Gaan na inhoud

Harp

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Moderne pedaalharp.

Die harp is ’n snaarinstrument waarvan die snare vibreer en klank voortbring wanneer die speler die snare tokkel of die vingers of hande daaroor laat gaan. Moderne harpe het die vorm van die syfer 7. Die harp bestaan uit ’n langwerpige klankkas en ’n reguit of geboë nek. Tussen die klankkas en nek is ’n groot aantal snare gespan, wat in lengte en dikte van mekaar verskil. Elke snaar produseer ’n enkele toon. Hoe langer (en dikker) die snaar, hoe laer die toon. Die punt van die nek en die punt van die klankkas, die kop en die voet van die harp, word langs die laagste snaar gesteun deur ’n pilaar, wat reguit of elegant geboë kan wees. Deur die nek steek stemskroewe of -penne, waaraan links die snare geheg word. Aan die regterkant kan die skroewe verstel word om die snare te stem.[1] [2] [3]

In die politiek en by verskillende tradisies word harpe as simbole gebruik, byvoorbeeld in Ierland.[4]

Ook in of as logo’s is harpe dikwels te sien.[5]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Harpe van Chogha Mish, Iran, word beskou as die wêreld se oudste oorblywende snaarinstrumente, 3300-3100 VHJ.[6]
Liere van Ur. Die lier is verwant aan die harp.
’n Mosaïek uit die tyd van die Sassanidiese Ryk wat by Bishapur, ’n historiese stad in die suide van Iran, opgegrawe is.
Marmerbeeld uit die Sikladiese beskawing in Griekeland, 2800-2700 VHJ.

Harpe bestaan al duisende jare. In die prehistoriese tyd het jagter-versamelaars op hulle jagboë musiek gemaak, al het ’n jagboog net een snaar. Deur verskillende boë die een na die ander te plaas, is daar in die ou tyd mettertyd geleer hoe om verskillende tone voort te bring. So het later die boogharp, ’n booginstrument met ’n wisselende aantal snare, ontwikkel.

Die eerste “regte” harpe is van omstreeks 3500 VHJ bekend, onder meer uit afbeeldings wat van die tyd van Mesopotamië (vandag Irak), Persië (nou Iran) en Antieke Egipte dateer. Ook in Ou Indië en China is harpe bespeel. Teen die Middeleeue het van hierdie instrumente na Europa versprei. Harpe is ook in die Amerikas gevind, waar dit in sommige dele ’n gewilde instrument by die maak van volksmusiek was.

As snare is histories die senings van diere gebruik.[7][8] Ander materiale wat vir snare gebruik is, sluit in derms van katte en ander diere,[9] plantvesel,[9] gevlegte hennep,[10] katoendraad,[11] sy,[12] nylon[13] en draad.[14]

In Europa was die harp veral in die Middeleeue en Renaissance gewild, en met behulp van nuwe tegnologieë is in dié tyd verskeie nuwe weergawes daarvan ontwikkel. Van Europa het die harp na die destydse Europese kolonies versprei en veral ook in Latyns-Amerika gewild geword.

Hoewel sommige antieke harpe van die Nabye Ooste en Suid-Asië vergete geraak het, word snaarinstrumente wat aan dié vroeë harpe herinner, vandag nog in Mianmar (Birma) en dele van Afrika bespeel. Ou harpe wat in Europa en Asië byna nooit meer gesien of gehoor word nie, word deur moderne volksmusikante herontdek.

Ontwikkeling in Europa

[wysig | wysig bron]
The harpis op die Dupplinkruis, Skotland, ca. 800 HJ.
Bladmusiek vir ’n 17de-eeuse Barokharp.[15]

Terwyl hoek- en boogharpe elders gewild was, het Europese harpspelers harpe met ’n “pilaar” verkies, dit wil sê ’n derde strukturele deel om die verste punte van die boog en die klankkas te ondersteun.

Die Europese harp van die Middeleeue was in wese diatonies, nes byvoorbeeld ’n doedelsak, wat beteken dat dit in een bepaalde toonleer gestem was. Met die opkoms van die ars nova, ’n vorm van meerstemmige musiek in die 14de eeu, en in die verdere ontwikkeling van Westerse musiek, het toonverhogings en -verlagings nodig geword. Oorspronklik moes die harpseler (of harpis) dan, terwyl daar gespeel word, met die vingers op ’n snaar druk om die nodige verhoging of verlaging te bewerkstellig, wat baie moeilik was.

As oplossing is daar eers vir die vashou van snare ’n soort hakie uitgevind.

Uiteindelik is daar ook dubbelharpe gebou – harpe met twee stelle snare wat hoekig met mekaar op die klankkas geplaas is. Maar om so ’n instrument te bespeel, was allermins eenvoudig.

Eers gedurende die 19de eeu is ’n finale oplossing gevind, toe die Frans-Duitse musiekinstrumentbouer Sébastien Erard die dubbelpedaalharp vervolmaak het. (’n Eerste, primitiewe vorm van pedale was reeds in die Tiroolse streek van Oostenryk in gebruik. Dié ontwerp het Jacob Hochbrucker in 1720 verbeter.) Vir sy pedaalmeganisme het Erard in 1810 die patent aangevra.

Dubbel- en enkelpedaalharp

[wysig | wysig bron]

Die pedaalharp het, benewens 46 of 47 snare, sewe pedale, wat elk drie posisies het: los, halfingetrap en heeltemal ingetrap. Die harp word gestem in Ces, wat eintlik ’n ongewone toonsoort is, met die tone Ces, Des, Es, Fes, Ges, As, Bes. Deur ’n pedaal, byvoorbeeld die F-pedaal, halfpad in te trap, word al die Fes-snare ’n halwe toon verkort, sodat die harp in Ges speel: Ges, As, Bes, Ces, Des, Es, F. As al die pedale ingetrap is, speel die harp in C: C, D, E, F, G, A, B. Deur die pedale heeltemal in te trap, word die snare weer ’n halftoon verkort.

Die konsertharp is ’n groot pedaalharp met sewe oktawe, en dit produseer meer klank as kleiner harpe. Die volgorde van die pedale van links na regs is D, C, B || E, F, G, A.

Hierdie werking word soms beter verstaan as daar begin word met al die pedale halfingetrap. Die harp speel dan in C: C, D, E, F, G, A, B. As daar twee molle by die sleutel is, word die pedale B en E gelos. Die harp speel nou in Bes: Bes, C, D, Es, F, G, A. As daar drie kruise by die sleutel is, word die pedale F, C en G so ver moontlik ingetrap. Die harp speel nou in A: A, B, Cis, D, E, Fis, Gis, A.

So kan die harp in elke toonsoort bespeel word, van sewe kruise tot sewe molle. Die pedale kan, indien nodig, ook terwyl daar gespeel word, gebruik word om die snare van toon te laat verander.

Danksy die pedale kon die harp as instrument in die groeiende orkes van die 19de eeu bly speel.

Benewens die dubbelpedaalharp, bestaan daar ook die enkelpedaalharp. Dit het, net soos die dubbelpedaalharp, sewe pedale, maar elk van dié pedale het net twee in plaas van drie posisies. ’n Enkelpedaalharp is normaalweg in Es gestem: Es, F, G, As, Bes, C, D, Es.

Die enkelpedaalharp word minder gereeld bespeel, maar dit is goedkoper as die dubbelpedaalharp. In sommige lande word die enkelpedaalharp ’n volksharp genoem. Die Tiroolse volksharp het ’n kenmerkende geboë klankkas en pedale van hout.

Omdat ’n harp ’n redelik groot aantal snare het, word die snare vandag dikwels gekleur sodat spelers makliker kan sien waar elke toon is. Drie kleure word gebruik:

  • Rooi: Al die rooi snare is C-snare.
  • Blou/Pers/Swart: Alle die blou, pers of swart snare is F-snare.
  • Wit: Die ander snare is almal wit.

Keltiese harp

[wysig | wysig bron]

Naas die pedaalharp (konsertharp) is daar ook die Keltiese harp (in Nederlands: hakiesharp). Die Keltiese harp het omtrent 34 snare (net minder as vyf oktawe) en is effens kleiner as die pedaalharp. Dit is meestal in Es gestem: Es, F, G, As, Bes, C, D. En het, in plaas van pedale, bokant die snare, hakies waarmee die speler die snaar ’n bietjie korter kan maak. Sodoende word die toon met ’n halwe afstand verhoog (byvoorbeeld van As na A). Die hakies is van hefboompies of kleppies voorsien. Daarom word dié harp (in Nederlands) ook soms ’n kleppiesharp genoem.

Aangesien elke snaar net een hakie het (terwyl ’n pedaal ’n snaar twee keer kan verkort), kan die Keltiese harp in toonsoorte van Es (drie molle) tot E (vier kruise) speel. Elke snaar het sy eie hakie sodat daar by die wisseling van ’n enkele verhogings- of verlagingsteken – kruis of mol – verskeie hakies omgeskakel moet word. Dit is baie moeilik om te doen terwyl ’n mens speel. Daarom hoor ’n mens die Keltiese harp hoofsaaklik in volksmusiek (soos Ierse musiek), wat steeds op diatoniese beginsels gebaseer is.

Die Keltiese harp is ook gewild as ’n aanleerdersinstrument vir beginners.

By ’n pedaalharp word met ’n enkele intrapslag van ’n pedaal al die gelyknamige snare verkort of verleng.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (nl) "Harp (tokkelinstrument)". Nederlandse Wikipedia. Besoek op 22 Oktober 2024.
  2. (en) "Harp (tokkelinstrument)". Engelse Wikipedia. Besoek op 22 Oktober 2024.
  3. (af) "harp". Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Besoek op 22 Oktober 2024.
  4. (nl) "Hoe de harp het symbool van Ierland werd". EPIC: Irish Emigration Museum. Besoek op 23 Oktober 2024.
  5. "Guinness". Guinness. Besoek op 23 Oktober 2024.
  6. "Harp". Encyclopaedia Iranica. 
  7. Lawergren, Bo (12 Desember 2003). "Harp". Encyclopædia Iranica.  
  8. Xie Jin. "Reflection upon Chinese Recently Unearthed Konghous in Xin Jiang Autonomous Region". Musicology Department, Shanghai Conservatory of Music, China. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. The konghous in Xinjiang ...skin cover...one string has been found. It is made of ox tendon...
  9. 9,0 9,1 "Ngombi (arched Harp) Fang/Kele people 19th century". Metropolitan Museum of Art.
  10. "lyre; harp". The British Museum. It has four (Hemp) strings and two hide thongs
  11. "Saùng-Gauk Burmese 19th century". Metropolitan Museum of Art.
  12. Williamson, Robert M. (2010). Thomas D. Rossing (red.). The Science of String Instruments. Springer. pp. 167–170. ISBN 978-1-4419-7110-4.
  13. "Ngombi Tsogo mid-20th century". Metropolitan Museum of Art.
  14. "ARCHED HARP OR BOW HARP". The University of Edinburgh, Musical Instruments Museums Edinburgh. 5 wire strings attached to lateral pegs in neck and attached at lower end to perforated wooden plaque anchored into the belly
  15. "Muziek voor barokharp". lib.ugent.be. Besoek op 27 Augustus 2020.
  • Hierdie artikel is ’n vertaling van die artikel Harp in die Nederlandse Wikipedia, asook kort gedeeltes uit die inleiding van die gelyknamige Engelse Wikipedia-artikel, soos op 22 Oktober 2024, met enkele byvoegings.