Gaan na inhoud

Martinus Postma

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Marthinus Postma)
Ds. Martinus Postma
Ds. Martinus Postma
Ds. Martinus Postma

Naam Martinus Postma
Geboorte 14 Julie 1855
Zwolle, Nederland
Sterfte 26 Julie 1926 (op 71)
Fordsburg, Transvaal
Kerkverband Gereformeerd
Gemeente(s) Middelburg, KP 1890–1897
Johannesburg 1897–1904
Pretoria 1904–1906
Johannesburg 1909–1926
Jare aktief 1890–1926
Kweekskool Burgersdorp

Ds. Martinus Postma (Zwolle, Nederland, 14 Julie 1855 - Fordsburg, Johannesburg, 26 Julie 1926) was predikant, onder meer die eerste Gereformeerde predikant aan die Witwatersrand, en professor in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]

Postma was die vierde en jongste kind uit die derde huwelik van die grondlegger van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, ds. Dirk Postma, op 11 Februarie 1850 met Ida Sijpkens (†30 Maart 1857). Sy ouer broer, ds. Petrus Postma, was eweneens 'n Gereformeerde predikant en sy voorganger as literariese professor aan die Gereformeerde Teologiese Skool op Burgersdorp. Hulle het Nederland saam met hul vader, wat toe 'n wewenaar was ná die dood van hul moeder die jaar vantevore, op 22 April 1858 verlaat en sit op 9 Julie voet aan wal in Simonstad. Die gesin bly net 'n kort ruk in Kaapstad, waarna hulle na Durban vertrek omdat die predikant se eintlike bestemming Transvaal was, waarheen die 1858-sinode van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Leiden hom gestuur het om ondersoek in te stel na die godsdienstige toestand van die Nederlanders se volksgenote in die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Opleiding

[wysig | wysig bron]
'n Groep predikante op die Algemene Sinode te Rustenburg, 1891. Voor van links: J.L. Maury, Johannes de Ridder, M.P.A. Coetsee (sr.), prof. J. Lion Cachet, A.A.J. de Klerk Coetsee, M.P.A. Coetsee (jr.). Agter: L.P. Vorster, W.J. Snyman, P.S. Snyman, M. Pelser, P. Postma, M. Postma, D. Postma, L.J. du Plessis.

Terwyl hul vader predikant is van die eerste Gereformeerde gemeente in Suid-Afrika, Rustenburg, trou hy met op 24 November 1859 met Susanna Lasea Kruger (†3 Oktober 1869). Die gesin bly op Rustenburg waar die jonge Martinus en Petrus van 'n baie vroeë ouderdom reeds lesse in Hebreeus, Latyn en Grieks by hul pa gekry en ook aan die Christelike skool op Rustenburg. Toe sy vader 'n beroep na die gemeente Burgersdorp in die Noordoos-Kaap aanvaar waar hy die moontlikheid van die stigting van 'n teologiese skool vir die jong kerkverband moes ondersoek, sit die kinders hul skoolopleiding voort onder dr. John Brebner op Burgersdorp. Dr. Brebner is in 1870 benoem tot professor aan die Gill-kollege op Somerset-Oos. Die 15-jarige Marthinus vergesel hom daarheen en behaal daar die B.A.-graad deur die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop.

Professoraat

[wysig | wysig bron]
Ds. Postma en sy eerste vrou, Elizabeth, gebore Spiller. Veertien kinders is uit dié huwelik gebore.

Van 1875, toe hy skaars 20 jaar oud was, tot 1880 was hy die grondlegger van die openbare skool op Aliwal-Noord. Daarna volg hy sy broer op as tweede professor litterarum aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool op Burgersdorp, waar hy bly tot 1890. Intussen behaal hy deur privaat studie die M.A.-graad in die klassieke tale, een van die eerstes wat dié graad in Suid-Afrika verwerf. Onder sy vader se leiding lê hy ook die kandidaatseksamen in die teologie af.

In die bediening

[wysig | wysig bron]
Ds. Postma en sy eggenote, Bettie, se kinders, skoonkinders en kleinkinders.
Die kerkraad van Postmasburg en besoekende predikante, onder andere dr. Casparus de Wet (eerste ry, tweede van links), J.G.H. van der Walt (eerste ry, vierde van links) en in die tweede ry vanaf vierde van links: Pieter Bingle, Taetse Hamersma, Martinus Postma, G.H.J. Kruger, Dirk Postma en J.H. Kruger, in 1918.

In 1890 word ds. Postma predikant in die gemeente Middelburg, Kaap bevestig en dien die gemeente tot 1897. Ds. Postma pak die saak van die onderwys in die gemeente dadelik met krag aan en hy wys die kerkraad op die noodsaaklikheid van die oprigting van skole. Hy is ten gunste van staatsondersteunde skole solank die Godsdiensonderwys nie daarmee skade sou ly nie. Sou die Godsdiensonderwys in sulke skole nie tot sy reg kom nie, moes vrye Christelike skole gestig word. 'n Opname het aan die lig gebring dat daar teen die einde van 1890, 250 kinders van skoolgaande ouderdom in die gemeente was, van wie net 61 onderwys ontvang het. Ds. Postma wys die kerkraad daarop dat dit sy plig is om toe te sien dat hierdie kinders ook onderwys sal ontvang. Vir die doel word 'n skoolfonds gestig en 'n vereniging in die lewe geroep, waarvan die lede elk 6d. per week sou bydra. Aan die begin van 1891 is twee staatsondersteunde skole gestig, een op Wolvenkop en een op Wolvenfontein (in die wyk Willem Burgersrivier) waar altesaam 58 kinders van die gemeente onderwys ontvang het. Daar was nou altesaam vier skole in die distrik onder beskerming van die Gereformeerde Kerk.

In 'n verslag aan die Algemene Vergadering word vermeld dat die kinders in die skole ook voorberei word vir die belydenis van geloof, 'n vereiste wat destyds m.b.t. die skole baie sterk op die voorgrond gestel is. In 1892 kom ook die skool op Vogelfontein by en ontvang altesaam 84 kinders van die gemeente in die distrik onderwys. Uit jaarlikse verslae aan die Algemene Vergadering blyk dit dat die kerkraad goeie toesig oor die onderwys gehou het en dat die getal skole en leerlinge onder toesig van die Gereformeerde Kerk steeds toegeneem het. So het in 1893 140 Gereformeerde kinders in nie minder nie as 12 skole onderwys ontvang. Hierdie vordering ten opsigte van die onderwys in daardie jare het die gemeente onteenseglik te danke gehad aan die onvermoeide ywer en besieling van ds. Postma. Met sy geesdrif vir die onderwys van die kinders kon hy ook die gemeente inspireer en het die fondamente vir die onderwys in hierdie geweste deeglik gelê. Swaar tye gedurende die laat 1890's en die daaropvolgende oorlog het ook sy invloed op die skole gehad sodat baie gesluit moes word.

Na die Rand

[wysig | wysig bron]
Ds. Postma vier sy 70ste verjaardag in 1925 in Fordsburg. Hy is net 'n jaar en 10 dae later oorlede.
Die tweede kerkgebou van die Johannesburgse Gereformeerde gemeente, nes die eerste in Mintweg, Fordsburg. Dis in 1903 in gebruik geneem teen 'n koste van £3 750 nadat die ou gebou verkoop is vir £3 000.
Ds. Postma en ds. J.V. Coetzee, sy medeleraar in Johannesburg van 1918 tot 1925.
Familiefoto met ds. Postma se 70ste verjaarsdag, 1924. Die teenwoordiges (nie in die regte volgorde nie) is: Lydia van Tonder, Stella van Tonder, Johannes van Tonder, Marthinus Coetzee, Johannes Coetzee, Ferdinand Postma jr., Martinus Postma, Johannes Postma, Fanie Vorster, Henning Vorster, Eunice Venter, Ida Mellema, Mientjie van Tonder, Elize Mellema, Babsie Coetzee, Amelia Vorster, Hulda Vorster, Magrieta Postma, Eunice Postma, prof. Ferdinand Postma, Adelaide van der Reyden, Dirk Postma, mev. Postma, ds. Louis Vorster, mev. Vorster, mev. Hester Venter, mev. Ignatius Vorster, Dirk Mellema, Beyers Vorster, Salomie Postma, J.J. van Tonder, Robert van Tonder, mev. Lydia van Tonder, Marthinus Vorster, Gretchen Postma, Betsie Postma, Kitty Coetzee, Willemina Vorster, Sophia Postma, Sus Vorster, Betsie Mellema, Nanda Mellema, ene Lessing.

Hy wys 'n benoeming tot professor in die teologie aan die Teologiese Skool op Burgersdorp van die hand en neem in 1897 'n beroep na Johannesburg-Krugersdorp aan as eerste Witwatersrandse predikant van dié kerkverband. Baie Doppers (Gereformeerde lidmate) het hulle ná die stigting van Johannesburg in 1886 aan die Rand kom vestig, maar tydens die eerste 10 jaar ná die ontdekking van die goudveld is daar geen aparte gemeente vir die Rand gestig nie. Tot 1896 is lidmate deur predikante van Pretoria bedien. 'n Aantal lidmate het 'n paar standplase in Mintweg, Fordsburg, gekoop en 'n kerkgebou ter waarde van £719 daar opgerig. Tydens die dinamietontploffing op 19 Februarie 1896 is dié geboutjie, soos ook die nuwe gebou van die NG gemeente Fordsburg, verwoes. Die Relief Committee het £750 uit sy fonds aan die gemeente betaal.

Op die algemene vergadering van die Gereformeerde Kerk op Heidelberg van 16 Maart 1896 is besluit om twee gemeentes op die Witwatersrand te stig. Krugersdorp is op 25 April 1896 van Rustenburg afgestig en op 23 Mei is die Johannesburgse gemeente met 200 lidmate gestig. Die predikant van Pretoria, ds. Petrus Postma, sou as konsulent kerkdienste in Johannesburg teen £5 per diens waarneem, maar teen die einde van daardie eerste jaar besluit die kerkraad van Johannesburg om saam met Krugersdorp 'n eie predikant te beroep. Elke gemeente sou 'n proporsionele deel volgens hul aantal lidmate tot die jaarlikse salaris van £400 bydra. Ds. P.S. Snyman het die beroep bedank, maar 'n geslaagde beroep is daarna op ds. Martinus Postma uitgebring. Hy is op 28 Augustus 1897 as die eerste Gereformeerde predikant in Johannesburg bevestig.

Die gemeente het vinnig gegroei en teen die einde van 1896 was daar reeds 350 belydende lidmate. Terugslae in die landbou het Afrikaners stadwaarts gedwing sodat daar teen 1898 reeds 900 siele in die Gereformeerde gemeente Johannesburg was. Die gemeente was so uitgestrek en spoedig so groot dat die kerkraad dit oorweeg het om 'n tweede predikant te benoem, maar dié planne moes laat vaar word met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog.

Ná die Driejarige Oorlog het ds. Postma weer versoek dat 'n tweede predikant beroep word omdat dit onmoontlik was vir een predikant om al die werk te behartig. Die kerkraad kom hom deels tegemoet deur te besluit om Braamfontein en Fordsburg as twee afsonderlike afdelings te skei, hoewel dit nog een gemeente sou wees. Tydens 'n kerkraadsvergadering van die afdeling Braamfontein op 27 Junie 1903 is besluit om die kerkraad van Johannesburg te versoek dat hulle 'n aanbeveling op die eersvolgende Algemene Vergadering in Januarie 1904 moes maak dat Braamfontein tot afsonderlike gemeente afgestig moes word. Ds. Postma se las is wel verlig toe Krugersdorp in 1904 'n eie predikant kry, sy seun ds. Dirk Postma, al het die Algemene Vergadering nie aan Braamfontein se versoek voldoen nie. Die kerkraad het toe liewer hul goedkeuring daaraan verleen dat die kombinasie Johannesburg-Krugersdorp verbreek moes word. Ds. W.J. de Klerk het egter in 1907 van Krugersdorp vertrek (ds. Dirk Postma het reeds in Mei 1906 teruggekeer na Burgersdorp) sodat Johannesburg en Krugersdorp weer in Junie 1907 gekombineer het. Op ds. Postma se aandrang is die twee dele egter finaal teen einde April 1910 in twee afsonderlike gemeentes geskei.

Eers skaars ses maande voor sy dood, toe sy gesondheid reeds ernstig versleg het, kry ds. Postma in Desember 1918 'n medeleraar in die persoon van prop. J.V. Coetzee, wat hom moes help om die uitgestrekte Johannesburg te bedien. In 1921, twee jaar ná ds. Postma se aftrede en dood, het die gemeente uit 1 285 belydende en 1 405 dooplidmate bestaan. Eers op 29 Februarie 1924 kom Jeppe (wat as Johannesburg-Oos sou bekendstaan) as tweede Gereformeerde gemeente in Johannesburg tot stand en net die volgende dag, op 1 Maart 1924, ook Melville (wat as Johannesburg-Noord sou bekendstaan).

Ds. Postma het in Johannesburg gearbei tot sy dood, behalwe van 1904 tot 1908 toe hy eers in Pretoria en daarna op Nylstroom predikant was. Van Februarie 1913 tot Augustus 1914 neem hy in die literariese departement van die Teologiese Skool, wat intussen in 1905 na Potchefstroom verhuis het, waar in die plek van sy seun prof. Ferdinand Postma, wat met studieverlof afwesig was.

Dit was onder sy leiding dat die Gereformeerde Kerk met sendingwerk onder gekleurdes aan die Rand begin het. 'n Geboutjie is teen £2-10/- per maand vir dié doel gehuur, maar weens die swak bywoning van die kerkdienste is dit later gestaak. Onder sy leiding is ook gedurende 1903 die Gereformeerde Jongelieden Vereeniging van Johannesburg gestig om "geestelike en maatschappelijke kennis op te wekken en te bevorderen".

Gesinslewe

[wysig | wysig bron]
Ds. Postma, waarskynlik kort voor sy dood afgeneem.

Uit Postma se huwelik met Elizabeth Wilhelmina Jossina Spiller van Burgersdorp is 14 (volgens ander bronne 10) kinders gebore, van wie net ses hul vader oorleef het, onder wie die onderwyseres Adelaide Postma, wat in 1905 met N.D. van der Reyden getroud is. Sy eggenote sterf in 1907 en in Januarie 1909 trou hy met Hester Johanna de Klerk, weduwee van wyle ds. Jan Hendrik Vorster. Twee seuns, ds. Dirk Postma en prof. Ferdinand Postma, het hulle as teoloë onderskei.

Waardering

[wysig | wysig bron]

Dr. G.P.L. van der Linde skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek oor ds. Postma: "Gelouter deur swak gesondheid, geestelike stryd en die gedurige aanraking met die dood in die kring van sy dierbares, styg Postma bo sy tydgenote uit in lewensreis en innige vroomheid gepaard met nederigheid en 'n vreeslose moed ter handhawing van die waarheid. Hy was meer as herder van sy eie gemeente; onder die Randse Afrikaners, vreemd in die nuwe kosmopolitiese stadsomgewing en later neergeslaan deur oorlogsgeweld, is hy een van die geestelike leiers tot bewaring van sy volk se geestelike erfenis, veral deur die bevordering van die Christelike-Nasionale Onderwys."

Galery

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • De Kock, W.J. (hoofred.) Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel I. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1968.
  • Potgieter, D.J. (hoofred.) Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd., 1973.
  • Van der Vyver, dr. G.C.P. My erfenis is vir my mooi. Potchefstroom: Kalvyn Jubileum Boekefonds, 1969.
  • Vogel, ds. Willem. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2012. Potchefstroom: Administratiewe Buro, 2011.
  • Stals, prof. dr. E.L.P (red.). 1978. Afrikaners in die Goudstad. Deel 1. 1886 - 1924. Kaapstad en Pretoria: HAUM.