Gaan na inhoud

Fynbos

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Fynbos in die Kogelberg-natuurreservaat.
Fynbos naby Kaapstad.

Fynbos is 'n oorkoepelende naam vir die groot verskeidenheid plante in die Wes-Kaap, Suid-Afrika. In die weste van hierdie gebied heers 'n winterreënvalklimaat soortgelyk aan dié van die Middellandse See, en neerslae in die ooste word sonder 'n duidelike maksimum deur die jaar versprei. Gedurende warmer en droër periodes kom veldbrande gereeld voor, wat 'n belangrike element in die voortplanting van fynbos is: baie van die sade ontkiem slegs ná die intense hitte van 'n veldbrand. Die naam is afkomstig van die dun stamme van die struike, wat ongeskik geag is om bouwerk mee te kon doen. In die meeste ander tale is die naam "fynbos" as leenwoord oorgeneem.

Verskeidenheid

[wysig | wysig bron]

Fynbos groei in 'n 100-200 km breë kusstrook wat strek van Clanwilliam aan die weskus tot Port Elizabeth aan die suidooskus. Dit maak deel uit van die Kaapse floraryk, die kleinste dog rykste floraryk van die wêreld se ses plantkoninkryke – vergelykbaar met byvoorbeeld Holarctis, wat die Noordelike Halfrond se nietropiese streke beslaan – en word ooreenkomstig die naam Capensis gegee. Fynbos bedek omtrent die helfte van die fisiese oppervlak van die Kaapse floraryk en maak omtrent 80% van die plantsoorte uit wat daar voorkom. In getalle beteken dit meer as 7 000 varing- en blomplantsoorte (meer as die helfte hiervan endemies) op 'n oppervlakte van 46 000 km² (ter vergelyking: in Nederland, met 'n landoppervlakte van 33 000 km², kom sowat 1 400 plantsoorte voor, geen daarvan endemies nie). Tafelberg, in Kaapstad, huisves self 1 470 spesies — meer as die hele Verenigde Koninkryk. Die fynbos in die westelike deel van die streek is ook beduidend meer veelsoortig as in die oostelike deel.

Die fynbosflora is ryk aan struikagtige hardblarige gewasse. Proteas (Proteaceae) word veral deur baie soorte verteenwoordig en staan kenmerkend uit teen die landskap met hul handpalmgrootte-blomme wat deur voëls bestuif word. Heide of erikas (Ericaceae) word ewe goed verteenwoordig met meer as honderd soorte. Die grasverwante (Restionaceae) – slegs 'n klein hoeveelheid soorte kom buite die fynbosgebied voor – groei op natter plekke. Ongeveer 1 400 geofiete – waarvan 96 gladioolsoorte en 54 van die genus Lachenalia is – vorm ook deel van die fynbosflora.

Gebruik

[wysig | wysig bron]
Die rooibosplant.

Van ekonomiese belang is byvoorbeeld rooibos (Aspalathus linearis) en heuningbos (Cyclopia), wat op groot skaal verbou en geoes word in die gebied rondom die Sederberg. Beide rooibos- en heuningbostee (of bergtee) is belangrike uitvoerprodukte van hierdie streek.

In baie streke met klimate soortgelyk aan dié van die Middellandse See word fynbosflora as sierplante gebruik (byvoorbeeld heelwat aalwyne en geraniums), of in koeler streke as kas- of vensterbankplante. Veral in bloeityd is fynbos 'n gewilde aantrekking vir buitelandse toeriste, en dwarsdeur die jaar vorm die streek 'n belangrike ontspanningsgebied vir die groter gebied rondom Kaapstad.

Bewaring

[wysig | wysig bron]

Groot dele van die fynbosplantegroei is reeds verwoes as gevolg van die stedelike uitbreiding rondom Kaapstad, die uitbreiding van landbou-aktiwiteite en die verspreiding van uitheemse plantsoorte. Talle plante van die fynboskoninkryk het reeds uitgesterf, en meer as 1 000 spesies word bedreig. Die bewaring hiervan is 'n prioriteit en reservate is op die been gebring om dele van die plantegroei te bewaar, soos die Tsitsikamma Nasionale Park. Die voortdurende inbreuk wat op die fynbosgebied gemaak word, beklemtoon egter die feit dat nog baie gedoen moet word om die fynbosbioom te bewaar. Die bioom moenie net bewaar word omdat dit uniek is nie, maar ook omdat dit baie werk verskaf. Ekotoerisme moet aangemoedig word om die belang van fynbos te beklemtoon. Bewaringskorridors in stadsgebiede moet doelbewus bestuur word om seker te maak die verskeidenheid spesies fynbos bly vir die nageslag behoue. Die fynbosbioom verskaf ook werk aan brandweermanne omdat hulle die brande moet beheer en voorkom in gebiede waar fynbos voorkom.

Kaapse fynbos

[wysig | wysig bron]
Die blom van die Gladiolus alatus.

Kaapse fynbos is een van die wonders van die wêreld. Al is dit verreweg die kleinste van die wêreld se ses plantkoninkryke, is dit die tweede belangrikste vanweë sy groot verskeidenheid, met 9 000 verskillende spesies wat oor 90 000 km2 voorkom. Altesaam 6 190 van hierdie spesies is eksklusief tot die Kaapse flora. Om die syfers in perspektief te plaas: die Britse Eilande is drie en 'n half maal groter as die fynbosgebied, maar het slegs 1 500 spesies, waarvan slegs 20 endemies is.

Dit was die vroeë Hollandse setlaars wat die harde plante van die kaap as fijnbosch beskryf het vanweë die dun blare van die struike. Vandag verwys die term "fynbos" na al die verskillende soorte plante soos proteas, erikas, rietgrasse en geofiete (waaronder gladioli, lelies en orgideë) wat op die voedingsarme terreine met sterk winde en droë somers oorleef en die suidelike punt van Afrika kenmerk.

Al kom dit lowerryk en groen voor, brand fynbos redelik maklik. Vure word dus beperk tot plekke wat as “veilig” aangedui is. Enkele van die grootste bedreigings vir fynbos is ontydige veldbrande, uitheemse plantegroei, onoordeelkundige oes en ontwikkeling.

Soorte plantegroei

[wysig | wysig bron]

Die twee hoofhabitats van fynbos is berge en die kusgebied, en binne hierdie gebiede kom kategorieë voor soos heide, protea-agtige, rietagtige en asteragtige fynbos.

Heidefynbos

[wysig | wysig bron]

Hierdie tipe veld is ook bekend as erika-agtige fynbos vanweë die oorheersing deur die familie Ericaceae. Heidefynbos kom voor op vlak, sanderige, suur grond wat besonder onvrugbaar is en word aangetref in vogtiger gebiede van natuurlike sypelgebiede en vleie aan steil, suidelike berghellings. Erikas gebruik swamme in 'n simbiotiese (wedersyds voordelige) verhouding om vogtigheid te absorbeer, en in ruil daarvoor voorsien hulle die swamme van suiker. Ander interessante plante in hierdie habitat is die bergblouklokkie, wat nou bedreig is; die vlamrooi Bredasdorplelie, wat slegs op die Bredasdorpberge aangetref word, veral na vure; die groot rooidisa, wat in klam klowe in die Harold Porter-natuurreservaat groei; die oumakappie (Pterygodium catholicum), 'n orgidee wat gewoonlik 'n ryk olie afskei om sy bestuiwer ('n by) te lok; en die Kaapse of matrassewejaartjie, waarvan die groot, wit blomme eens gebruik is om matrasse te stop.

Protea-agtige fynbos

[wysig | wysig bron]
Die koningsprotea.

Proteas, wat 'n groot deel van die fynbosveld uitmaak, is gewoonlik groter as die omringende plante en het ’n diep wortelstelsel wat hulle help om aan die droër berghellings te oorleef. Baie spesies in die proteafamilie het 'n beperkte verspreiding: langblaarsuikerbos, ovaalblaar speldekussing en “knikkende” speldekussing kom net op vlak strande of sandsteen voor. Die protea is vernoem na die Griekse god Proteus, wat sy voorkoms na wense kon verander. Lede van die proteafamilie neem ook 'n wye verskeidenheid vorme aan, van die tipiese leeragtige blaarprotea tot die keëldraende plante, speldekussings en delikate, veeragtige serrurias. Die spesie met die grootste blomknop is die konings- of reuseprotea, Suid-Afrika se nasionale blom, waarvan die blomknop in Mei, ’n deursnee van 30 cm bereik.

Elke proteablom is in werklikheid 'n blomknop wat as 'n hegpunt vir baie klein blomme dien, en werk soos 'n landingsplatform wat voëls na hul nektar aantrek. Net twee klein populasies van die vleiroos Orothamnus zeyheri, die skaarsste protea, oorleef in hoë, ontoeganklike gebiede in die Kogelberg en Kleinrivierberge. Die stinkblaarsuikerbos Protea susannae, 'n tweede plaaslike soort proteaveld wat op diep, meer vrugbare sandveld voorkom, word veral bedreig as gevolg van indringing deur uitheemse rooikrans en portjackson-wilgers. Die derde soort protea-agtige fynbos kom eksklusief voor op kalksteenuitlopers van die Bredasdorpformasie, van Gansbaai tot die Gouritsriviermond, waar die grond sanderig, vlak en ryk aan organiese materiaal en stikstof, maar onvrugbaar en dikwels tot klein slaggate in die kalksteen sypaadjies beperk is. Hierdie kalksteenfynbos tel so'n 110 spesies waarvan 42% plaaslike endemiese spesies is. Kalksteenfynbosspesies wat kommersieel geoes word, sluit in die astolbos Leucadendron meridianum, die kruiphout Leucadendron muirii, die basterkreupelhout Leucospermum patersonii, die Bredasdorpstompie Mimetes saxatilis en die bredasdorpsuikerbos Protea obtusifolia.[1]

Rietveld

[wysig | wysig bron]

Soos die naam aandui, word rietagtige fynbos (rietveld) oorheers deur hoë lede van die rietfamilie en word dit geassosieer met seisoenale vleilande wat in die winter dikwels oorstroom word, maar in die somer droog is. Dit word gewoonlik aangetref in laagliggende gebiede, van alkaliese sand oor kalksteen tot suursand oor kleiagtige modder. ’n Groot deel van die natuurlike rietveld is reeds vernietig deur veranderings in die dreineringspatrone en ploegwerk. ’n Deel is ook in ’n groot mate geoes omdat dit ’n uitstekende dekriet is. Die blaarlose, rietagtige struike vervang grasse, met vroulik en manlik blomme aan verskillende plante.

Asteragtige fynbos

[wysig | wysig bron]

Alhoewel hulle nie altyd soos die tipiese gesiggies (asters) van Namakwaland lyk nie, is sommige lede van die gesiggiefamilie 'n eienskap van hierdie soort fynbos, met die volgende karaktertrekke:

  • Elimfynbos. Hierdie plantegroei is om die dorp Elim gesentreer en bevat baie klein, seldsame, inheemse protea-agtige struike wat deur 'n lae omslag van restioïdes gekenmerk word, terwyl lae, erika-agtige struike oorheersend is. Elimfynbos kom voor op droë, gruisagtige en relatief vrugbare grond.
  • Duinefynbos. Dit word aan sterk winde onderwerp en kom op kussand voor waar die grond meestal diep is en baie alkaliese stowwe bevat, met uitlopers van kalksteen. Duinefynbos bevat nie proteas nie, alhoewel riete en biesies voorkom.

Natuurlike fauna

[wysig | wysig bron]

Herbivore

[wysig | wysig bron]

Min groot herbivore kom in die fynbosbioom voor omdat die fynbos bestaan uit klein blare en baie takke met min voedingswaarde. Kleiner herbivore soos die grysbok kom in die fynbosbioom voor aangesien hulle aangepas het om die klein blare te kan vreet.

'n Hoë aanwas van herbivore kan lei tot die beskadiging van die fynbosbioom aangesien van die plante stadig groei weens grond- en klimaatstoestande. Die aanwas van herbivore word beperk deurdat plante hul oormaat koolstof verwerk om giftig te wees, asook deur meganiese beskerming soos dorings. Die vesel, waks en kurkstof van die fynbos maak dit moeilik vir herbivore om die fynbos te verteer.

Voëls en insekte

[wysig | wysig bron]

Sommige fynbosplante help diere deur koolstofryke nektar te vervaardig. Die hoë suikerinhoud lok verskillende diere en insekte, wat op hulle beurt weer bydra tot die bestuiwing van die plante.

Insekte soos miere dra die sade van die fynbosplante na hul neste, waar dit veilig is teen brande en die geleentheid kry om te ontkiem. Die miere eet die omhulsel en los die sade sodat dit ontkiem.

Knaagdiere

[wysig | wysig bron]

Knaagdiere kom algemeen in fynbosgebiede voor. Sommige proteas is afhanklik van knaagdiere vir bestuiwing. Die diere word gelok deur die reuk van die plante en hul suikerryke nektar. Terwyl die knaagdier van die nektar drink, sal stuifmeel aan hul neuse klou en daarna na 'n ander plant oorgedra word.

Molrotte eet die knolle van die fynbos, maar is versigtig omdat sommige knolle gifstowwe bevat wat die plant beskerm. Reptiele en amfibieë kom ook in fynbosgebiede voor; hulle maak jag op molrotte en molle.

Ander reptiele wat in die gebied voorkom is die geometriese skilpad, wat beskou word as die wêreld se tweede skaarsste skilpad, asook die bloukopkoggelmander. Die fynbosbioom bevat 'n unieke groep paddas wat slegs daar voorkom. Dit huisves meer as die helfte van Suid-Afrika se paddaspesies. Altesaam 29 van die paddasoorte word net in fynbosgebiede gevind, soos die mikropadda, die Kaapse platanna en die Tafelbergse spookpadda. Laasgenoemde kom slegs in die snelvloeiende riviertjies op Tafelberg voor.

Karnivore

[wysig | wysig bron]

Alleenlopende katsoorte soos die luiperd en rooikat kom in die fynbosbioom voor; hulle jag klein herbivore. Die karnivore is ook aangepas om hoog te kan spring sodat hulle voëls uit die lug kan vang.

Natuurlike hulpbronne

[wysig | wysig bron]

Plantsoorte soos rooi- en heuningbos word op groot skaal verbou en geoes en is van ekonomiese belang. Beide rooi- en heuningbostee (bergtee) is belangrike uitvoerprodukte vir die streek waar dié plantsoorte groei. Blomoeste van die fynbos is verantwoordelik vir ’n nywerheid met ’n omset van meer as R50 miljoen per jaar en verskaf werk aan meer as 15 000 mense.

Rooibos

[wysig | wysig bron]

Rooibos se blare word geoes, gekneus en in die son laat lê om te oksideer, waarna hulle hul kenmerkende rooi kleur verkry. Hierdie produk word dan gekook of in water laat lê soos tee om 'n drankie te maak wat beide warm en koud geniet word. Die produk word ook gereeld as "rooi tee" bemark.

Rooibos is veral belangrik in gesondheids- en skoonheidsprodukte. Rooibos is kafeïenvry en bevat 'n geurstof wat gevind word in medisinale kruie om vel- en sirkulasieprobleme mee te behandel. Rooibos het 'n besonder hoë vitamien C-inhoud en bevat min tannien. Japannese navorsing dui daarop dat rooibos stowwe bevat wat die immuunstelsel help om virusinfeksies af te weer. Ander voorgestelde voordele sluit in anti-inflammatoriese en anti-allergiese eienskappe, soos die verligting van:

  • Hooikoors, asma en allergieë
  • Slapeloosheid en spanning
  • Hardlywigheid, maagkrampe en koliek in klein kinders
  • Velprobleme soos aknee, ekseem en doekuitslag

Heide

[wysig | wysig bron]

Sewejaartjies is kommersieel belangrik vir die gedroogdeblomnywerheid. Kaapse of matrassewejaartjies se groot, wit blomme is eens gebruik om matrasse te stop.

Rietveld

[wysig | wysig bron]

Rietveld word geoes om ’n goeie dekriet vir dakke te maak. Die dekrietnywerheid se omset is R17 miljoen per jaar.

Proteas

[wysig | wysig bron]

Proteas dra by tot werkskepping. Dit word geoes vir blommerangskikkings en baie toeriste kom elke jaar na hierdie unieke en pragtige blom kyk. Werk vir een mens word geskep deur elke tien toeriste wat die fynbosbioom besoek.

Bedreigings

[wysig | wysig bron]
Proteas na 'n veldbrand.

Baie plante van die fynboskoninkryk het reeds uitgesterf en 1 000 spesies word bedreig. Die meeste plante word verwoes as gevolg van stedelike uitbreiding rondom Kaapstad, die uitbreiding van landbou-aktiwiteite en die verspreiding van uitheemse plantesoorte.

Menslike teenwoordigheid veroorsaak meer brande as wat goed is vir die bioom se voortbestaan.

Indringerinsekte soos die witpoot- en Argentynse mier bedreig die fynbos omdat hulle nie net die omhulsel van sade eet soos inheemse miere nie, maar die sade in geheel verorber en die voortplanting van die fynbos beperk.

Die swak bestuur en besoedeling van waterbronne en riviere kan ook die fynbosbioom beskadig.

Ekostreke

[wysig | wysig bron]

In die WWF se indeling word die fynbos (saam met die renosterveld) verdeel in 'n kusfynbos en -renosterveld (AT1202) en 'n bergfynbos en -renosterveld (AT1203) ekostreek. Die verskil is veral op hoogte gebaseer. Bo 300 meter groei 'n ander vegetasie. Die bergfynbos is baie beter beskerm en behou as die kusfynbos, wat dikwels deur landbou en stedelike ontwikkeling verdwyn het.

Trivia

[wysig | wysig bron]
  • Die koningsprotea is die nasionale blom van Suid-Afrika.
  • Fynbos is 'n oeroue plantsoort wat gespaar is in die grootskaalse uitwissing wat in die Noordelike Halfrond voorgekom het tydens die ystyd wat ongeveer 100 000 jaar gelede plaasgevind het. Sommige van die plantspesies is meer as 60 miljoen jaar oud.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Jonkershoek Heydenrych, B., Burgers, C. and Cape Nature Conservation. "Limestone fynbos". Veld & Flora. 80 (3).{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]