Brandenburg
- Hierdie bladsy handel oor die deelstaat Brandenburg, vir die stad in Brandenburg, sien Brandenburg an der Havel.
Landsvlag | Landswapen |
---|---|
(Besonderhede | (Besonderhede) |
Basiese gegewens | |
Ampstaal: | Duits, Neder-Sorbies,[1] Nederduits[2] |
Hoofstad: | Potsdam |
Stigting: | 3 Oktober 1990 |
Nieamptelike volkslied: | Märkische Heide, märkischer Sand |
Oppervlakte: | 29 654,16 vk km (5de) |
Bevolking: | 2 581 667[3] (10de) (31 Desember 2023) |
Bevolkingsdigtheid: | 87 inwoners / km² (15de) |
BBP - Totaal (11de) - % Verandering teenoor vorige jaar - per inwoner |
2023 97,477 miljard €[4] 9,9% (2022) 37 757 € |
Totale skuldlas: | 19,718 miljard €[5] (30 Junie 2024) |
Skuldlas per inwoner: | 7 638 € (30 Junie 2024) |
Werkloosheidsyfer: | 6,1%[6] (November 2024) |
ISO 3166-2: | DE-BB
|
Amptelike webwerf: | www.brandenburg.de |
Politiek | |
Eerste minister: | Dietmar Woidke (SPD) (sedert 28 Augustus 2013) |
Regerende partye: | SPD en BSW |
Setels in die parlement (Landtag) (88 setels) (2019: 88 setels): |
SPD 32 (2019: 25) AfD 30 (23) CDU 12 (15) BSW 14 (–) |
Laaste verkiesing: | 22 September 2024 |
Volgende verkiesing: | 2029 |
Parlementêre verteenwoordiging | |
Stemme in die Federale Raad (Bundesrat): | 4 (van 69) |
Kaart | |
Brandenburg (Duits: [ˈbʁandn̩ˌbʊʁk] ; Nederduits: Bramborg/Brannenborg; Neder-Sorbies: Bramborska), amptelik die Deelstaat Brandenburg (Land Brandenburg, afkorting: BB; Land Brannenborg; Kraj Bramborska), is 'n deelstaat in die noordooste van Duitsland. Die administratiewe hoofstad en grootste stad is Potsdam. Brandenburg grens in die ooste aan Pole, in die suide aan die deelstaat Sakse, in die weste aan die deelstaat Sakse-Anhalt, in die uiterste weste langs 'n klein deel van die Elbe se rivierloop aan die deelstaat Nedersakse en in die noorde aan Mecklenburg-Voorpommere. Die Duitse hoofstad Berlyn, wat 'n eie deelstaat vorm, word volledig deur Brandenburg omring.
Brandenburg se wisselvallige geskiedenis word in historiese bronne gedokumenteer wat sowat tien eeue terugstrek. Die land se status en grense was voortdurend aan veranderinge onderworpe. So het Brandenburg aanvanklik as markgraafskap bestaan, om later 'n keurvorstedom, die kerngebied van Pruise en een van sy provinsies en uiteindelik 'n deelstaat van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) te word wat reeds vyf jaar ná sy stigting in 1947 weer ontbind en in drie administratiewe distrikte – Potsdam, Frankfurt (Oder) en Cottbus – omgeskep is. Met die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland op 3 Oktober 1990 het Brandenburg sy vorige status herwin om een van die sestien deelstate van die Federale Republiek Duitsland te word.
Brandenburg is ten opsigte van sy oppervlakte die grootste van vyf nuwe oostelike deelstate wat op die gebied van die voormalige DDR gevorm is. Sy infrastruktuur is veral op Berlyn gerig, wat soos 'n eiland in die hart van Brandenburg lê. So word na Brandenburg dikwels as 'n deelstaat sonder geografiese hartland verwys.[8]
Saam met Berlyn vorm Brandenburg die metropolitaanse gebied (Duits: Metropolregion) Berlyn-Brandenburg, en ook die welvarendste nedersettings van Brandenburg is in die omgewing van Berlyn geleë. Baie voormalige bewoners van die Duitse hoofstad het hulle hier in die landelike groen gordel gevestig.
Die periferie van Brandenburg word deur yl bevolkte gebiede gekenmerk, wat veral op die landbou steun, soos Prignitz, Fläming, Spreewald, Oderbruch of Uckermark. In die omgewing van die stad Cottbus in die suidooste lê uitgestrekte dagboumyngebiede, waar groot hoeveelhede bruinkool vir die termiese kragsentrales van die gebied ontgin word.
Op die oog af is Brandenburg met meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope een van die waterrykste deelstate van Duitsland. Maar ondanks hierdie groot hoeveelhede oppervlakwater is daar 'n tekort aan grondwater, en die gebied ontvang in vergelyking met ander deelstate 'n lae reënval. Brandenburg is bowendien 'n sanderige streek waar die grond sonder aangepaste landboumetodes meestal te arm is vir intensiewe boerdery.
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die deelstaat Brandenburg het sy naam te danke aan die gelyknamige stad. Die eerste skriftelike verwysing na die naam Brandenburg dateer uit die Bisdom Brandenburg se stigtingsakte. Dit beskryf die stigting van die bisdom in de civitate Brendanburg. Dit dateer uit die jaar 948, waaroor historici egter oneens is. Die eerste verwysing dateer uit die kronieke van Widukind van Corvey uit die jaar 967. Dit beskryf die verowering van die Brennaburg.[9] Die naam kan die volgende moontlike oorspronge hê: óf 'n Slawiese herkoms van die naam uit bran, "moeras" óf 'n Germaanse herkoms uit branda, "brand". 'n Afleiding van die heilige Brendanus die Navigator se naam is weens die in Brandenburg ontbrekende kultus rondom hom onwaarskynlik. Dié naam kon egter tydens die Karolingers se tydperk rondom die Frankonisering van plekname uit die Wes-Frankiese gebied oordra gewees het en dus sy oorsprong in 'n heiligekultus op 'n ander plek gehad het. Meer onlangse interpretasiepogings maak staat op 'n woord met 'n Indo-Europese oorsprong: *brendh vir "swel". In hierdie geval is die interpretasie gebaseer op 'n waterliggaam met die agtervoegsel -burg vir "kasteel".[10]
Die naam Brennabor is heel waarskynlik fiktief. Die Boheemse Jesuïetepriester Bohuslaus Balbinus het in 1677 die plekname van die vroeëre Slawiese nedersettingsgebiede probeer rekonstrueer om hul Slawiese herkoms te bewys: "Brandenburg is destyds deur die Slawe: "Branny Bor", d.w.s. silvae custodia, wag van die bos, genoem.[11][12][13] Om etnies-politieke redes het die Boheemse Slawiërs die ongewilde Duitse "burg" met die Slawiese, soortgelyk klinkende, maar nie gedokumenteerde "bor" vervang. Weens die "Burg" in die pleknaam kan met sekerheid aanvaar word dat die Slawiese inwoners van Brandenburg na hul kasteelmuur met 'n ander naam verwys het, maar die presiese naam is onbekend. Die fiktiewe "Brennabor" het slegs in gebruik gebly weens die gelyknamige maatskappy Brennabor wat van 1892 af in die stad Brandenburg an der Havel met groot sukses sy fietse onder hierdie naam vervaardig het.
Geografie
[wysig | wysig bron]Brandenburg lê in die Noord-Duitse Laagvlakte. Sy reliëf word deur twee heuwelreekse en twee laagtes oorheers. Die laagtes is riviervalleie, wat aan sy kante deur moerasgebiede begrens word. Hulle is meestal drooggelê en het vroeër groot hoeveelhede turf opgelewer. Die riviervalleie word in die plaaslike Duitse vakterminologie Bruch of Luch genoem.
Die noordelike Brandenburg beslaan net klein dele van die Mecklenburgse Mereplato se Noordelike of Baltiese Heuwelreeks. Die heuwelreeks in die suide loop oor 'n lengte van 230 kilometer van die Lausitzer Hoogtes (of meer presies die Sorause Sandberge) in die ooste oor Triebel en Spremberg, Calau in die noordweste en tot by die kaal en dorre Fläming – 'n streek wat sy naam aan Vlaamse setlaars te danke het wat hulle hier in die Middeleeue gevestig het.
Die suidelike laagte lê teen die noordelike rand van die heuwelreeks, met die Spreewald as sy vernaamste landskap. Die noordelike laagte lê teen die voet van die Baltiese Heuwelreeks en word oorheers deur die riviervalleie van die Netze- en Warthebruch, die Oderbruch, die Finowvallei, die Havellandse Luch en die Elberiviervallei.
Tussen die twee laagtes lê 'n plato, wat vanaf die gebied van die Poolse stad Posen (Poznań) in die ooste in westelike rigting na Brandenburg loop. Sy vernaamste Brandenburgse landskappe is die Sternbergse Land, die Spreeplato en Middelmark. 'n Aantal laagtes deursny die plato vanuit die suidooste in noordwestelike rigting, soos byvoorbeeld die Faule Obravlakte en die Havelvallei. Die gebied word deur 'n aantal heuwels en heuwelreekse gekenmerk, waaronder die Semmelberg naby Bad Freienwalde op 'n hoogte van 157 meter bo seevlak, die Müggelberge in Berlyn-Köpenick (120 meter), die Havelberge 97 meter) en die Rauensche Berge naby Fürstenwalde (112 tot 152 meter).
Die hoogste bergpieke in Brandenburg is die Heidehoogte (Duits: Heidehöhe) naby die grens van die deelstaat Sakse in die suide en die Hagelberg naby Belzig in Fläming op 'n hoogte van 201 meter.
Die plato word oorwegend deur sanderige grond en uitgestrekte gebiede met dennebome en heide as die belangrikste flora gekenmerk. Ondanks sy dorre voorkoms is die grond orals deurmeng met leem en danksy aangepaste verbouingsmetodes geskik vir landbou.
Meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope en kanale maak van Brandenburg die waterrykste deelstaat van Duitsland. Nogtans word die land deur 'n tekort aan grondwater geknel. Die meeste groot mere en riviere word deur middel van kanale met mekaar verbind.
Klimaat
[wysig | wysig bron]Brandenburg is in die oorgangsgebied tussen die maritieme klimaatsone van Wes-Europa en die kontinentale klimaat van Oos-Europa geleë en het sodoende 'n gematigde kontinentale klimaat met betreklik warm somers en soms koue winters. Weens die relatief klein hoogteverskille van die terrein is temperatuurverskille tussen die verskillende landsdele beperk tot bepaalde weersituasies.
Die gemiddelde jaarlikse temperatuur wissel tussen 7 en 10 °C. Januarie is gewoonlik die koudste maand van die jaar, met 'n gemiddelde van -1 °C in die oostelike Brandenburg. Afhangende van die weersomstandighede kan die uiterstes in Januarie tussen -30 °C en +15 °C wees.
Julie is gewoonlik die warmste maand met 'n gemiddelde reënval van 34 millimeter en 'n gemiddelde temperatuur van 18 °C. Brandenburg behoort met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van minder as 600 millimeter, wat hoofsaaklik in die somermaande aangeteken word, tot die droogste gebiede in Duitsland en Europa en word gedurende langer droë fases gereeld deur bosbrande bedreig. Net in enkele streke soos die Prignitz in die noordweste en in hoër geleë gebiede soos die Hohe Fläming en die Hohe Barnim word meer as 600 mm reënval aangeteken.
Die deelstaat het 'n gemiddelde 1 600 sonskynure per jaar. Dit maak van Brandenburg een van die sonnigste Duitse deelstate. In 2018 was Brandenburg en Berlyn die warmste van Duitsland se sestien deelstate. Die gemiddelde temperatuur in die somermaande tussen Junie en Augustus was in Brandenburg 20,3 °C (in vergelyking met 'n gemiddeld van 19,3 °C vir die hele Duitsland).[14] Die deelstaat het in 2018 ook een van sy droogste somers en najare beleef.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Vroeë geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die Mark Brandenburg is 'n historiese landskap in die huidige ooste van Duitsland en die huidige weste van Pole. Die Duitse term Mark verwys na die gebied se rol as 'n grensland van die voormalige Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie. In geografiese opsig het die gebied groot dele van die huidige deelstaat Brandenburg, Berlyn, die landskap Altmark wes van die Elberivier (in die noorde van die huidige deelstaat Sakse-Anhalt) en Neumark oos van die Oderrivier (wat tans deel uitmaak van die Poolse woiwodskappe Lebus en Wes-Pommere) beslaan. Dele van die huidige Brandenburg soos Neder-Lausitz in die suide het vroeër nie by die Mark Brandenburg behoort nie. Die huidige deelstaat word in die Duitse omgangstaal dikwels nog steeds Mark Brandenburg of net Mark genoem.
Brandenburg se begin
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikels vir hierdie afdeling is: Mark Brandenburg en Heilige Romeinse Ryk.
Die Germane, wat op die gebied van die huidige Brandenburg gewoon het, het tydens die Volksverhuising in die vierde tot sesde eeu die gebied verlaat. In die 7de en 8ste eeu het Slawiërs hulle in verskeie golwe in die gebied gevestig. Aangevoer deur Hendrik I het gedurende winter 928/929 'n Oos-Frankiese leër die Brandenburg verower, sentrum van die Heveller se ryk, waarna hulle tribuut moes betaal. Otto I het die voorheen losse integrasie versterk en die Saksiese Oos-Mark gestig waarna in 937 vir die eerste keer verwys is. Enkele jare ná sy kroning tot keiser van die Heilige Romeinse Ryk in 962 is die Bisdomme Brandenburg, Havelberg en Meißen gestig.[15][16][17][18]
In 965 is die Oos-Mark verdeel. Die suide met onder andere die Mark Lausitz (die latere Opper-Lausitz) het onder Duitse heerskappy gebly. In die Noord-Mark is dit egter met die Slawiese opstand in 983 beëindig. Ondanks herhaaldelike veroweringpogings is hier die Duitse Ooskolonisasie en Kerstening vir meer as 150 jaar gekniehalter. (In detail was die ontwikkeling meer gedifferensieerd.) Van die 12de eeu se eerste derde af het Pommere, Pole, Silesië, Meißen, Maagdeburg, die Duitse konings en Saksiese adellike huise hier vir oorheersing geveg. Die Poolse aansprake het byvoorbeeld in 1124 met die stigting van die Bisdom Lebus gemanifesteer. Uiteindelik het 'n dinastie geseëvier wie se naam van die Aschersleben-kasteel ontleen is.[16][19][20][21][22][23]
Albrecht die Beer uit die Huis van Askaniër het noue bande met Pribislaf aangeknoop. Die Hevellervors is in 1150 sonder nakomelinge oorlede. Albrecht I het sy gebied geërf en sodoende die Brandenburg redelik vreedsaam oorgeneem. Jaxa, moontlik die prins van die Sprewane wat onder Poolse gesag was, het homself as 'n familielid van Pribislaf as onterf beskou. In die lente van 1157 is die kasteelpoort vir hom oopgemaak deur omkopery en hy het saam met 'n Poolse leër ingetrek. Albrecht kon die kasteel, met hulp deur onder andere Saksiese adellikes en die Maagdeburgse aartsbiskop Wichmann, op 11 Junie 1157 herower. Hierdie datum word algemeen as die stigtingsdag van die Mark Brandenburg beskou.[24]
Tydens hul geleidelike uitbreiding van hul soewereiniteit en gebied kon die Askaniërs hul mededingers óf verdring óf betrek. Hul ryksvrye posisies het min of meer slegs die Heerskappy Ruppin asook die drie Prinsbisdomme Brandenburg, Havelberg en Lebus beskerm. Die Slawiërs is deels hervestig, onder ander by die Chorin-klooster se stigting. Oor die algemeen was hulle tydens die staatsuitbreiding gelykgestel. Aan die einde van die 12de eeu het met die Keurvorswaardigheid die Markgrawe van Brandenburg se politieke belangrikheid gegroei. Hulle het van 1302/1304 ook gesag uitgeoefen oor die Mark Lausitz. In 1320 het die Askaniërs se Brandenburgse lyn uitgesterf.[25][26][27][21][28]
Wittelsbach en Luxemburg se huismagsbeleid het steeds die twee marke se geskiedenis met mekaar verbind. Vanuit die Mark Brandenburg se oogpunt was die tydperk onder die Huise van Wittelsbach (1323–1373) en Luxemburg (1373–1415) 'n fase van taamlik swak heersers. Slegs die kort stabiele tydperk onder Karl IV het uitgeblink. Onder sy bewind is eers die Mark Lausitz (1370) en daarna die Mark Brandenburg (1374) by die Boheemse Kroon se landerye gevoeg.[21][29][26]
Van 1411 en uiteindelik van 1415 was die Mark Brandenburg onder gesag van die Hohenzollern. Hulle het die land suksesvol gepasifiseer en die sentrale mag se gesag herstel. Die Mark Brandenburg, wat deur die Dertigjarige Oorlog verwoes en verarm is, is van 1640 af geleidelik deur Frederik Willem I herbou. Die Swede se inval in 1674/1675 het dit vir 'n rukkie onderbreek. Die Groot Keurvoers en generaal Georg van Derfflinger het egter beslissende oorwinnings behaal tydens die veldslae by Rathenow, Nauen en veral by Fehrbellin.
Brandenburg het van 1648 af 'n aanhoudende opswaai beleef, ook ondersteun deur 'n sterk Brandenburgse leër. Die land het in die 17de eeu noue en samewerkende betrekkinge met sy suidelike buurland, die Keurvorstedom Sakse, gehandhaaf.
Pruise (1701–1933)
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikels vir hierdie afdeling is: Koninkryk Pruise, Duitse Keiserryk en Republiek van Weimar.
Van 1701 tot 1946 was die Mark Brandenburg se politieke geskiedenis onlosbaar verbonde met die staat Pruise. In 1701 het keurvors Frederik I van Brandenburg homself tot koning in Pruise gekroon. Deur dié rangverhoging van die keurvors is aanvanklik slegs die name van staatsinstellings soos leër, ambassadeurs en owerhede verander van "Keurvorstelik-Brandenburgs" na "Koninklik-Pruisies". Die sentrale provinsie Mark Brandenburg se belangrikheid met die residensiële landskap rondom Berlyn en Potsdam het mog meer toegeneem, toe Brandenburg-Pruise in 'n sentrale, absolutistiese staat met politieke ambisies in beide Duitsland en Europa ontwikkel het. Onder koning Frederik I se bewind van 1688 tot 1713 het die Mark se bevolking met sowat een derde toegeneem op meer as 730 000 in 1713. Die aantal stede het gegroei na 120. Daarbenewens het die stede Brandenburg an der Havel en Frankfurt (Oder) elkeen 'n bevolking van 10 000 bereik.
Tydens die Sewejarige Oorlog van 1756 tot 1763 was die Mark weer 'n oorlogsterrein. Oostenrykse en Russiese troepe het herhaaldelik die Mark binnegedring en Berlyn tydelik beset.
Frederik II het hom tydens die tweede helfte van sy bewind toegespits op die heropbou en ontwikkeling van die Mark. In die Rhingebied, langs die Dosse en Netze het hy dreineringslote laat bou en die Plauer- en Finowkanaal as verbindings tussen Elbe en Oder laat grawe. Die Brandenburgse moeras is omskep in vaste grond en migrante uit Boheme en Veterane kon hulle daarop vestig. Van 1770 tot 1786 is in Kurmark en Neumark 412 dorpe gestig en 124 720 koloniste het 'n nuwe tuiste gevind. Onder andere is in die Oderbruch 50 dorpe gestig.
In historiese opsig het Brandenburg saam met Berlyn (wat deel was van Brandenburg) die hartland van Brandenburg-Pruise gevorm. In die Pruisiese administratiewe hervormings ná die Kongres van Wene in 1815 is die Brandenburg-provinsie gestig, maar die Altmark was nie deel van dié provinsie nie, terwyl voorheen Saksiese gebiede in die Lausitz wél ingesluit is. Brandenburg se gebied was in hierdie tyd op sy grootste en die grootste provinsie van Pruise. As gevolg van die Wet oor die Vorming van Groot-Berlyn het die Duitse hoofstad Berlyn in 1920 'n selfstandige gebied geword en is van die destydse provinsie Brandenburg afgestig.
Nasionaalsosialistiese bewind en Tweede Wêreldoorlog (1933–1945)
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Nazi-Duitsland.
Die Nasionaalsosialistiese bewind het in Brandenburg, net soos elders in die Duitse Ryk, ingrypende veranderings saamgebring. Die politieke en industriële ontwikkeling is deur die ligging van Berlyn as setel van die NS-diktatuur beïnvloed. So is talle krygstuigfabrieke, militêre installasies en konsentrasiekampe (onder meer in Sachsenhausen naby Oranienburg en in Ravensbrück naby Fürstenberg an der Havel) in Brandenburg gevestig. Militêre aanlegte het van Brandenburgse stede soos Potsdam, Frankfurt (Oder), Prenzlau en Guben nog in die laaste oorlogsmaande van 1945 belangrike teikens van geallieerde lugaanvalle gemaak. Die Brandenburgse bevolkingsverliese in die bombardemente en militêre gevegte tussen Duitse en Sowjet-Russiese magte word op 'n halfmiljoen beraam.[30]
In die laaste fase van die Tweede Wêreldoorlog het, ná swaar verdedigende gevegte die Rooi Leër die gebied beset en die Brandenburg-provinsie het in 1945 deel geword van die Sowjetse besettingsone, maar sonder die gebiede oorkant die Oder-Neiße-grenslyn (Neumark), wat aan Pole oorhandig (en met die Duits-Poolse Grensverdrag van die jaar 1990 het die twee lande hulle grenslyn amptelik erken) en wie se Duitse bevolking verdryf is. In herfs 1946 het die Brandenburgse parlement (Landtag) vir die eerste keer vergader.
Sowjet-besetting en Duitse Demokratiese Republiek (1949–1990)
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Duitse Demokratiese Republiek.
Nog in die jaar 1945 is die provinsie Mark Brandenburg in die Sowjet-Besettingsone (SBS) met die administratiewe distrikte Potsdam en Frankfurt (Oder) gevorm. Die eerste Brandenburgse parlement, die Landtag, het vir die eerste keer in die herfs van 1946 vergader. Anders as die ander provinsies van die SBS het Brandenburg nie aan enige historiese tradisie van 'n eie regering of parlement aangeknoop nie, aangesien dit steeds deur die Pruisiese regering beheer is.
Op 6 Februarie 1947 provinsie in die nuwe Land Brandenburg herstig, wat as 'n deelstaat van die toekomstige Duitse Demokratiese Republiek (DDR) gestig is.[31] Die Vrystaat Pruise is op 25 Februarie 1947 deur die Beheerraadwet 46 ontbind. Ná die ontbinding van Pruise in Julie 1947 is die provinsie hernoem tot Land Brandenburg met 'n oppervlak van 27 612 vierkante kilometer. Die meeste instellings van die land het egter reeds met die stigting van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) in 1949 die meeste van hulle oorspronklike funksies ingeboet.
In 1952 is die Land Brandenburg as gevolg van die DDR se administratiewe hervorming ontbind en in drie distrikte (Duits: Bezirke) opgedeel – Cottbus, Frankfurt (Oder) en Potsdam. Die landelike distrik Perleberg het deel geword van die administratiewe distrik Schwerin, terwyl die landelike distrikte Prenzlau en Templin by die administratiewe distrik Neubrandenburg ingelyf is.
Ekonomies gesproke het die tradisionele landbougebiede van die voormalige Mark gedurende die DDR se 40 jaar 'n ingrypende verandering ondergaan. Onder andere het die Neder-Lausitz-nywerheidsgebied ontstaan, waaronder die bruinkoolkragsentrales vir energieproduksie met 'n gelyktydige uitbreiding van bruinkoolontginning suid en oos van Cottbus, waar sowat tweederdes van die DDR se brandstofproduksie gekonsentreer was. In Ludwigsfelde was daar 'n belangrike vragmotorbedryf, in Teltow elektriese nywerhede, in Schwedt/Oder ruolie- en papiernywerhede, in Brandenburg an der Havel en Eisenhüttenstadt staalaanlegte, in Wildau vervaardiging van swaar masjinerieë, in Rathenow (sedert 1801) optiese nywerhede, in Wittstock/Dosse en in Premnitz tekstielbedrywe.
Federale Republiek Duitsland (sedert 1990)
[wysig | wysig bron]Op 3 Oktober 1990 is die Land Brandenburg deur die samesmelting van die der administratiewe distrikte Cottbus (sonder die landelike distrikte Hoyerswerda, Jessen en Weißwasser), Frankfurt (Oder) en Potsdam saam met die landelike distrikte Perleberg, Prenzlau en Templin herstig. Op 26 Oktober 1990 het die nuwe Landtag (parlement) van Brandenburg vir die eerste keer vergader. Brandenburg se susterdistrik tydens die ontwikkeling van die nuwe strukture was Noordryn-Wesfale.
Die politieke ontwikkeling van die deelstaat is in die tydperk tussen 1990 en 2002 deur die eerste minister Manfred Stolpe oorheers, ondanks bewerings dat hy vroeër kontakte met die Staatsveiligheidsdiens van die DDR sou onderhou het en onrusbarend hoë werkloosheidsyfers. In Mei 1996 het die burgers van Brandenburg in 'n referendum teen die voorgestelde vereniging met die deelstaat Berlyn gestem. Die vereiste kiesersopkoms van 25% is nie bereik nie. Op 1 Mei 2004 is in Frankfurt (Oder) die Europese Unie se uitbreiding met verteenwoordigers uit Duitsland en die buurland Pole simbolies gevier.[32]
Met die laat vaar van ekonomiese ontwikkeling volgens die "gieterbeginsel" het die Brandenburgse deelstaatregering in 2004 befondsings begin aanpas. Slegs volhoubare nywerhede wat in hul streek reeds goed gevestig was en oor 'n groeipotensiaal beskik het, sou ondersteun word. Onder deelname van 26 stede en munisipaliteite is 15 "plaaslike groeisentras" gestig en vir elkeen die kwalifiseerende nywerheidsbevoegdhede bepaal.
Politiek
[wysig | wysig bron]Administratiewe verdeling
[wysig | wysig bron]Sedert 'n administratiewe hervorming in 1993 word Brandenburg in 14 landelike distrikte en vier selfregerende stede verdeel.
Landelike distrikte
[wysig | wysig bron]Die Brandenburgse distrikte en hulle hoofstede |
|
Selfregerende stede
[wysig | wysig bron]- Brandenburg an der Havel (BRB)
- Cottbus (CB)
- Frankfurt (Oder) (FF)
- Potsdam (P)
Landswapen en -vlag
[wysig | wysig bron]Volgens artikel 4 van die deelstaat Brandenburg se grondwet is die Mark Brandenburgse arend teen 'n wit agtergrond die amptelike wapen van die land. Die landsvlag is rooi en wit met die landswapen in die middel.
Die Brandenburgse arend en die wapen dateer uit die 12de eeu en het vir die eerste keer in die standbeeldseël van die Askaniër Otto I van Brandenburg, die seun van Albrecht I, uit die jaar 1170 verskyn. Tot by die einde van die Tweede Wêreldoorlog is 'n aantal bykomende elemente soos swaard en borsskild by die wapen gebruik.
Erste ministers
[wysig | wysig bron]- 1990–2002: Manfred Stolpe (SPD)
- 2002–2013: Matthias Platzeck (SPD)
- 2013–hede: Dietmar Woidke (SPD)
Susterstreke
[wysig | wysig bron]Brandenburg is saam met die ander drie Oos-Duitse deelstate Berlyn, Mecklenburg-Voorpommere en Sakse, asook die vier Poolse woiwodskappe Groot-Pole, Lebus, Neder-Silesië en Wes-Pommere aktief betrokke in die Oder-vennootskap.[33]
Susterstreke van Brandenburg[34] | |||
---|---|---|---|
Woiwodskap Groot-Pole | Pole | ||
Oosseestreek | |||
Centru | Roemenië |
Demografie
[wysig | wysig bron]Huidige bevolking
[wysig | wysig bron]Die bevolking van Brandenburg het in Desember 2019 sowat 2,5 miljoen beloop en was sodoende die tiende grootste van die sestien Duitse deelstate. Met 'n bevolkingsdigtheid van 85 inwoners per km² is Brandenburg ná Mecklenburg-Voorpommere die ylste bevolkte deelstaat. Met Potsdam en Cottbus kwalifiseer twee Brandenburgse nedersettings in statistieke opsig as Großstädte, dit wil sê groot stede met 'n bevolking van meer as 100 000.
Die persentasie buitelandse inwoners beloop tans 2,8 persent (teenoor slegs 0,7 persent in 1990).[35] Altesaam vyf persent van die Brandenburgse bevolking is onlangse immigrante of kinders van migrante (teenoor 19 persent van die totale Duitse bevolking). Die Sorbiese minderheid van 20 000 mense – 'n klein Wes-Slawiese volk wat sy eie taal en kultuur bewaar het – is in enkele landelike distrikte in Suid-Brandenburg en in Cottbus saamgetrek.
Demografiese ontwikkeling
[wysig | wysig bron]Die historiese Mark Brandenburg het geen homogene oorspronklike bevolking nie. Die Mark was 'n kolonisasiegebied waar mense van uiteenlopende Europese etniese agtergrond hulle gevestig het. Die huidige Brandenburgers of Märker is onder meer nakomelinge van Vlaminge, Nederlanders, Friese, Frankiese en Swabiese boere, Rynlanders en Saksers wat hulle in die vroeë middeleeue hier gevestig het. Hulle is opgevolg deur Sistersiënser-monnike, Protestantse geloofsvlugtelinge uit die Oostenrykse Salzburg en Franse Hugenote. Die laasgenoemdes was die grootste enkele groep immigrante wat nogtans vinnig geassimileer is – so was die skrywers Theodor Fontane en Willibald Alexis, die digters Friedrich de la Motte Fouquet, Adelbert von Chamisso en Gottfried Benn naas ander bekende persoonlikhede uit Brandenburg nasate van hierdie refugiés.[36]
Franse Hugenote-vlugtelinge het 'n belangrike bydrae tot die ekonomie, staatsdiens, kunslewe en wetenskappe gelewer en ook spore in die plaaslike taalgebruik gelaat.
Taal
[wysig | wysig bron]Naas Hoogduits word veral Mark-Brandenburgse en Berlyn-Brandenburgse dialekte gepraat. In die grensgebied van Brandenburg met Sakse en Sakse-Anhalt speel Thuringies-Opper-Saksiese dialekte soos Anhalties 'n belangrike rol. Ander belangrike dialekte van Brandenburg word in Neder-Lausitz en Barnim gepraat.
In die oostelike deel van Neder-Lausitz praat sowat 20 000 mense Neder-Sorbies, 'n Wes-Slawiese taal. Die gebied is amptelik tweetalig.
Die woordeskat van die Brandenburgse dialekte is saamgestel en beskryf in die Brandenburgs-Berlynse Woordeboek (Brandenburg-Berlinisches Wörterbuch).
Wêreldbeskouings
[wysig | wysig bron]Meer as driekwart van Brandenburg se inwoners is ongebonde.
Christendom
[wysig | wysig bron]Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die bisdomme Brandenburg en Havelberg is in 948 gestig om die Christelike sendingwerk in die Mark Brandenburg te behartig. Die inheemse Slawiese bevolking het die Christelike geloof egter as die godsdiens van die veroweraars beskou en hulle teen die kerstening verset. Eers in die 12de eeu het die aantal Christene in Brandenburg danksy markgraaf Albrecht "die Beer" se kolonisasiebeleid en die gepaardgaande vestiging van groot getalle Duitse setlaars aanmerklik toegeneem. Die eerste Christelike markgrawe het naas setlaars ook die eerste geestelike ordes na die gebied genooi.[37]
In 1170/71 het Cisterciënsers die eerste klooster oos van die Elberivier gestig, die Zinna-klooster naby Jüterbog. Tien jaar later het die Lehnin-klooster gevolg. In die vroeë 13de eeu het die Cisterciënser-orde steeds meer kloosters opgerig, waaronder die bekende Chorin-klooster in die huidige Barnim-distrik. Elke klooster het oor sy eie skool, omvangryke biblioteek en 'n gesofistikeerde boerdery beskik.
In 1170/71 het in Brandenburg en Havelberg, wat albei setels van biskoppe was, ook domkerke ontstaan. Die laat 12de eeu was die beginpunt van 'n nuwe periode in die sakrale boukuns van Brandenburg waartydens die eerste massiewe steenkerke gebou is. Die oudste bewaarde dorpskerk in die Mark Brandenburg is in die huidige Berlynse stadsdeel Marienfelde geleë en dateer waarskynlik van 1220.
Protestantse Hervorming
[wysig | wysig bron]In 1539 het die gebied van Brandenburg en Berlyn die Protestantse geloof aangeneem. Historiese kronieke noem twee datums as die begin van die Hervorming in Brandenburg. Op 14 September is die eerste amptelike Lutherse preek in die Berlynse domkerk deur Georg Buchholzer gehou. Op 1 November is in die Spandause St. Nikolai-kerk vir die eerste keer die Nagmaal volgens die Lutherse ritus in albei gedaantes (brood en wyn) gehou. Dié kerkdiens is deur keurvors Joachim II en die Brandenburgse biskop Matthias von Jagow bygewoon.[38] Martin Luther se reformatoriese grondbeginsels het in 1540 ingang gevind in die nuwe kerkorde.
In 1613 het die keurvors en kerkhoof Johann Sigismund die gereformeerde belydenis aanvaar waarop die Geneefse kerkhervormer Johannes Calvyn sy stempel afgedruk het. Anders as in dié tyd gewoonlik is van die bevolking nie verwag om die voorbeeld van die heerser te volg nie. So het die Brandenburgers verkies om aan hul Lutherse geloof vas te hou. Nogtans is daar in Brandenburg en Berlyn vervolgens ook talle gereformeerde kerkgemeentes gestig.
Huidige situasie
[wysig | wysig bron]Alhoewel die Christendom die grootste religieuse wêreldbeskouing in Brandenburg is, is slegs 19,3 persent van die bevolking lede van die Evangelies-Lutherse Kerk en verwante vrykerke, 3,2 persent is Rooms-Katolieke. Die meeste kerklik gebonde Brandenburgers is om historiese redes lede van die Evangelische Kirche Berlin-Brandenburg-Schlesische Oberlausitz. Aangesien die grense van kerkprovinsies nie ooreenkom met dié van die huidige Duitse deelstate nie, val enkele gemeentes in die weste en suidweste van Brandenburg administratief onder die Evangelische Kirche in Mitteldeutschland.
Rooms-Katolieke Christene is in die aartsbisdom Berlyn georganiseer, met uitsondering van dele van Lausitz (bisdom Görlitz) en gemeentes in die suidweste (bisdom Maagdenburg).
In sommige dele van Brandenburg is daar ook gemeentes van die Selfstandige Evangelies-Lutherse Kerk of Oud-Lutherse Kerk wat in administratiewe opsig deel uitmaak van die kerkdistrik Berlyn-Brandenburg.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Ekonomiese struktuur
[wysig | wysig bron]Brandenburg was die bakermat van die moderne lugvaartbedryf, en lug- en ruimtevaarttegnologie word net soos metaal- en motorvervaardiging, die voedselbedryf, chemiese en optiese bedryf, rolprentvervaardiging en bosbou by Brandenburg se tradisionele ekonomiese sektore gereken wat almal by die globale mark aangepas is. 'n Aantal Brandenburgse ondernemings het hulself as tegnologiese leiers op die wêreldmark gevestig. Intussen speel ook innovatiewe bedrywe soos omgewings- en biotegnologie, die media-, inligtings- en kommunikasiebedryf 'n belangrike rol.
Meer as driehonderd buitelandse maatskappye, waaronder die Amerikaanse koeldrank-reus Coca-Cola en die Sweedse energieverskaffer Vattenfall, het hulle in die deelstaat gevestig. Maatskaplike transformasie en demografiese veranderings – Brandenburg het 'n krimpende arbeidsmag binne 'n verouderende bevolking – is tans die grootste uitdagings vir die plaaslike ekonomie. Die bruto binnelandse produk (BBP) het in 2017 €69,1 miljard beloop.
Brandenburg se nywerhede en dienstesektor is langs die Federale Snelweg A 10 (Bundesautobahn 10) gekonsentreer, wat Berlyn omring, en in 'n aantal nywerheidsentrums wat hoofsaaklik in die suide van die deelstaat geleë is. Naby Eisenhüttenstadt aan die Oder en Brandenburg aan die Havel is staalaanlegte opgerig. Die laasgenoemde stad beskik daarnaas oor belangrike nywerhede soos 'n drukmasjienefabriek van die Heidelberger Druckmaschinen AG en 'n ratkasfabriek van ZF Friedrichshafen.
Maar ook in die noorde van Brandenburg het groot nywerhede ontstaan. Voorbeelde is die staalfabrieke van Hennigsdorf en die nywerhede in Eberswalde. 'n Ander belangrike nywerheidsentrum is Schwedt aan die Oder in die noordooste van Brandenburg met 'n olieraffinadery (PCK Raffinerie GmbH) en twee papierfabrieke.
In die res van Brandenburg is voedselverwerking, die houtbedryf en landbou die vernaamste ekonomiese sektore. In die suide van die land word bruinkool in dagboumyne ontgin wat as brandstof vir die termiese kragsentrales van Vattenfall GmbH dien.
Ekonomiese ontwikkeling
[wysig | wysig bron]Die uitvoere, wat sterk begin groei het, is tans een van die belangrikste dryfkragte agter die ekonomiese ontwikkeling van die deelstaat. Brandenburgse handelskantore is onder meer in die Russiese hoofstad Moskou, die Letlandse hoofstad Riga en in die Verenigde Arabiese Emirate geopen.
In 2005 het uitvoere 6,6 miljard € (61,5 miljard ZAR) beloop, 'n styging van 21,6 persent teenoor dié van die vorige jaar. Sedert die jaar 1995 het uitvoere met 258 persent gestyg.
Die belangrikste uitvoergoedere in 2005 was farmaseutiese produkte ter waarde van 520 miljoen € (4 858 miljoen ZAR), vliegtuie, olieprodukte, plaatstaal, houtprodukte en yster- en staaldrade. Die hoofsaaklike handelsvennote was Pole (858,1 miljoen € / 8 015 miljoen ZAR), Nederland (550,2 miljoen € / 5 139 miljoen ZAR), die Verenigde State, Italië, die Verenigde Koninkryk en Oostenryk.
Invoere het in 2010 met 14,4 miljard € die hoogste vlak sedert 2005 bereik (2009: 11,6 miljard €). Uitvoere het van 10,7 miljard € in 2009 gestyg tot 12,3 miljard €. Die belangrikste handelsvennote vir uitvoere was Frankryk (2,1 miljard €), Pole (1,4 miljard €) en die Verenigde State (1,1 miljard €).
Die toekomstige ekonomiese ontwikkeling sal veral op die toerismesektor steun.
Rang | Land | Uitvoere | Invoere |
---|---|---|---|
1 | Pole | 2105 | 3128 |
2 | VSA | 1205 | 464 |
3 | Frankryk | 932 | 961 |
4 | Tsjeggië | 876 | 475 |
5 | Nederland | 653 | 965 |
6 | Italië | 630 | 762 |
7 | Oostenryk | 503 | 520 |
8 | Verenigde Koninkryk | 469 | 1022 |
9 | Kanada | 452 | 441 |
10 | België | 420 | 462 |
Totaal | 12912 | 19603 |
Handelsbande met Suid-Afrika
[wysig | wysig bron]'n Hoëvlak-afvaardiging uit Brandenburg onder leiding van die minister vir ekonomiese sake en Europese aangeleenthede, Ralf Christoffers (Die Linke), met sakeleiers uit bedrywe soos hernubare energie, inligtingstegnologie, motorvervaardiging, metaalvervaardiging, optiese nywerhede, chemie en geneeskundige tegnologie het in Mei 2013 'n amptelike besoek aan die Republiek van Suid-Afrika (RSA) afgelê nadat handelsbande tussen die deelstaat en die RSA in die afgelope jare verstewig is.
In 2012 het Brandenburg goedere ter waarde van €52 miljoen na Suid-Afrika uitgevoer, waaronder farmaseutiese produkte en produkte van plastiek. In vergelyking met die vorige jaar het uitvoere met 41 persent gestyg. Suid-Afrika se uitvoere na Brandenburg het in 2012 met 24 persent gestyg tot €14,1 miljoen. Veral alkoholiese dranke en masjienonderdele is uit die RSA na Brandenburg ingevoer.[40][41]
Kultuur
[wysig | wysig bron]Brandenburg se veelsydige kulturele erfenis sluit 35 000 historiese monumente (waaronder 10 000 geboue) en 500 kastele en herehuise in. Volgens artikel 34 van sy grondwet strewe die deelstaat Brandenburg daarna om kuns en kultuur bestendig te ontwikkel en vir almal toeganklik te maak. Die tekort aan fondse en mededinging met kulturele instellings te Berlyn bly 'n uitdaging. In die begroting van 1993 is nog DM 241 miljoen (€123,2 miloen) aan kuns en kultuur bestee. Dié bedrag is sedertdien voortdurend verminder.
Nogtans is daar tans sowat 350 museums, 140 openbare biblioteke, talle orkeste en kore, kulturele sentrums, stedelike teaters en kunsgalerye.
Kookkuns
[wysig | wysig bron]Die Brandenburgse kookkuns konsentreer veral op plaaslike landbouprodukte en bewaar ook die kulinêre erfenis van die oorspronklike Slawiese bevolking. Konvensionele en biologiese boerdery lewer produkte van eersterangse gehalte op, wat as inspirasie vir plaaslike sjefs dien.
Danksy die talle klein en groot mere neem visgeregte 'n belangrike plek op Brandenburg se spyskaarte in. Snoek, snoekbaars, paling en karper is die gewildste soorte vis.
Brandenburg staan tradisioneel as "Berlyn se groentetuin" bekend. In die omgewing van Beelitz word veral aspersie verbou wat in Berlyn en Brandenburg as die beste in die gebied beskou word. As Beelitzer Spargel het hierdie groente intussen 'n beskermde "aspersie van oorsprong" geword.
Ander bekende groentesoorte is Teltower Rübchen ("worteltjies uit Teltow"), komkommers, kool en radys uit die Spreewald. Die verbouing en oes van Teltower Rübchen is 'n arbeidsintensiewe boerdery wat in die DDR-tydperk met sy fokus op massaproduksie ten gunste van ander groentesoorte soos worteltjies opgeoffer is. Ná die Duitse hereniging het die Rübchen met hul pikante smaak steeds meer gewild geraak.
Ook aartappels speel 'n sentrale rol in die kookkuns van Brandenburg. Die gewas, wat oorspronklik uit Amerika ingevoer is, is danksy die invloed van die Pruisiese koning Frederik die Grote sedert die 18de eeu grootskaals aangeplant. Die toerismeraad van die streek Fläming bied selfs 'n "Kulinêre Aartappelroete" vir belangstellendes aan, en plaaslike gashuise en restourante spog met nuwe kulinêre aartappelgeregte vir fynproewers.
In die bosgebiede soos Schorfheide en die natuurpark Hoher Fläming word uitstekende wildsvleis- en sampioengeregte aangebied.
'n Spesialiteit van die streek Neder-Lausitz is Plinsen, 'n soort pannekoeke. Orals in Brandenburg word uitstekende tert- en koekspesialiteite en nageregte bedien. Veral die plaaslike Fürst-Pückler-roomys, wat oorspronklik deur 'n Berlynse banketbakker bedien is, het internasionale bekendheid verwerf.
'n Aantal brouerye is in Brandenburg gesetel, waaronder die kloosterbrouery Neuzelle met sy beroemde swartbier. Werder aan die Havel is die sentrum van die plaaslike vrugtebedryf. Hier word die mees noordelik geleë wyn van oorsprong, die Werderaner Wachtelberg, brandewyn en veral vrugtewyne geproduseer.
Sport
[wysig | wysig bron]SC Potsdam was teen 2023 Brandenburg se sportklub met die meeste lede. In sy nege takke is daar meer as aktiewe 5 000 lede.[42] Die SC Potsdam fokus op gewilde sportsoorte.
FC Energie Cottbus is van Brandenburg se bekendste sportklubs, wat oor jare heen aan die Eerste en Tweede Bundesliga deelgeneem het, maar ook in 1997 die DFB-Pokal-eindstryd kon haal. 'n Ander bekende klub is die 1. FFC Turbine Potsdam, wat herhaaldelik Duitse vrouesokkerkampioen en die DFB-Pokal vir vroue kon wen, maar ook een keer die UEFA Champions League vir vroue. In handbal was die Frankfurter Handball Club 'n bekende klub.
Brandenburg beskik oor een Olimpiese basis met die drie subplekke in Cottbus, Frankfurt (Oder) en Potsdam.[43] Veral in dissipline soos roei, kano en fietsry kon atlete uit hierdie plekke medaljes op Olimpiese Spele verower. Die deelstaat beskik ook oor sporteliteskole.
Van Brandenburg se suksesvolste sportlui is die boksers Henry Maske en Axel Schulz, die skyfwerpers Robert Harting en Christoph Harting asook die swemmer en Olimpiese kampioen Britta Steffen. Die kanorenjaer Birgit Fischer uit Brandenburg an der Havel is met agt goue en vier silwermedaljes die suksesvolste Duitse Olimpiese atleet ooit. Die judoka Yvonne Bönisch, die judoka und soemovegter Sandra Köppen-Zuckschwerdt, die gewigstoter Udo Beyer en die professionele Speedway-renjaer Christian Hefenbrock is ook bekend.
Op die Lausitzring word Motorsportgeleenthede soos die jaarlikse wedrenne tydens die DTM beslis. Op die voormalige militêre lughawe Groß Dölln asook op die Spreewaldring-opleidingsentrum is daar elk 'n bestuursveiligheidsentrum met 'n renbaan. Sandbaanrenne word in Lübbenau, Speedway in Wolfslake en in Wittstock gehou. Die Groot Prys van Berlyn is 'n perdewedren wat jaarliks op die Galopprennbahn Hoppegarten beslis word. Die wedren is in 1888 vir die eerste keer aangebied en is van die internasionaal vernaamste perderesiesgeleenthede.[44]
Teen 2019 was daar in Brandenburg altesaam 14 gholfbane. Die meeste van hulle is in die onmiddellike omgewing van die metropool Berlyn geleë.[45]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (de) Verfassung des Landes Brandenburg – Artikel 25 BbgVerf „Rechte der Sorben/Wenden, besoek op 11 Oktober 2016.
- ↑ (de) Elisabeth Berner: Vertreders ut de Länner Bundesraat för Nedderdüütsch, besoek op 11 Oktober 2016.
- ↑ (de) "Bevölkerungsentwicklung und Bevölkerungsstand im Land Brandenburg Dezember 2023" (PDF). Statistik Berlin-Brandenburg. Junie 2024. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "Bruttoinlandsprodukt von Brandenburg von 1991 bis 2023". Statista. Maart 2024. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "Vorläufiger Schuldenstand der Länder". destatis. 30 Junie 2024. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "Arbeitslosenquoten im November 2024 – Länder und Kreise". Statistik der Bundesagentur für Arbeit. November 2024. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) Initiative gegen Lichtverschmutzung – Fachgruppe Dark Sky: Sternenparks in Deutschland und Europa. Besoek op 8 November 2019
- ↑ (de) Christiane Büchner en Jochen Franzke: Das Land Brandenburg. Kleine politische Landeskunde. 5de hersiene uitgawe. Potsdam: Brandenburgische Landeszentrale für politische Bildung 2009, bl. 34
- ↑ (de) Chronik der Stadt Brandenburg. hrsg. vom Arbeitskreis Stadtgeschichte im Brandenburgischen Kulturbund e. V., B. Neddermeyer, Berlyn 2003, ISBN 3-933254-40-X.
- ↑ (de) 1050 Jahre Brandenburg, hrsg. von Domstift und Historischer Verein Brandenburg (Havel), bl. 21.
- ↑ (de) Otto Tschirch: Geschichte der Chur- und Hauptstadt Brandenburg an der Havel. 2 Bände. Buch- und Kunstdruckerei J. Wiesike, Brandenburg (Havel) 1928.
- ↑ (la) Bohuslaus Balbinus: epitomae historica rerum Bohemicarum. Lib. I, Praag 1677, bl. 23.
- ↑ (de) Otto Tschirch: Im Schutze des Rolands – Kulturgeschichtliche Streifzüge durch Alt-Brandenburg. 2. Auflage. J. Wiesike, Brandenburg an der Havel 1938.
- ↑ (de) rbb24.de, 30 Augustus 2018: Berlin und Brandenburg sind die heißesten Bundesländer. Besoek op 14 Oktober 2018 Geargiveer 27 Julie 2019 op Wayback Machine
- ↑ (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Die Unterwerfung der Heveller durch König Heinrich I. (928/929–936), bl. 17–24.
- ↑ 16,0 16,1 (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Die feste Eingliederung der Slawen unter Kaiser Otto I. (936–973), bl. 25–34.
- ↑ (de) Gertraut Eva Schrage: Brandenburgische Geschichte. Akademie Verlag, Berlin 1995, ISBN 3-05-002508-5, Ur- und Frühgeschichte. Germanen – Slawen – Deutsche, bl. 72–184, Mark des Gero: bl. 80.
- ↑ (de) Karlheinz Blaschke: Lexikon des Mittelalters. Band VI. Lukasbilder bis Plantagenêt. In: Norbert Angermann bis Klaus Zernack (Hrsg.): Lexikon des Mittelalters. (LexMA). 9 Bände. Deutscher Taschenbuchverlag, München 2002, ISBN 3-423-59057-2, Meißen. II. Bistum, bl. 478–479.
- ↑ (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Der Wendenaufstand des Jahres 983 und die Versuche zur Rückeroberung der Brandenburg, bl. 35–44.
- ↑ (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Der Brandenburger Raum von der Einstellung der sächsischen Rückeroberungsversuche bis zu ihrer Wiederaufnahme (um 1000 bis Anfang des 12. Jahrhunderts), bl. 45–51.
- ↑ 21,0 21,1 21,2 (de) Helmut Assing: Brandenburgische Geschichte. Akademie Verlag, Berlin 1995, ISBN 3-05-002508-5, Die Landesherrschaft der Askanier, Wittelsbacher und Luxemburger (Mitte des 12. bis Anfang des 15. Jahrhunderts), bl. 85–168.
- ↑ (de) Heinz Teichmann: Von Lebus nach Fürstenwalde. Kurze Geschichte des mittelalterlichen Bistums Lebus (1124–1555/98). St. Benno Buch- und Zeitschriftenverlag, Leipzig 1991, ISBN 3-7462-0532-8, I. Bistum und Land Lebus zur Zeit der polnischen Herrschaft (bis etwa 1250). 1. Wie es zur Bistumsgründung kam, bl. 15–18.
- ↑ (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Die frühen Askanier und die ersten Schritte zur Rückgewinnung des Hevellergebiets und Wiedererrichtung des Bistums Brandenburg. Ursprung und Name des Hauses Askanien-Anhalt, bl. 53–56.
- ↑ (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Die Übernahme des Hevellerfürstentums durch Albrecht den Bären und die „Gründung“ der Mark Brandenburg, bl. 65–76, hier bl. 66–68, 72–76.
- ↑ (de) Lutz Partenheimer: Die Entstehung der Mark Brandenburg. Böhlau Verlag, Köln 2007, ISBN 978-3-412-17106-3, Ausblick auf die weitere Entwicklung der Mark Brandenburg und der Askanier. Der Ausbau der jungen Mark Brandenburg, bl. 78–81.
- ↑ 26,0 26,1 (de) Johannes Schultze: Die Mark Brandenburg. Zweiter Band. 4. Auflage, Duncker & Humblot, Berlin 2011, ISBN 978-3-428-13480-9, II. Die Mark unter dem Hause Luxemburg. 1. Kaiser Karl IV. (1373–1378), bl. 161–175, hier bl. 161–162.
- ↑ (de) Christian Gahlbeck, Gertraud Eva Schrage: Chorin. Zisterzienser. In: Heinz-Dieter Heimann, Klaus Neitmann, Winfried Schich und Weitere (Hrsg.): Brandenburgisches Klosterbuch. Handbuch der Klöster, Stifte und Kommenden bis zur Mitte des 16. Jahrhunderts. Band I und II (= Klaus Neitmann im Auftrag Brandenburgische Historische Kommission und in Verbindung Brandenburgisches Landeshauptarchiv [Hrsg.]: Brandenburgische Historische Studien. Band 14). Be.Bra Wissenschaft Verlag, Berlin 2007, ISBN 978-3-937233-26-0, 2. Geschichtlicher Abriß. 2.1 Kloster- bzw. Stiftsgeschichte, S. 329–333, hier bl. 330.
- ↑ (de) Johannes Schultze: Die Mark Brandenburg. Erster Band. 4. Auflage, Duncker & Humblot, Berlin 2011, ISBN 978-3-428-13480-9, 18. Otto IV. und Hermann (1300–1308), bl. 198–205, Mark Lausitz: bl. 199–200.
- ↑ (de) Marek Wejwoda: Spielball mächtiger Nachbarn. „Die Lausitzen“ im 14. Jahrhundert. In: Heinz-Dieter Heimann, Klaus Neitmann, Uwe Tresp (Hrsg.): Die Nieder- und Oberlausitz – Konturen einer Integrationslandschaft. Band I: Mittelalter (= Die Nieder- und Oberlausitz – Konturen einer Integrationslandschaft). 3 Bände, Lukas Verlag für Kunst- und Geistesgeschichte, Berlin 2013, ISBN 978-3-86732-160-0, bl. 191–203, hier bl. 192–194.
- ↑ (de) in-berlin-Brandenburg.com: Brandenburg von der industriellen Revolution bis zur Gegenwart. Besoek op 14 Oktober 2018
- ↑ (de) "Verfassung für die Mark Brandenburg vom 6. Februar 1947". Verfassungen.de. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 4 Maart 2016.
- ↑ (de) "Volksfeste und Feuerwerke zur EU-Erweiterung". Frankfurter Allgemeine Zeitung. 1 Mei 2024. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) (pl) "Oder-Partnerschaft". Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "Brandenburg International". Land Brandenburg. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) Amt für Statistik 2011 Geargiveer 18 Julie 2011 op Wayback Machine
- ↑ (de) Frauke Burian en Gisela Heller: Brandenburg. 12 Routen rund um Berlin. München: Polyglott 1992, bl. 5
- ↑ (de) Evangelische Kirche Berlin-Brandenburg-Schlesische Oberlausitz: 1000 Jahre Kirche für die Menschen der Region. Besoek op 1 Mei 2015
- ↑ (de) Verein für Berlin-Brandenburgische Kirchengeschichte: Chronik – Reformation in Brandenburg. Besoek op 16 Mei 2017 Geargiveer 18 Maart 2017 op Wayback Machine
- ↑ (de) Land Brandenburg – Ministerium für Wirtschaft, Arbeit und Energie (MWAE): Außenwirtschaft. Besoek op 6 Augustus 2020
- ↑ (de) Märkische Allgemeine, 17 Junie 2013: Südafrika – Geschäftsreise. Besoek op 29 Mei 2018 Geargiveer 30 April 2020 op Wayback Machine
- ↑ (de) Südafrika – Land der Kontraste. The German Gateway to South Africa: Land Brandenburg als Partner Südafrikas. Interview mit Ralf Christoffers, Wirtschaftsminister des Landes Brandenburg. Besoek op 29 Mei 2018 Geargiveer 2 Julie 2014 op Wayback Machine
- ↑ (de) "Über uns". Sport Club Potsdam e. V. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "Olympiastützpunkt Brandenburg". osp-brandenburg.de. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "200 Jahre Deutscher Galopp". deutscher-galopp.de. Besoek op 17 Desember 2024.
- ↑ (de) "Golfplätze in Berlin / Brandenburg – Übersicht". golfknigge.de. Besoek op 17 Desember 2024.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Brandenburg. |
- (en) Toerisme-inligting oor Brandenburg op Wikivoyage
- Amptelike webwerwe
- Ensiklopediese inligting
- (en) "Brandenburg". Encyclopædia Britannica. Besoek op 17 Desember 2024.
Nedersakse • Mecklenburg-Voorpommere | Mecklenburg-Voorpommere | Mecklenburg-Voorpommere • Pole | ||
Sakse-Anhalt | Pole | |||
Brandenburg | ||||
Sakse-Anhalt • Sakse | Sakse | Pole • Sakse |
Deelstate van Duitsland | |
---|---|
Baden-Württemberg | Beiere | Berlyn | Brandenburg | Bremen | Hamburg | Hesse | Mecklenburg-Voorpommere | Nedersakse | Noordryn-Wesfale | Rynland-Palts | Saarland | Sakse | Sakse-Anhalt | Sleeswyk-Holstein | Thüringen |