publishers.
  4. 4,0 4,1 4,2 (en) Potgieter, D.J. (hoofred.) (1973). Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Kaapstad: Nasou.
  5. (en) Nell, Leon. 2008. The Great Karoo. Cape Town: Struik Publishers.
  6. (af) Resolusies van die Politieke Raad 4/2/1794, C. 221

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Kruger, Nina: A socio-environmental history of water in the Karoo c. 1712 - 2012, with specific focus on Prince Albert and Williston. Universiteit van Stellenbosch: ongepubliseerde M.A.-verhandeling, 2013
  • Theron, Danie: Ons Karoo-erfenis in gevaar. In: Lantern.Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 23, nr. 1, September 1973
  • Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-55-9 band
  • Yell, L.: The Great Karoo. Kaapstad: Struik, 2008

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

32°31′S 22°34′O / 32.517°S 22.567°O / -32.517; 22.567