Hoofligabofbal
Hoofligabofbal | |
2024 Hoofligabofbal-seisoen | |
Sportsoort | Bofbal |
---|---|
Gestig | Nasionale Liga (NL), 1876[1] Amerikaanse Liga (AL), 1901[2] Nasionale ooreenkoms onderteken, 1903[3] Saamgesmelt in een organisasie, 2000 |
Deelnemende lande | Verenigde State (29 spanne) Kanada (1 span) |
Aantal spanne | 30[4] |
Mees onlangse kampioen | Los Angeles Dodgers (8ste titel) [5] |
Major League Baseball (MLB) of in Afrikaans Hoofligabofbal, is 'n professionele bofballiga en die hoogste vlak van georganiseerde bofbal in die Verenigde State en die wêreld. Dit is een van die groot vier professionele sportligas in die Verenigde State en Kanada (die ander drie is die NFL (Amerikaanse voetbal), NHL (yshokkie) en die NBA (basketbal) ). Die MLB bestaan uit 30 mededingende klubs of franchises, wat gelykop verdeel is tussen die Amerikaanse liga (AL) en die Nasionale liga (NL), met 15 spanne elk. Daar is 29 spanne in die Verenigde State, met een span (die Toronto Blue Jays), wat in Kanada gebaseer is. Die NL en die AL, wat in respektiewelik 1876 en 1901 gestig is, het begin saamwerk in 1903 met die Nasionale Ooreenkoms, wat MLB die oudste professionele sportliga ter wêreld maak. Die NL en die AL was tot 2000 aparte regsentiteite, toe hulle geamalgameer is in een organisasie wat gelei word deur die Kommmissaris van Bofbal.[6] MLB se hoofkwarier is geleë in Manhattan, New York.
Die Cincinnati Red Stockings, wat in 1869 gestig is, was die eerste volslae professionele bofbalspan. Die eerste paar dekades van professionele bofbal is gekenmerk deur mededinging tussen die twee ligas, met spelers wat gereeld van een span of liga na 'n ander span of liga beweeg het. Hierdie praktyke is uiteindelik grootliks stopgesit deur die Nasionale Ooreenkoms van 1903, waarin die AL en die NL ooreengekom het om mekaar se spelerskontrakte te respekteer, insluitende die berugte "reserwe klousule" [7]
Die periode voor 1920 staan bekend as die "dead-ball era" omdat "home runs" (Afr: tuislopie[s]) selde geslaan is. Professionele bofbal is getref deur die "Black Sox-skandaal", 'n sameswering om die wenner van 1919 Wêreldreeks by wyse van wedstrydknoeiery te bepaal. Bofbal het gelukkig die skandaal oorleef, alhoewel met groot veranderinge wat die beheer van die spel betref, toe die relatief swak Nasionale Kommissie vervang is met die kragtige Kommissaris van Bofbal wat byna onbeperkte gesag oor die sport kon uitoefen.
MLB het in die dekade ná die "Black Sox-skandaal" in gewildheid toegeneem, en anders as groot ligas in ander sportsoorte, het dit die Groot Depressie en Tweede Wêreldoorlog verduur sonder dat enige van sy spanne gevou het. Kort na die oorlog het Jackie Robinson bofbal se kleurgrens verbreek.
Die AL en NL het in die 1950's en 1960's klubs bygevoeg en sommige het na ander stede verskuif. Spelers se ontevredenheid met gevestigde arbeidspraktyke, veral die reserweklousule, het gelei tot die organisasie van die "Major League Baseball Players Association" om kollektief te beding met die eienaars, wat weer gelei het tot die bekendstelling van "vrye agentskap" in bofbal.
Moderne stadions met kunsmatige-grasoppervlaktes het die spel in die 1970's en 1980's begin verander. Tuislopies het die spel gedurende die 1990's oorheers. In die middel 2000's het mediaberigte die gebruik van anaboliese steroïde onder MLB-spelers bekend gemaak; 'n 2006–07-ondersoek het die Mitchell-verslag opgelewer, wat bevind het dat baie spelers steroïede en ander prestasieverbeterende middels gebruik het, met ten minste een speler uit elke span wat hom hieraan skuldig gemaak het.
Elke span speel 162 wedstryde per seisoen, met "openingsdag" wat tradisioneel gedurende die eerste week van April gehou word. Ses spanne uit elke liga dring dan deur na 'n vier-ronde naseisoen-toernooi in Oktober, wat uitloop op die Wêreldreeks, 'n beste-van-sewe kampioenskapsreeks tussen die twee ligakampioene wat die eerste keer in 1903 gespeel is. Die New York Yankees het die meeste kampioenskappe met 27 titels. Die heersende kampioene is die Texas Rangers, wat die Arizona Diamondbacks tydens die 2023 Wêreldreeks verslaan het.
MLB is die naasrykste professionele sportliga volgens inkomste ná die National Football League (NFL).[8][9][10] Bofbalwedstryde word regdeur Noord-Amerika en in verskeie ander lande uitgesaai deur middel van televisie en radio, en word ook gestroom deur stromingsdienste op die internet. MLB spog met die hoogste totale bywoningssyfer ter wêreld; in 2018 het meer as 69.6 miljoen toeskouers wedstryde bygewoon.[11]
Minor League Baseball val ook onder die oorkoepelende sambreel van MLB. Dit bestaan uit laer-vlak spanne wat geaffilieer is met die MLB-klubs. MLB en die Wêreld-bofbal-sagtebalkonfederasie bestuur gesamentlik die internasionale World Baseball Classic toernooi.
Deelnemende spanne
[wysig | wysig bron]Amerikaanse Liga
[wysig | wysig bron]Die vyftien spanne wat met ingang 2024 deel vorm van die Amerikaanse Liga sien soos volg daaruit:
- Oostelike divisie (AL-Oos):
- New York Yankees
- Baltimore Orioles
- Boston Red Sox
- Tampa Bay Rays
- Toronto Blue Jays
- Sentrale divisie (AL-Sentraal):
- Cleveland Guardians (voor die 2021-seisoen bekend as die Cleveland Indians)
- Kansas City Royals
- Minnesota Twins
- Detroit Tigers
- Chicago White Sox
- Westelike divisie (AL-Wes):
- Houston Astros (skuif van die NL na die AL in 2013)
- Seattle Mariners
- Texas Rangers
- Oakland Athletics
- Los Angeles Angels (voorheen die Los Angeles Angels of Anaheim)
Nasionale Liga
[wysig | wysig bron]Die vyftien spanne wat met ingang 2024 deel vorm van die Nasionale Liga sien soos volg daaruit:
- Oostelike divisie (NL-Oos):
- Philadelphia Phillies
- Atlanta Braves
- New York Mets
- Washington Nationals
- Miami Marlins
- Sentrale divisie (NL-Sentraal):
- Milwaukee Brewers (skuif van die AL na die NL in 1998)
- St. Louis Cardinals
- Chicago Cubs
- Cincinnati Reds
- Pittsburgh Pirates
- Westelike divisie (NL-Wes):
- Los Angeles Dodgers
- Arizona Diamondbacks (of informeel, die D-backs)
- San Diego Padres
- San Francisco Giants
- Colorado Rockies[12]
Seisoenstruktuur
[wysig | wysig bron]Lentekamp
[wysig | wysig bron]Lentekamp ("Spring training") is 'n reeks oefening- en eksibisiewedstryde wat die begin van die gewone seisoen voorafgaan. Spanne hou oefenkampe in die state van Arizona en Florida, waar die vroeë warm weer spanne toelaat om te oefen sonder om bekommerd te wees oor die laat winterkoue. Lentekamp laat nuwe spelers toe om mee te ding om rooster- en posisieplekke, en bied aan bestaande spanspelers broodnodige oefentyd voor mededingende spel 'n aanvang neem. Die spanne wat lentekamp in Arizona hou, word gegroepeer in die "Cactus League",[13] terwyl spanne wat lentekamp hou in Florida bekend staan as die "Grapefruit League".[14] Lentekamp het nog altyd aanhangers aangetrek, met skares wat getrek word na die warmer klimaat en reis om die weer te geniet en te kyk hoe hul gunsteling spanne speel, en lente-oefening val gewoonlik saam met lente-vakansie vir baie studente.
Lente-opleiding duur tipies byna twee maande. Dit begin in die middel van Februarie en duur tot net voor openingsdag, tradisioneel die eerste week van April. Aangesien veral boulers baat vind by 'n langer oefenperiode, begin die boulers en vangers 'n paar dae voor die res van die span met lentekamp.[15]
Gewone seisoen
[wysig | wysig bron]Elke span speel 162 wedstryde pers seisoen. 'n Span se skedule word tipies ingedeel in drie-wedstryd reekse, d.w.s. opeenvolgende wedstryde teen dieselfde opponent. Af-en-toe word selfs twee- of vier-wedstryd reekse gespeel.[16]Uitgestelde wedstryde of voortsetting van opgeskorte wedstryde kan lei tot 'n ad hoc een- of vyf-wedstryd reeks. Alle wedstryde van 'n reeks word gewoonlik deur dieselfde span aangebied, en verskeie reekse word tipies saam gegroepeer. D.w.s. 'n span bied gewoonlik verskeie reekse in 'n ry aan, wat 'n tuisreeks genoem word, en volg dit op deur verskeie opeenvolgende wegreekse te speel. Spanne speel gewoonlik vyf tot sewe wedstryde per week. Die meeste wedstryde word snags geskeduleer, hoewel spanne dikwels dagwedstryde op openingsdag, vakansiedae en op die laaste dag van 'n reeks sal speel om spanne ekstra tyd te gee om na hul volgende teenstander te reis. Sondagwedstryde word gewoonlik gedurende die middag gespeel, wat spanne toelaat om na hul volgende bestemming te reis voor 'n Maandagaand-wedstryd.
In die huidige drie-divisie-struktuur (Oostelike- Sentrale- en Westelike-divisie, met elke divisie wat bestaan uit 5 spanne, en elke liga wat dus bestaan uit 15 spanne) per liga (AL of NL), speel elke span dus 19 wedstryde teen elk van sy vier divisie-teenstanders. In die huidige Amerikaanse liga [AL] se Oostelike-divisie (wat een van drie divisies is) sal dit byvoorbeeld beteken dat die New York Yankees, as deel van die AL se Oostelike-divisie, dus 19 wedstryde speel teen elk van die ander 4 spanne wat deel vorm van die Oostelike-divisie van die AL (die Baltimore Oreoles, Tampa Bay Rays, Boston Red Sox en die Toronto Blue Jays). Elke span speel een tuisreeks en een wegreeks, wat uit ses of sewe wedstryde bestaan, teen die 10 ander spanne in sy liga. 'n Span speel ook teen een van die divisies in die ander liga, wat elke jaar roteer, met twee teenstanders in 'n drie-wedstryd tuisreeks, twee teenstanders in 'n drie-wedstryd wegreeks, en een teenstander met vier wedstryde verdeel tussen tuis en weg. Bykomend hiertoe het elke span 'n interliga "natuurlike mededinger" (in baie gevalle sy eweknie in dieselfde metrogebied), waarteen hy elke jaar twee tuiswedstryde en twee wegwedstryde speel.
Met 'n onewe aantal spanne in elke liga (15), is dit nodig om twee spanne vir die meeste dae in die seisoen aan interligaspel te laat deelneem, behalwe wanneer twee of meer spanne 'n afdag het. Elke span speel 20 interligawedstryde deur die seisoen, gewoonlik met net een interligawedstryd per dag, maar vir een naweek aan die einde van Mei sal alle spanne aan 'n interligareeks deelneem. Voor 2013 was interligaspel anders gestruktureer: daar sou een naweek in die middel van Mei wees en nog 'n tydperk wat tipies uit die laaste twee derdes van Junie bestaan, waarin alle spanne interligawedstryde gespeel het (behalwe vir twee NL-spanne elke dag), en geen interligawedstryde is buite daardie datums geskeduleer nie. (Voor 2013 was seisoenlange interligaspel nie nodig nie, want elke liga het 'n ewe aantal spanne gehad. In 2013 het die Houston Astros na die Amerikaanse liga geskuif, sodat elke liga 15 spanne sou hê.). Voor die aanvaarding van die universele aangewese kolwer-reël ("universal designated hitter rule", DH) in 2022, het die gebruik van die aangewese kolwer (DH) daarvan afgehang of die tuisspan van die Amerikaanse liga is, waar die aangewese kolwer gebruik is, of die Nasionale liga, waar die aangewese kolwer nie gebruik is nie.
Met aanvang van die 2023-seisoen is die skeduleringsformule verander, met elke span wat elke jaar ten minste een reeks teen elke ander span speel. Elke span sal 14 wedstryde teen spanne in dieselfde divisie speel, met een drie-wedstryd- en een vier-wedstrydreeks by elke stadion, ses wedstryde teen spanne binne dieselfde liga maar in ander divisies, met een drie-wedstrydreeks by elke stadion, en een reeks van 3 wedstryde teen spanne in die ander liga, met tuisspan-status wat elke jaar wissel, behalwe vir elke span se aangewese interliga-mededinger, wat steeds uit twee reekse van twee wedstryde by elk van die spanne se tuisstadions bestaan.
Met aanvang van die 2022-seisoen, ding spanne mee om ses uitspeelwedstrydplekke in hul onderskeie ligas. Om 'n plek los te speel, moet 'n span óf bo aan sy divisie (oos, sentraal of wes) eindig, of plek verkry as een van drie "wildcardspanne" deur een van die drie beste rekords los te speel onder die nie-wenners in sy onderskeie liga (AL of NL).[17] Met die aanvaarding van 'n derde "wild card", is die voormalige praktyk om 'n wenner te bepaal by wyse van 'n bykomende gereelde-seisoen wedstryd (bekend as wedstryd 163) laat vaar ten gunste van 'n "tie-breaker" formule.
All-Star Game
[wysig | wysig bron]Aan begin-Julie tot middel-Julie, net nadat die halfpadpunt van die seisoen bereik is, word die Major League Baseball All-Star-wedstryd gehou tydens 'n vier-dag breuk in die gereelde seisoen skedule. Die All-Star-wedstryd bestaan uit 'n span spelers uit die Amerikaanse Liga (AL) - gelei deur die bestuurder van die vorige AL Wêreldreeks-span - en 'n span spelers uit die Nasionale Liga (NL), wat op soortgelyke wyse saamgestel word, in 'n eksibisiewedstryd. Van 1959 tot 1962 is twee wedstryde elke seisoen gehou, een in Julie en een in Augustus. Die aangewese-kolwer-reël ("Designated hitter rule [DH]) is vir die eerste keer in 1989 gebruik tydens die All-Star-wedstryd. Daaropvolgende wedstryde het 'n DH gebruik wanneer die wedstryd in 'n AL-stadion gespeel is. Sedert 2010 is die DH-reël van krag, ongeag die ligging.[18]
Die eerste amptelike All-Star-wedstryd is gespeel as deel van die 1933 World's Fair in Chicago, Illinois, en was die idee van Arch Ward, destydse sportredakteur van The Chicago Tribune.[19] Dit is aanvanklik beplan as 'n eenmalige gebeurtenis, maar die sukses daarvan het daartoe gelei dat dit 'n jaarlikse gebeurtenis geword het. Ward se bydrae is in 1962 deur MLB erken met die skepping van die "Arch Ward Trophy", wat elke jaar gegee word aan die All-Star-wedstryd se mees waardevolle speler ("Most Valuable Player" of kortweg MVP).[20]
Die 2002-wedstryd in Milwaukee het op omstrede wyse geëindig in 'n gelykop-telling tydens 'n wedstryd van 11 kolfbeurte, toe albei bestuurders se boulers gedaan was. In reaksie hierop, met ingang 2003, het die liga (AL of NL) wat die All-Star-wedstryd wen, tuisveldvoordeel tydens die Wêreldreeks (World Series): die ligakampioen hou die eerste twee wedstryde in sy eie stadion sowel as die laaste twee wedstryde (indien nodig). Die Nasionale Ligaspan kon egter vir 'n uitgerekte periode nie 'n All-Star-wedstryd wen nie, en het eers weer in 2010 tuisveldvoordeel behaal; nietemin het die NL hierdie nadeel oorkom, en was in drie van die sewe Wêreldreekse tussen 2003 en 2009 die wenspan.[21][22] Hierdie praktyk is na die 2016-seisoen afgeskaf.
MLB All-Stars van albei ligas het uniforms van hul onderskeie spanne tydens die wedstryd gedra, met een uitsondering. Tydens die 1933 All-Star-wedstryd het die Nasionale liga All-Star spanlede grys uniforms gedra met "National League" geskryf in vlootblou letters oor die voorkant van die spanhemp.[23][24]
Na-seisoense uitspeelrondtes ("Postseason")
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: World Series (bofbal).
Span | Reekse gewen |
Laaste reeks gewen |
Reekse gespeel |
---|---|---|---|
New York Yankees (AL) | 27 | 2009 | 41 |
St. Louis Cardinals (NL) | 11 | 2011 | 19 |
Oakland Athletics (AL) | 9 | 1989 | 14 |
Boston Red Sox (AL) | 9 | 2018 | 13 |
Los Angeles Dodgers (NL) | 8 | 2024 | 22 |
San Francisco Giants (NL) | 8 | 2014 | 20 |
Cincinnati Reds (NL) | 5 | 1990 | 9 |
Pittsburgh Pirates (NL) | 5 | 1979 | 7 |
Detroit Tigers (AL) | 4 | 1984 | 11 |
Atlanta Braves (NL) | 4 | 2021 | 10 |
Chicago Cubs (NL) | 3 | 2016 | 11 |
Baltimore Orioles (AL) | 3 | 1983 | 7 |
Minnesota Twins (AL) | 3 | 1991 | 6 |
Chicago White Sox (AL) | 3 | 2005 | 5 |
Philadelphia Phillies (NL) | 2 | 2008 | 8 |
Cleveland Guardians (AL) | 2 | 1948 | 6 |
Houston Astros (van die Nasionale Liga na die Amerikaanse Liga in 2013) | 2 [AL] | 2022 | 5 (4 [AL], 1 [NL]) |
New York Mets (NL) | 2 | 1986 | 5 |
Kansas City Royals (AL) | 2 | 2015 | 4 |
Miami Marlins (NL) | 2 | 2003 | 2 |
Toronto Blue Jays (AL) | 2 | 1993 | 2 |
Texas Rangers (AL) | 1 | 2023 | 3 |
Arizona Diamondbacks (NL) | 1 | 2001 | 2 |
Washington Nationals (NL) | 1 | 2019 | 1 |
Los Angeles Angels (AL) | 1 | 2002 | 1 |
Tampa Bay Rays (AL) | 0 | 2 | |
San Diego Padres (NL) | 0 | 2 | |
Colorado Rockies (NL) | 0 | 1 | |
Milwaukee Brewers (van die AL na die NL in 1998) | 0 | 1 [AL] | |
Seattle Mariners (AL) | 0 | 0 |
Die gewone seisoen eindig ná die eerste Sondag in Oktober (of die laaste Sondag in September), waarna twaalf spanne die naseisoense uitspeelrondes betree. Hierdie twaalf spanne bestaan uit die ses divisiekampioene en ses "wildcard"-spanne: dit wil sê die spanne met die beste algehele wen-verloorrekord in elk van die ses divisies, en die drie spanne in elke liga met die beste rekord, buiten die divisiekampioene. Vier rondtes reekswedstryde word gespeel om die kampioen te bepaal:
- Wild Card-reeks, 'n beste-van-drie uitspeelrondte tussen die laagste geplaaste divisie-kampioen (oos, sentraal of wes) en die drie "wild-card spanne". Die hoogste geplaaste span bied die drie wedstryde aan.
- American League Division Series (Amerikaanse Ligadivisiereeks) en National League Division Series (Nasionale Ligadivisiereeks), elk 'n beste-van-vyf-wedstryd-reeks.
- American League Championship Series (Amerikaanse Liga kampioenskapsreeks) en National League Championship Series (Nasionale Ligakampioenskapsreeks), elk 'n beste-van-sewe-wedstryd-reeks tussen die wenspanne van die Divisiereeks. Die ligakampioene van elke liga staan bekend as die wimpelwenners ("pennant winners").
- Wêreldreeks, 'n beste-van-sewe reeks gespeel tussen die wimpelwenners van elke liga.
Binne elke liga word die divisiewenners 1ste, 2de en 3de gekeur, gebaseer op hul wen-verloorrekord. Die spanne met die eerste, tweede en derde beste rekords onder die nie-divisiewenners sal onderskeidelik 4de, 5de en 6de gekeur word. Dwarsdeur die na-seisoen word tuisveldvoordeel toegeken aan die span met die hoër wen-verloorrekord, met "tiebreakers" toegepas indien nodig. In die "Wild Card"-reeks sal die derde gekeurde klub gasheer speel vir die sesde gekeurde, en die vierde gekeurde sal gasheer speel vir die vyfde gekeurde, met die wenners wat deurdring na die Divisiereeks. In die Divisiereeks speel die eerste gekeurde teen die derde/sesde gekeurde, en die tweede gekeurde teen die vierde/vyfde gekeurde. Die wenners van daardie wedstryde sal in hul onderskeie ligas (Amerikaanse of Nasionale Liga) se kampioenskapsreekse vir die ligawimpel kompeteer, en die wimpel-wenners sal deurdring na die Wêreldreeks.[25] Sedert 2017 word tuisveldvoordeel in die Wêreldreeks bepaal deur die normale-seisoenrekords van die twee ligakampioene, wat die stelsel vervang het wat vir die voorafgaande 14 seisoene gebruik is waartydens die kampioen van die liga wat die All-Star-wedstryd gewen het, tuisveldvoordeel verkry.
Die span met tuisveldvoordeel in die "Wild Card"-reeks sal al drie wedstryde aanbied, maar gedurende die daaropvolgende reekse (divisie-, kampioenskaps- en wêreldreeks) word tuisveldvoordeel tussen die twee spanne verdeel in 'n 2-3-2-formaat, met die beter span wat wedstryde 1 en 2 aanbied, sowel as wedstryd 6 en 7 (indien nodig). Met hierdie formaat speel tuisveldvoordeel gewoonlik nie 'n groot rol in die na-seisoen nie, tensy die reeks sy maksimum aantal wedstryde gebruik. Omdat die eerste twee wedstryde van 'n uitklop-reeks egter deur dieselfde span aangebied word, sal 'n span wat met twee oorwinnings begin waarskynlik momentum hê na die wisseling van venue.[26][27]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Langs, Sarah (29 Mei 2021). "Donaldson scores MLB's 2 millionth run". MLB.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Junie 2021. Besoek op 4 Maart 2022.
Official MLB history dates to 1876, when the National League began play. According to research by MLB's official historian, John Thorn, the first run came on April 22 of that year – in the first game of the season, between the Boston Red Stockings, now the Braves, and the Philadelphia Athletics.
- ↑ "Franchise Timeline". WhiteSox.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2023. Besoek op 4 Maart 2022.
- ↑ "The Commissionership: A Historical Perspective". MLB.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Julie 2016. Besoek op 11 Maart 2016.
The strength of the American League grew as an increasing number of National League players opted for the higher salaries offered by the new association. Faced with the prospect of losing many of its best players, the NL chose peace and declared the AL its equal in 1903. This led to a new National Agreement and the birth of the World Series. The American and National Leagues were established as major leagues and all other associations comprised the minor leagues, which fell under the jurisdiction of the National Association of Professional Baseball Leagues.
- ↑ "MLB Team Contact Information". MLB.com. MLB Advanced Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2018. Besoek op 10 Oktober 2018.
- ↑ Castrovince, Anthony. "Dodgers upend Yanks with historic comeback for 8th World Series title". mlb.com. MLB. Besoek op 1 November 2024.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: url-status (link) - ↑ Chass, Murray (16 September 1999). "BASEBALL; League Presidents Out As Baseball Centralizes". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Junie 2018. Besoek op 29 Mei 2018.
- ↑ In Noord-Amerikaanse sport was die reserweklousule 'n deel van 'n spelerskontrak wat bepaal het dat die regte op spelers deur die span behou word met die kontrak se verstryking. Spelers onder hierdie kontrakte was nie vry om nog 'n kontrak met 'n ander span aan te gaan nie. Sodra 'n kontrak onderteken is, kon spelers, volgens die span se diskresie, heraangewys, verhandel, verkoop of vrygelaat word. Die enigste onderhandelingstaktiek vir die meeste spelers was om uit te hou tydens kontraktyd en om te weier om te speel tensy hul voorwaardes nagekom is. Spelers was verplig om 'n nuwe kontrak te onderhandel om nog 'n jaar vir dieselfde span te speel of om te vra om vrygelaat of verhandel te word. Hulle het geen vryheid gehad om van spanne te verander nie tensy hulle 'n onvoorwaardelike vrylating ontvang het nie. In die dae van die reserweklousule was dit die enigste manier waarop 'n speler 'n vrye agent kon wees.
- ↑ Young, Jabari (22 Desember 2019). "Major League Baseball revenue for 2019 season hits a record $10.7 billion". CNBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2020. Besoek op 18 Junie 2020.
- ↑ "11 Most Profitable Sports Leagues – Their Value Will Surprise You – Athletic Panda Sports Editors". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2020.
- ↑ "www.sap.com" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 25 Junie 2020.
- ↑ Brown, Maury (3 Oktober 2018). "Why MLB Attendance Dropped Below 70 Million For The First Time In 15 Years". Forbes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2018. Besoek op 19 April 2016.
- ↑ "All 30 MLB Team Locations". MLB. Besoek op 23 Augustus 2024.
- ↑ "Cactus League". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 13 Oktober 2013.
- ↑ "Florida's Grapefruit League". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2013. Besoek op 13 Oktober 2013.
- ↑ "MLB: Spring Training". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2013. Besoek op 13 Oktober 2013.
- ↑ "MLB Schedule". MLB.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2019. Besoek op 14 Oktober 2013.
- ↑ "MLB: Regular Season". MLB.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Junie 2018. Besoek op 14 Oktober 2013.
- ↑ "Rosters Expanded For the All-Star Game". The New York Times. 28 April 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2017. Besoek op 12 Mei 2010.
- ↑ Newman, Mark (10 Julie 2006). "All-Star MVP Awaits Your Vote". MLB.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Maart 2014. Besoek op 13 Junie 2011.
- ↑ "2003 World Series (4–2): Florida Marlins (91–71) over New York Yankees (101–61)". baseball-reference.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 November 2020. Besoek op 6 September 2008.
- ↑ "2006 World Series: St. Louis Cardinals over Detroit Tigers (4–1)". Baseball-Reference.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2022. Besoek op 24 September 2020.
- ↑ Lamont, Buchanan (1951). The World Series and Highlights of Baseball. E. P. Dutton & Co. p. 120.
- ↑ Okkonen, Marc (1991). Baseball uniforms of the 20th century: The official major league baseball guide. Sterling Pub. Co. p. 7. ISBN 978-0-8069-8490-2.
- ↑ "MLB Playoff Format 2013: Tiebreaker Scenarios, Wild Card Games and Seedings". Bleacher Report. 23 September 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2013. Besoek op 13 Oktober 2013.
- ↑ Wêreldreeks, par. 3.2.2 (Game-by-Game), nota 2; met ingang 2008 is die Los Angeles Dodgers-span van 1981 die laaste span wat 'n Wêreldreeks gewen het nadat hulle die eerste twee wegwedstryde verloor het.
- ↑ "Major League Baseball announces revamped postseason schedule". MLB.com. 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2008. Besoek op 7 September 2008.
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]- Banner, Stuart. The Baseball Trust: A History of Baseball's Antitrust Exemption. New York: Drukpers van die Universiteit van Oxford, 2013.
- Bouton, Jim. Ball Four: My Life and Hard Times Throwing the Knuckleball in the Major Leagues. World Publishing Company, 1970.
- Buchanan, Lamont, The World Series and Highlights of Baseball, E. P. Dutton & Company, 1951.
- Cohen, Richard M., Neft, David, Johnson, Roland T., Deutsch, Jordan A., The World Series, 1976, Dial Press.
- Deutsch, Jordan A., Cohen, Richard M., Neft, David, Johnson, Roland T., The Scrapbook History of Baseball, Bobbs-Merrill Company, 1975.
- King, Corretta. Jackie Robinson. New York: Chelsea House Publishers, 1987.
- James, Bill. The Historical Baseball Abstract. New York: Villard, 1985 (met baie daaropvolgende uitgawes).
- Lanigan, Ernest, Baseball Cyclopedia, 1922, oorspronklik gepubliseer deur Baseball Magazine.
- Lansch, Jerry, Glory Fades Away: The Nineteenth Century World Series Rediscovered, Taylor Publishing, 1991. ISBN 0-87833-726-1.
- Murphy, Cait. Crazy '08: How a Cast of Cranks, Rogues, Boneheads, and Magnates Created the Greatest Year in Baseball History. New York: Smithsonian Books, 2007. ISBN 978-0-06-088937-1.
- Okkonen, Marc. Baseball Uniforms of the 20th Century: The Official Major League Baseball Guide, 1991.
- Ritter, Lawrence. The Glory of their Times. New York: MacMillan, 1966. Hersiene uitgawe, New York: William Morrow, 1984.
- Ross, Brian. "Band of Brothers". Minor League News, 6 April 2005. Beskikbaar by Minor League News.
- Seymour, Harold. Baseball: The Early Years. 2v. New York: Oxford University Press, 1960. ISBN 0-19-500100-1.
- Turkin, Hy, en Thompson, S. C., The Official Encyclopedia of Baseball, 1951, A.S. Barnes and Company
- Tygiel, Jules. Past Time: Baseball as History. New York: Drukpers van die Universiteit van Oxford, 2000. ISBN 0-19-514604-2.
- The New York Times, The Complete Book of Baseball: A Scrapbook History, 1980, Bobbs Merrill.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- MLB.com Amptelike webwerf